’n Afrikaner-verklaring vir dommies

DONDERDAG MET BOUWER

’n Afrikaner-verklaring vir dommies

BOUWER BOSCH skryf sy eie weergawe van dié dokument, WILLEM KEMPEN wonder wie in die DA gedink het dáái advertensie is 'n goeie idee, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Drie niggies van Malawi wat as skoonmakers sou werk by die gebou in George wat Maandagmiddag ineengestort het, is glo steeds onder die puin vasgekeer, maar hulle familie kla oor swak kommunikasie oor waar hulle is. Tiwonge Mhlango (28), Ester Ngwira (30) en Florence Kawonga (29) is glo deur die Father and Son-konstruksiemaatskappy gekontrakteer om skoonmaakwerk te doen by die vyfverdieping-gebou wat 'n woonstelblok sou wees. 'n Oom van die drie, Bright Kayuni, het aan News24 gesê die familie weet nie of hulle onder die bevestigde sewe mense was wat gesterf het, of onder die 39 mense wat nog vermis word nie. Teen gistermiddag is 36 mense al uit die puin gered.

2. Herstelwerk aan die brug oor die M1 wat verlede week in 'n brand weens 'n poging tot kabeldiefstal beskadig is, behoort teen 20 Mei voltooi te wees, maar sal meer as R20 miljoen kos, het die Stad Johannesburg gister gesê.

3. Dit gaan op die gouste etlike jare neem om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel omdat daar “beperkte ruimte is om dit met hoër belasting te finansier", het Mark Blecher, hoofdirekteur vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling by die nasionale tesourie, volgens Business Day by die jaarlikse konferensie van die Board of Healthcare Funders (BHF) gesê.

4. Franziska Giffey, 'n voormalige burgemeester van Berlyn en tans die stad se finansiële hoof, het beserings aan haar kop en nek opgedoen toe sy by 'n geleentheid by 'n biblioteek deur 'n 74-jarige man aangeval is. Die owerhede is bekommerd dat politieke geweld in Duitsland dalk aan die toeneem is voor volgende maand se verkiesings vir die Europese parlement.

5. Byna vier uit 10 waarskynlike Amerikaanse kiesers, en meer as die helfte van alle Demokrate, glo Israel pleeg volksmoord teen die Palestyne in Gaza, volgens 'n opname onder 1 265 mense deur Zeteo en Data For Progress wat van 26 tot 29 April gedoen is.

6. Russiese magte het 'n nagtelike aanval met meer as 50 kruismissiele en drones op Oekraïne se kragnetwerk gedoen op die dag waarop die land die nederlaag van Nazisme in die Tweede Wêreldoorlog vier. Pres. Volodymyr Zelensky het dit 'n “massiewe" aanval genoem. Teikens in sewe Oekraïense streke is getref en die land se spoornetwerk is ook op plekke beskadig, het die owerhede gesê.

7. Wetenskaplikes wat spermwalvisse in die omgewing van die Karibiese eiland Dominica bestudeer, het vir die eerste keer die basiese elemente beskryf van hoe hulle dink dié diere met mekaar kommunikeer, het AP berig. Die navorsers vermoed die walvisse vorm 'n fonetiese alfabet” uit kliekgeluide om daarmee die ekwivalent saam te stel van mense se woorde en frases.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar in dele van die Noord- en Oos-Kaap. Die binneland word vandag warm. Dis sal deels bewolk in dele van die Vrystaat, die Kaapprovinsies en KwaZulu-Natal wees.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 19°C • Durban 28°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 27°C • Upington 32°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Ja, stry oor die vlag ...

Wie het Dinsdag die volgende oor die ANC gesê?

“Our house is on fire. When your father's house is on fire, you don't doubt. You take a bucket and start dousing flames, and then we can talk later about what caused the fire."

John Steenhuisen of Helen Zille? Nee. Dit was Tokyo Sexwale, die destydse premier van Gauteng wat deur die ANC afgestof is om in Katlehong te gaan stemme werf. Sy woorde het nie veel aandag getrek nie, want die res van ons was te besig om te stry oor die DA se netjiese bicycle-kick van die bal in sy eie doelhoek met daardie brandende vlag in die advertensie.

