Durf SA op ’n komende lente hoop?

MAANDAG MET MAX

Durf SA op ’n komende lente hoop?

Hy is nie vreeslik optimisties oor Suid-Afrika ná 29 Mei 2024 nie, skryf MAX DU PREEZ, maar hy is beslis hoopvol dat Suid-Afrikaners sal optree om dinge beter te maak. Hy maan voorts oor 'n afname in steun aan Oekraïne en dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiedag!

1. Dit gaan ál beter met die ANC se verkiesingstryd en ál slegter met Jacob Zuma se MK Party en die EFF. Met die ANC se veldtog in die hoogste rat en Cyril Ramaphosa en Thabo Mbeki onder die voorste veldtogmakers, asook met beurtkrag wat steeds wegbly en treine wat weer begin loop, het die ANC volgens 'n dag-tot-dag-peiling van die Social Research Foundation die laaste twee weke 7%-steun bygekry.

2. As enigiemand nog getwyfel het of die MKP 'n eenman-party is, het Zuma se optrede die laaste paar weke dit bewys. Hy het eers verskeie jeugleiers, onder andere die prominente aktivis Bonginkosi Khanyile, summier uitgeskop en nou, volgens die Sunday Times, ook die mede-stigter, Jabulani Khumalo. Boonop beweer City Press gister dat die MKP op groot skaal handtekeninge vervals het wat vir sy registrasie vereis is.

3. Die DA sal die minimumloon uitfaseer as dit die regering word, sê dié party in sy nuwe ekonomiese beleidsuiteensetting. Die DA meen dit is sleg vir werkskepping.

4. Die leier van die DA se studente-organisasie, Liam Jacobs, gaan op 23-jarige ouderdom waarskynlik die jongste lid van die parlement word ná die komende verkiesing. Hy is 60ste op die DA se lys van kandidate.

5. Die Wiese- en Hersov-empires is in kompetisie met die uitbreiding van padel, die sport wat die vinnigste in Suid-Afrika groei. Rob Hersov, seun van Basil, is 'n groot aandeelhouer in Africa Padel, terwyl Jacob Wiese, seun van Christo, die tamboer by Virgin Padel slaan.

6. Die konstitusionele hof sal op 10 Mei besluit of Jacob Zuma 'n lid van die parlement mag word. Die kieshof het beslis dat Zuma wél kiesbaar is, omdat die vonnis wat die konstitusionele hof hom weens minagting van die hof opgelê het, nie appelleerbaar was nie. Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het teen dié beslissing geappelleer.

7. 'n Afvaardiging van Hamas vertrek vandag na Egipte om die jongste voorstelle vir 'n vredesooreenkoms in Gaza te bespreek. Die Israeliese regering is onder kwaai druk van sy bondgenote in die Weste om sy aanslag op die suide van Gaza te staak, asook van Israeliese burgers om meer te doen om die gyselaars vrygelaat te kry. Sowat 43 500 mense is sedert 7 Oktober 2023 in Gaza dood en 77 500 is beseer.


Dit sal vandag meestal deels bewolk oor die binneland wees. Enkele buie kan in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verwag word. Dit kan baie warm in dele van die Noord- en Wes-Kaap word.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 24°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 21°C • Durban 26°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 23°C • Upington 32°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 28°C.


Max du Preez | Suid-Afrika hoort aan die kant van Oekraïne

Die wêreld gaan baie slegter daaraan toe wees as Rusland uiteindelik die oorlog in Oekraïne wen.

Dit sal nie net 'n slag vir die mense van Oekraïne wees wat baie van hulle grondgebied kwyt sal wees en onder Russiese heerskappy sal staan nie, dit sal 'n slag vir die internasionale reg en orde wees. Dit sal die boodskap uitstuur dat die internasionale gemeenskap gaan toelaat dat diktatorskappe soewereine state militêr mag verower.

Dit is nie 'n komplekse kwessie nie. Oekraïne is 'n soewereine lidland van die Verenigde Nasies en 'n demokrasie. Dit is onbetwisbare feite. Rusland kan dalk die argument aanvoer dat hy bedreig voel deurdat Navo ál nader aan sy grense beweeg, maar dit is geen verskoning vir 'n militêre inval in 'n buurstaat nie – daar was hoegenaamd geen provokasie van Oekraïne self nie.

