×

Ons het nuus vir jou.

Registreer gratis op Vrye Weekblad en ontvang nuusbriewe per e-pos, lewer kommentaar en meer.
Registreer nou
‘Dis die buitelanders se skuld!’ – en dit gaan erger word

SONDEBOKKE VAN BUITE

‘Dis die buitelanders se skuld!’ – en dit gaan erger word

Xenofobiese mobilisering is steeds besig om nuwe laagtepunte te bereik, skryf JAN BORNMAN.

  • 16 September 2022
  • Nuus & Politiek
  • 5 min om te lees
  • Artikel 6 van 24
  • Jan Bornman
Image: ANGELA TUCK

LEDE van die vigilantegroep Operation Dudula het onlangs vermeende buitelandse pasiënte by staatshospitale en klinieke geteister en probeer intimideer. Dudula, wat “uitdruk” of “uitskuif” in Zoeloe beteken, het sedert die begin van die jaar sy voetspoor oor die land uitgebrei nadat hy in Junie verlede jaar sy eerste optog in Soweto gehou het.

Die groep het dit sedert sy ontstaan duidelik gemaak dat geen  immigrante in Suid-Afrika welkom is nie, maar het veral klem gelê op ongedokumenteerde en sogenaamde onwettige immigrante. Die groep en sy charismatiese voormalige leier Nhlanhla “Lux” Mohlauli se weë het onlangs geskei ná verskille oor watter immigrante in hul visier sou wees.

Lux beklemtoon dat hy en sy “Soweto Parliament" net van “onwettige” immigrante ontslae wil raak, terwyl Operation Dudula álle immigrante wil verwyder. Intussen het Dudula hulle teistering van immigrante verskerp, en meer voortvarend en gevoelloos geraak in hulle aksies.

Eers het Dudula twee weke terug buite die Kalafong-hospitaal in Atteridgeville wes van Pretoria pasiënte genader en hulle gevra om identifikasie te wys en te sê watter tale hulle praat. GroundUp het berig dat lede van Dudula pasiënte met donkerder velle een vir een gegroet het en na hulle aksent en uitspraak geluister het. Die groep het die week daarna in Hillbrow in die Johannesburgse middestad en in Rosettenville suid van die stad dieselfde by klinieke gedoen.

Dit was nadat 'n video aan die lig gekom het waarop gesien kan word hoe Phophi Ramathuba, Limpopo se LUR vir gesondheid, teen ’n Zimbabwiese pasiënt uitvaar en haar daarvan beskuldig dat sy 'n las op die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel is.

Die sentiment dat immigrante ’n besondere las op die gesondheidstelsel sou plaas, is al vroeër verwoord deur dr. Aaron Motsoaledi toe hy nog nasionale minister van gesondheid was. Motsoaledi kon afgesien van anekdotes nooit sulke uitlatings met syfers of ander feite ondersteun nie, maar dit het verskeie ander politici nie gekeer om hom te eggo nie.

In sy huidige rol as minister van binnelandse sake het Motsoaledi in dieselfde trant voortgegaan. Onder sy leierskap het die departement die Wet op die Grensbestuurgesagsowerheid aanvaar gekry – téén die advies van vele kenners in die veld. Dit gaan belastingbetalers biljoene rande kos om dié owerheid tot stand te bring om dienste te lewer wat veronderstel is om reeds ander staatsagentskappe soos die Inkomstediens, die polisie en die departement van binnelandse sake se werk te wees.

Dit het Motsoaledi se departement tydens die Covid-inperkings meer as twee jaar gevat om ontvangskantore vir vlugtelinge en  asielsoekers oop te maak. Gevolglik het talle gedokumenteerde asielsoekers se permitte verval, en kon nuwe aankomelinge ook nie die nodige dokumente bekom om wettig in die land te bly nie.

Dít alles het gebeur terwyl die regering onder Motsoaledi se leiding as minister van binnelandse sake besluit het om nie vrystellingspermitte vir Zimbabwiërs (ZEP’s) te hernu nie. Dié besluit het nie net die hele kwessie onnodig verder verpolitiseer nie, maar ook veroorsaak dat ander gewetenlose en opportunistiese karakters, insluitend politici, hul fokus op Zimbabwiërs geplaas het. Die teistering van Zimbabwiërs het ’n hoogtepunt bereik toe Elvis Nyathi, ’n immigrant van Zimbabwe, in April wreed in Diepsloot vermoor is.

Die teistering van Zimbabwiërs het ’n hoogtepunt bereik toe Elvis Nyathi, ’n immigrant van Zimbabwe, in April wreed in Diepsloot vermoor is.

As gevolg van die verpolitisering van die ZEP’s en vertragings by verskeie regeringsdepartemente om om nuwe permitte aansoek te doen, het binnelandse sake onlangs die sperdatum met ses maande uitgestel. Dié besluit is met groot ontevredenheid begroet deur 'n aantal mense en organisasies, insluitend Operation Dudula, wat gesê het hulle wil die Konstitusionele Hof nader om die besluit te laat hersien.

Herman Mashaba van ActionSA het gesê sy party het “met groot teleurstelling en kommer verneem” dat die ZEP’s vir nog ses maande geldig sou wees: “Suid-Afrika is in die greep van misdaad, ekonomiese druk en ’n oënskynlik oneindige oorvloed van maatskaplike euwels wat na bewering weens die instroming van migrante en meestal deur ongedokumenteerde en onwettige immigrante is,” het Mashaba in ’n verklaring ná die besluit gesê.

Dié “teleurstelling en kommer” oor mense wat behoorlik in Suid-Afrika se immigrasiestelsel gedokumenteer is, is nie net vreemd nie, maar ook heeltemal misplaas. Dit strook ook met Mashaba se nalatenskap as burgemeester in Johannesburg, waar hy meegedoen het om die politiek van xenofobie op nasionale vlak te normaliseer en gewild te maak.

In 2018 het hy byvoorbeeld ná die arrestasie van 'n vermeende buitelandse straatsmous getweet: “Ons gaan [nie] terugsit en toelaat dat mense soos jy vir ons Ebolas bring in die naam van kleinsakeondernemings nie. Gesondheid van ons mense eerste. Ons gesondheidsgeriewe is reeds tot die uiterste gestrek.”

Nie net was dit nog ’n geval van ’n aantyging sonder feite nie, maar Mashaba het hom ook skuldig gemaak aan die bevordering van idees soos dat immigrante vuil of verantwoordelik vir siektes is.  Net so het Nhlanhla Lux gepraat van hulle “operasies” wat immigrante sal teiken en gemeenskappe sal “skoonmaak”.

Sulke retoriek, saam met die ANC-regering se onvermoë om selfs net basiese dienste te lewer, sal wind in die seile wees van opportunistiese vigilantegroepe soos Operation Dudula. Die kans is bitter skraal dat die leuens en verdagmakery van immigrante minder sal word soos wat die ANC-verkiesingskonferensie in Desember nader kom, en nog meer so in die aanloop tot die nasionale verkiesing in 2024. Ons sal sonder twyfel voortgaan om te hoor hoe die politici immigrante blameer vir baie van die swaarkry en desperaatheid wat die meerderheid Suid-Afrikaners ervaar.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!