Cyril Ramaphosa kon seker nie sy luck glo nie. Skielik hoef hy nie meer “good stories to tell" oor die ANC uit sy duim te suig of hulpeloos toekyk hoe MK sy kiesersbasis van onder af wegvreet nie. Hy hoef nie te probeer verduidelik oor Anglo American of Shell of BNP Paribas nie. Vir die eerste keer in maande het dit geklink of daar 'n bietjie vuur (!) in sy eie stem is toe hy tekere gaan oor hoe “treasonous" en “disrespekvol teenoor nasionale simbole" die DA is. Zizi Kodwa wil kamma “stappe doen" oor dié “afstootlike en onpatriotiese" advertensie, al weet hy voor sy siel enige hof gaan vir die ANC lag. 

Daar is op aarde niks onpatrioties of onwettig of ongrondwetlik aan daardie advertensie nie. Dit wys nie die DA wat 'n landsvlag aan die brand steek nie, dit wys 'n vlag wat brand as simbool van die ANC se mislukking, met die belofte om daardie brand te keer of te blus.

Die advertensie is wel dom en negatief en teenproduktief. As 'n poging om met voornemende kiesers te kommunikeer of hulle na die DA oor te haal, is dit 'n totale mislukking. Was daar dan nie 'n proefgehoor op wie dit vooraf getoets is wat die hele bohaai sou kon voorsien het nie? Of het daardie gehoor net uit een of twee mense aan die bokant van die DA bestaan?

“Controversy helps drive our message," sê Helen Zille. Dis bog. Niemand sou met die kyk van die advertensie eers besef het hoe diep in die moeilikheid die land is nie. Geen twyfelende kieser sou agterna gedink het “Ja, dis tyd dat ek vir die DA begin stem" nie. Niemand sou daarna gekyk het en vir die eerste keer verstaan het hoe rampspoedig 'n ANC-koalisie met die EFF of MK of albei sal wees nie. Niemand sou dit kyk en dink die DA is die enigste party wat so 'n koalisie kan keer nie.

Sommige mense sou trouens daarna gekyk het en wonder: Is die DA nie dalk deel van die probleem nie?


VWB se tweede Cullinan-boekefees is om die draai! Jy kan luister hoe Gielie Hoffmann met Zelda Nel-Bezuidenhout en Henriëtta Gryffenberg gesels oor die verfilming van Zelda se boek Die dekonstruksie van Retta Blom. Jy kan Chanette Paul, Irna van Zyl, Sidney Gilroy en vele ander skrywers ontmoet, asook ons redaksie. Hierdie naweek van 10-12 Mei in Cullinan. Vrydagaand skop ons af met Koos du Plessis.


Die Afrikaner-verklaring vir dommies ... soos ek

Almal wat my al ontmoet het, weet ek is net aantreklik, nie baie slim nie. Ek het al vroeg geleer om vrede daarmee te maak. Sommige beroepe sou maar net nie vir my beskore gewees het nie as gevolg van my intelligensie, of tekort daaraan.

Die nuutste “buzz word” onder Afrikaners die laaste maand was beslis “Die Afrikaner-verklaring”. Dit was mense se WhatsApp-statusse en Facebook-foto's. Dit het my nogal laat dink aan die dag toe Moses die tien gebooie op die tablette geskryf het en aan die volk moes deurgee. Ek kan net dink wat die oproer moes wees daai tyd.

Lees die volle brief hier.


Ballade van die Dose

ken jy my nou
het jy die spieël gesien
en ken jy jou

vra die nek vir die ken
want sien die geneuk van die ken en die nek
is dat hul mekaar nie uitmekaar kan herken
as gevolg van die gewig van die gedig
se ek

en die gesprek
speel af in die sleep van die spieël
dapper met die trappe af

want die vet ou kan nie vertrou
op die vet vrou
vir wie die spieël
soos 'n hond aan 'n hand is
om te help met die dra
veral omrede sy nie 'n bra
en self gewigtig is

dus dat sy weerkaatsing in die spieël
vir die nek en die ken van onskatlike waarde is
want sien hy besit nie eens een spieël nie
en woon arm in 'n kamer

wat nou afgebrand het

as gevolg van 'n brandstigter
is die hele stad in vlamme

al van gister

- Hennie Meyer

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.