- 26 Julie 2024
- Nuus & Politiek
- 6 min om te lees
- artikel 2 van 27
-
Willem KempenRedakteur: Daagliks
TEN spyte van byna vier jaar as visepresident en 'n lang loopbaan in die openbare lewe weet baie mense nog steeds nie hoe om haar voornaam reg te sê nie. Hier is hoe:
People pronounce my name many different ways. Let #KidsForKamala show you how it’s done. pic.twitter.com/7QoQGN0B4k
— Kamala Harris (@KamalaHarris) May 24, 2016
Haar naam beteken “lotusblom", het sy daaroor gesê, “which is a symbol of significance in Indian culture. A lotus grows underwater, its flower rising to the surface while its roots are planted firmly in the river bottom".
Harris is teen dié tyd net so gewoond aan mense wat haar naam verkeerd uitspreek as aan al die voorspelbare skinder wat sedert Sondag weer oor haar opgehaal is: Sy het haar pad boontoe oopgeslaap, sy is nie regtig in die VSA gebore nie en mag dus nie president word nie, sy val rond oor belangrike kwessies, sy sou nie gekom het waar sy is as sy nie swart en 'n vrou was nie. En dikwels sommer in dieselfde asem: As iemand met Indiese ouers en 'n wit eggenoot is sy nie 'n ware “Black American" nie.
Dit is selfs al teen haar gehou dat sy nie kinders het nie. J.D. Vance, Donald Trump se spanmaat in die stryd om die Withuis, het in 2021 gesê: “It's just a basic fact: If you look at Kamala Harris, Pete Buttigieg, AOC [Alexandria Ocasio-Cortez], the entire future of the Democrats is controlled by people without children."
Omtrent niks hiervan behoort saak te maak nie, maar: Sy ís in die VSA gebore en mag sonder twyfel president word. Sy het nie kinders van haar eie nie, maar is wel die stiefma van Cole en Ella Emhoff, die kinders van die prokureur Doug Emhoff met wie sy in 2014 getroud is. Kerstin Emhoff, Doug se eerste vrou en Cole en Ella se biologiese ma, het vandeesweek oor die vier van hulle se verhouding aan CNN gesê: “For over 10 years, since Cole and Ella were teenagers, Kamala has been a co-parent with Doug and I,” en aan The New York Times: “[Kamala] is loving, nurturing, fiercely protective, and always present. I love our blended family and am grateful to have her in it.”
Wenk aan kleinlike Republikeine: As 'n vrou só praat oor die stiefma van haar eie kinders, gaan soek 'n ander boom om teen te piepie.
Oor die bewerings dat Harris seksuele gunste in ruil vir bevordering uitgedeel het: Dieselfde word gedoen oor feitlik elke suksesvolle vrou in die geskiedenis. In Harris se geval word haar verhouding meer as drie dekades gelede met Willie Brown, destyds onder meer Demokratiese burgemeester van San Francisco, gereeld opgehaal, maar dit was toe reeds geen geheim nie. Haar bekwaamheid vir die posisies waarin hy haar aangestel het, was ook nog nooit onder verdenking nie. En oor bewerings dat sy as staatsaanklaer in San Francisco huiwerig sou wees om Brown te vervolg weens die korrupsie waarvan hy knaend beskuldig is, het Harris in 2003 gesê: “[Brown's] career is over; I will be alive and kicking for the next 40 years. I do not owe him a thing. If there is corruption, it will be prosecuted."
Kamala Harris is die 49ste visepresident van die VSA. Sy is die eerste vrou, die eerste swart mens en die eerste een van Asiatiese afkoms wat hierdie pos beklee. Haar pa, Donald Harris, is in Jamaika gebore. Hy was 'n briljante student wat na die VSA geëmigreer het nadat hy aan die University of California (Berkeley) toegelaat is. Hy is vandag 'n emeritus-professor in ekonomie aan Stanford. Haar ma, Shyamala Gopalan, is in die suide van Indië gebore, maar het ook na die VSA geëmigreer en by Berkeley studeer. Sy het 'n doktorsgraad in endokrinologie verwerf en was 'n gerekende navorser oor borskanker. Sy is in 2009 oorlede.
