IN Johannes Vermeer se De Melkmeid is dit moeilik om mis te kyk: die dun straaltjie glinsterende wit vloeistof wat deur ’n diensmeisie uit ’n kan gegiet word. Toe Vermeer in die laat 1600’s dié portret skilder, was Nederland se melkbedryf al goed gevestig nadat kommersialisering van suiwelprodukte al in die 14de eeu begin het.
In kort, beeste is so deel van Nederland se nasionale identiteit soos klompe en windmeule. Maar nou is daar soveel beeste dat hul getalle ’n bedreiging inhou vir die natuur en uiteindelik die mens. Daarom het die regering einde verlede jaar planne bekend gemaak om veegetalle drasties te verminder. Tot groot woede van die land se boeregemeenskap, wat nou al maande lank landwye protesaksies uitvoer deur brande te stig op snelweë, verkeersvloei te belemmer en voedselverspreidingspunte te blokkeer wat tot leë rakke in supermarkte gelei het.
Nederland is al jare die wêreld se tweede grootste landbou-uitvoerder ná die Verenigde State en oes lof in as “die piepklein landjie wat die wêreld voed”. Ondanks die feit dat hy ongeveer 270 keer kleiner is as die VSA. ’n Groot deel van dié status is te danke aan die vernuwende tegnieke wat hy oor die jare heen ontwikkel het op die gebied van landbou wat selfs na Suid-Afrika uitgevoer word.
Maar nou loop die Nederlandse boer hom vas teen die natuur. Die land kan die hoeveelheid stikstof wat die landbou vrystel nie meer bekostig nie. En nie eens tegnologiese innovering is snel genoeg om die stikstofvrystelling te verlaag sonder om veegetalle drasties te verminder nie, sê omgewingsdeskundiges.
Landbou is verantwoordelik vir die grootste deel van die stikstofvrystelling in Nederland, waarvan die meeste geproduseer word deur die afval van die sowat 1.6 miljoen koeie in die land wat die melk voorsien om onder meer wêreldbekende kase soos gouda en edam te maak. In totaal word geskat dat die land meer as 100 miljoen vee, hoenders en varke het.
Stikstofvrystelling halveer
Einde 2021 het die regering bekend gemaak dat hy die stikstofvrystelling teen 2030 wil halveer om te voldoen aan EU-eise om beskermde natuurgebiede in stand te hou. Op 10 Junie 2021 het die kabinet selfs aangekondig dat dit nou met 70% verminder moet word. Om hierdié planne te realiseer sal duisende boere hul vee moet verminder en hul bedrywighede moet afskaal. €25 biljoen word begroot om plase meer volhoubaar te maak of selfs boere heeltemal uit te koop.
Dit het tot groot tweespalt in die land gelei. Die boere is van mening dat ’n onregverdige deel van die verantwoordelikheid op hulle skouers geskuif word. Wat van fabrieke en voertuie wat ook veel stikstof vrystel?
Wat van die Schiphol-lughawe waar uitbreidingsplanne al weer klaar lê? Want om gereeld op vakansie te gaan, verkieslik per vliegtuig of dit nou ’n kortafstandbestemming is of nie, het ook al deel geword van die Nederlander se moderne identiteit algaande die land ryker geword het ná die Tweede Wêreldoorlog. Enige hoop dat vliegverkeer ná die somervakansie sou afneem, is dié week weer verbrysel toe lang rye vakansiegangers hulle al weer op die lughawe gemeld het.
Volgens Nasa bestaan die aarde se atmosfeer uit ongeveer 80% stikstof, maar te veel stikstof is skadelik vir die planeet. Oortollige stikstofvlakke, soos in Nederland, kan byvoorbeeld ondergrondse waterbronne en die see bereik wat lei tot algebloei en sodoende die water van suurstof beroof. Afval van diere-oorsprong, as dit met urine vermeng, stel ammoniak vry, wat lei tot stikstof en natuurlike habitatte kan vernietig.
In Nederland het boere veel mag. Trouens, die idee van die boer is só ingewortel in die nasionale psige dat protesteerders aanvanklik op groot steun van die bevolking kon reken, maar hoe meer gewelddadig die proteste geword het, hoe meer het die steun begin afneem.
Volgens ’n opname in opdrag van die dagblad Trouw het 45% van die bevolking die boere in Junie gesteun alhoewel Nederlanders hulle oor die algemeen groot sorg maak oor die vrystelling van stikstof en die gevolge vir die natuur. In Julie het dié steun gedaal tot 39%.
Boereproteste gekaap
Boonop het dit ongelukkig nie lank geduur voor die boereproteste deur ekstreem-regs Nederland gekaap is nie, en gewone ondersteuners is gou-gou vermeng met anti-globaliste, rassiste, anti-vaxxers, klimaatontkenners en anti-Islamiete.
Selfs Donald Trump het hom bemoei deur onlangs by ’n byeenkoms te sê: “Farmers in the Netherlands — of all places — are courageously opposing the climate tyranny of the Dutch government, can you believe it?”
Dat die meerderheid van Nederlanders nie agter die proteste staan nie, beteken egter nie dat daar geen begrip is vir die onvrede vanuit die landbousektor nie, lui ’n verslag oor die opname. “Sewe uit tien (71%) van die deelnemers sê dat hulle begrip het vir die boere.”
Nederland staan nou op ’n kruispunt. Landbou en die modernisering daarvan het vanaf die 1950’s nie net die hongerspook van die Tweede Wêreldoorlog verdryf nie, maar ook ’n groot bydrae gemaak tot die welvaart van die land.
Die waarde van landbou-uitvoer in Nederland het in 2021 ongeveer €104.7 miljoen beloop. Blomme en plante bly die grootste landbou-uitvoerproduk met ’n waarde van €12 biljoen in 2021.
In 2020 was Nederland die grootste uitvoerder van vleis in die Europese Unie met ’n waarde van €8.8 biljoen. Die hoofbestemmings vir Nederlandse vleis is Duitsland (meestal beesvleis), Brittanje (hoender) en China (hoofsaaklik vark).
Greenpeace het in ’n brief aan die Nederlandse ministerie van landbou geskryf dat die oorgang na ’n volhoubare landbou-en-voedselstelsel nou “dringend en noodsaaklik” geword het.
En ook dat voedselverbruikers hulle kant moet bring. “Mense moet meer groente en minder proteïene van diere-oorsprong begin eet.”
Waar Nederland die afgelope 70 jaar sy plek aan die voorpunt van landbou-ontwikkeling uitgespook het, kan hy miskien nou ook aan die voorpunt staan om verandering in ons leefstyl aan te voer wat meer regverdig is vir mens en natuur. Of hy kan verdwaal raak in die polemiek wat tans bestaan.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.