Toe word dit ’n sagter dag, ’n noenoesdag

NET ’N BIETJIE LIEFDE

Toe word dit ’n sagter dag, ’n noenoesdag

Sy het ’n dag lank willoos op haar bed bly lê en die volgende oggend steeds die dae soos uitgekoude kougom voor haar sien uitstrek. Toe doen sy wat sy jare laas gedoen het. Sy klim in ’n Maitland-Kaap-taxi. ANASTASIA DE VRIES vertel verder.

EK weet nie wat ander mense op sulke dae met hulself aanvang nie, daai dae soos iemand eens gesê het wanneer jou hele lyf huil, behalwe jou oë. Jy wil in ’n hoekie op ’n hopie loop lê en die dae in jou eie arms lê en omsnik, al weet jy nie waaroor nie. Ek is bang vir dié dae, vir ’n donker kamer en ’n roerlose, willose vrou op ’n bed, nikssiende starend na ’n plafon. Ek bly lê. Sommer ’n hele dag lank. Ek wil bly lê. Ook die volgende dag en die dae daarna. Maar die volgende oggend weet ek, as ek weer vandag bly lê, staan ek nie gou weer op nie.

Toe doen ek wat ek altyd gedoen het wanneer ek aan die einde van ’n lang jaar in Johannesburg, huis toe kon kom. Ek loop klim in ’n Maitland-Kaap-taxi. By die gewone plek, voor Shoprite in Parow se Voortrekkerweg, op die gewone tyd, halfagt. Ek soek ’n geborgenheid, ’n verbondenheid of dalk iets bekend waaraan ek myselwers kan terugeis. Ek soek Broe Balla se taxi. Broe Balla. Sondae pastoor in sy eie huiskerk; in die week taxi-baas op die roete Bellville-Kaap. Jy kan hom meters ver al hoor aankom, en dan sien jy hom, sy groot lyf wat ruk en skud op die ritme van sy blêrrende musiek, sy kopbewegings op maat, een-twee, een-twee. Elke dag, so van halfagt af, kom hy aan, met sy ghaat wat dit uitkap in die halfoop deur, sy stem ’n eggo van Broe Balla se saamsingery, onder sy “Maitland-Kaap! Maitland-Kaap”-gillery deur.

Nee kyk, het Broe Balla gesê toe ek die eerste keer in sy taxi klim, hier word gedans vir Jesus, gejubel en gejuig, sy taxi ’n kerk op wiele, en as jy dit nie like nie, moet jy uitklim soos jy ingeklim het. Getroos. Hier klop net gospelmusiek, Afrikaanse gospelmusiek. Hy is proudly Afrikaans. Sy enigste toegewing is Jim Reeves omdat hy “In die skadu van ou Tafelberg” so mooi kon sing. Dis ook hier, in Broe Balla se taxi waar almal vir almal ken, al ken niemand jou naam of nering nie. Dis nie belangrik nie. Jy word hier gewoon aan ’n bynaam geken. Pa. Ma. Mammie. Moeder. Die ou. Dêrra. Uit respekte vir jou ouderdom of huwelikstatus of jou in- of uitklimplek. “Die Suit” vir ’n man wat elke dag in ’n pak klere en aktetas voor Shoprite vir ’n taxi staan en wag. Of “Mizz Goodwood”. Miste Giempiestraat. Gister was ek nog “Gallatjie” of “Galla”. Vandag is ek “Mammie Girl”...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.