Harris self het in 1986 'n BA in politieke wetenskap en ekonomie aan Howard University behaal, daarna haar regsgraad van Hastings College. Sy was van 2004 tot 2011 San Francisco se staatsaanklaer (district attorney), daarna tot 2017 prokureur-generaal van Kalifornië, en toe senator van dieselfde staat totdat sy as visepresident onder Joe Biden verkies is.
In die senaat het sy 'n reputasie gekry as 'n meedoënlose ondervraer van Republikeine wat haar pad gekruis het, soos hier:
5/1/19 Sen. Kamala Harris (D-CA) questions Attorney General William Barr regarding the Mueller Report #cspan https://t.co/mmiafQkpFX pic.twitter.com/RYz6tKkmcp
— 🌻Justice⚖Now 🌟🇺🇸 (@ChrisJustice01) February 29, 2024
En hier:
Senator Kamala Harris asks Supreme Court nominee Brett Kavanaugh if he has discussed the Mueller investigation with anyone at Trump's personal attorney's law firm.
— Bloomberg Originals (@bbgoriginals) September 6, 2018
Sen. Harris: "I think you're thinking of someone and you don't want to tell us." #KavanaughHearings pic.twitter.com/05xLjkfGv3
Wat beleid betref, is sy waarskynlik effens links van die middel binne die Demokratiese party. Sy is bekend as 'n kampvegter vir strenger vuurwapenbeheer, die klimaat en vroueregte.
Dis veral aborsie wat een van die grootste debatspunte tussen Harris en Trump gaan wees: “If you are a woman, you know we deserve a country with equal pay and access to health care, including a safe and legal abortion, protected as a fundamental and constitutional right," het sy die dag ná Trump se inhuldiging in 2017 by 'n optog van vroue in Washington gesê.
Onder Trump se presidentskap is die konserwatiewe regters in die Supreme Court aangestel wat uiteindelik tot die omkeer van Roe vs. Wade sou lei, maar dié keerpunt oor aborsieregte het die Republikeine in verskeie verkiesings sedertdien duur te staan gekom. Dit was Trump self wat die Grand Old Party vroeër vandeesmaand oortuig het om vir die eerste keer in 40 jaar nié 'n federale verbod op aborsie as deel van amptelike partybeleid te hê nie: Hy dink eenvoudig die kwessie kan hom meer stemme kos as in die sak bring.
Oor die ekonomie en veral die bydrae wat die superrykes en groot korporasies tot die staatskas behoort te maak, verskil Harris nie veel van Biden nie. Sy het Trump vandeesweek gekritiseer vir sy “failed trickle-down policies that gave huge tax breaks to billionaires and big corporations and made working families pay the cost”.
Trump self het al oor Harris gesê sy is “more liberal than [senator] Bernie Sanders, can you believe it", maar sy was Woensdag opvallend afwesig onder die groep senior Demokrate wat Benjamin Netanyahu se toespraak voor 'n gesamentlike sitting van die Amerikaanse kongres geboikot het in protes teen Israel se verwoesting van Gaza – sy het wel 'n “prior engagement" in Indianapolis bygewoon.
Haar man is Joods en sy geniet die steun van verskeie groot Joodse belangegroepe, insluitend die Democratic Majority for Israel en die Jewish Democratic Council of America. In haar teenkanting van 'n Veiligheidsraad-resolusie wat Israel oor Gaza sou veroordeel, het sy gesê: “I believe the bonds between the United States and Israel are unbreakable.” Hoewel sy deurgaans versigtig was om Biden nie te weerspreek wat Israel betref nie, het sy wel al haar kommer oor menseregtevergrype en die lyding in Gaza uitgespreek.
En hoewel sy nie by was toe Netanyahu sy toespraak gelewer het nie, het sy wel op dieselfde dag 'n persoonlike ontmoeting met die Israeliese premier gehad. Volgens hierdie berig in The Wall Street Journal sou sy aan Netanyahu gesê het dis tyd dat die oorlog eindig op 'n manier wat Israel se voortbestaan verseker, dat alle gyselaars vrygelaat word, dat die lyding van Palestynse burgerlikes in Gaza tot 'n einde kom, en dat die Palestyne hul reg op waardigheid, vryheid en selfbeskikking kan geniet.
Of sy dít inderdaad vir Netanyahu gesê het, en of dit beteken dat Amerikaanse beleid en benadering teenoor Israel gaan verander, sal ons net weet as Kamala Harris op 5 November tot die 47ste president van die Verenigde State van Amerika verkies word.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.