Dit gaan nie goed met Oekraïne se stryd teen die Russiese invallers nie. Die oormag is bloot te groot en die steun aan wapentuig en ammunisie uit die Weste was te min, te laat.

Dit is hoekom die Amerikaanse kongres se besluit verlede week om tóg nuwe steun aan Oekraïne goed te keur nadat die speaker, Mike Johnson, teen sy eie party se regtervleuel opgestaan het, van sleutelbelang is.

Dit is 'n terugslag vir pres. Vladimir Putin, wat benewens sy militêre aanslag ook 'n wêreldwye propaganda-aanslag geloods het om regses en ultra-nasionaliste in Amerika, Europa en elders en haters van die Weste oraloor te mobiliseer om die oorlog teen Oekraïne goed te praat.

Die regerende ANC in Suid-Afrika is 'n ywerige voorsinger in dié koor, met die kabinet self wat net effe meer ambivalent daaroor is.

Soos ek hier skryf, bestook Rusland Oekraïne met groot getalle missiele, vuurpyle en drones om die infrastruktuur te vernietig en die mense se moreel te breek. Anders as wat met die Iranse missielaanval op Israel gebeur het, help niemand om die missiele af te skiet nie.

Alles is nog nie verlore nie. As Amerika en ander Navo-lande gou spring om die ruimte bo Oekraïne weer veiliger te maak, kan die oorlog nog draai.

Maar hoe langer die oorlog voortduur, hoe groter gaan die Oekraïne-moegheid in die Weste raak. As Donald Trump in Januarie volgende jaar die Amerikaanse president word, gaan die steun vir Oekraïne sonder veel twyfel verder opdroog.

Putin gaan net sy oorlog staak as sy steun buite Rusland opraak en as hy begin besef hy kan nie meer die oorlog wen nie.

Alle Suid-Afrikaanse demokrate behoort hulle stemme dik te maak teen die ANC se gedienstigheid jeens Moskou. Dit plaas ons aan die verkeerde kant van die geskiedenis en dit hou geen voordele vir ons in nie.



Die verskil tussen hoop en optimisme

Die meeste van ons se emosies oor die stand van ons land, en dus ons en ons kinders se toekoms, ry wipplank. Aitsa, dis nou mos goeie nuus. Ag nee man, wat gaan nou aan? Die donnerse Zuma en sy skelms. Lekker nuwe daeraad, go Cyril! Liewe hel, maar julle kan droogmaak. Haai, kyk na dié sonstraaltjie, daai groen loot. Lekker Bokke, viva Siya! Nee wat, ons is heel in ons moer, ek hoop my kind het 'n granny flat vir ons in sy Perth-agterplaas. En so aan.

'n Deel van my taak is om weerhaan te speel. Om te wys watter kant die wind waai, wanneer is daar 'n windstilte of 'n orkaan. Maar ek is ook maar mens; politieke skrywer, maar ook burger van Suid-Afrika. Ek is nie immuun teen wipplank ry nie.

Lees die volle brief hier.


Mars – Velázquez

Die wat weet beweer
jy is lewensmoeg
maar vir my lyk jy net hitsig
badhuispappa
lank ná middernag

of jy afkom van 'n trip
speel-speel 'n soldaat
by Mother City Queer
& die snor o daai snor
'n regte pornosnor
uit eighties videosmet.

Maar jy is dalk tog tam
tam van al daai cruising 
vir die buksie power bottom

dit lê vlak in jou skouers
jou ken nog macho man
lok uit vanaf daai vuis
die rofstoeierkuit

sê jy’s nog lánk nie klaar nie, nè?

waarom die wasblou
lendedoek à la Duchamp
afstroop?
die belofte wat daar word:
'n ewigdurende petit mort

maar dalk ís jy gedaan
verloopte held van stry
van dirty one-night stands
candy flip in klubtoilette
nou & dan nog hoog sweef ...

wie neem die wapenrusting op
& wie omgord die lendene
as die slagveld prysgegee word
vir daardie ánder oorlog

reeds woedend in jou swart oë
reeds siedend in jou bloed?

- Jaco Barnard-Naudé

Uit: om my kastele in Spanje te stroop

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.