Mieliepapkonings en eierdanse

MAANDAG MET MAX

Mieliepapkonings en eierdanse

MAX DU PREEZ skryf oor die dag toe Eugène Terre’Blanche vir hom gesê het hy is nie 'n Afrikaner se gat nie. ALI VAN WYK skryf hoe die ANC steeds voortgaan om verhoë aan Jacob Zuma te verskaf en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy wil weet.

Goeiedag!

1. Suid-Afrika het in 'n uitdunwedloop by die World Athletics Relays in Nassau in die Bahamas vir die Olimpiese 4x400m-aflos gekwalifiseer. Die span bestaan uit Gardeo Isaacs, Zakithi Nene, Wayde van Niekerk en Lythe Pillay. Botswana, België, Japan, Duitsland, Italië, Nigerië en Brittanje het almal ook reeds gekwalifiseer.

2. Die regering wil optree teen internasionale aanlynwinkels soos Temu en Shein wat plaaslike handelaars ondermyn deur skuiwergate in invoertariewe te misbruik, het Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, aan die Sunday Times gesê.

3. Die Stad Johannesburg en spesifiek die Johannesburg Property Company (JPC) moet aanspreeklik gehou word vir verlede Augustus se brand by die Usindiso-gebou in Marshalltown waarin 76 mense dood is, het 'n kommissie van ondersoek onder leiding van regter Sisi Khampepe bevind. Sy het gister die eerste deel van haar verslag oor die brand aan premier Panyaza Lesufi oorhandig. Khampepe het ook gevra dat die gebou gesloop word.

4. Die internasionale energiereus Shell gaan glo vandeesweek sy plaaslike personeel en ander belanghebbendes inlig oor sy voorneme om nie langer in Suid-Afrika sake te doen nie. Die rede hiervoor is 'n twis tussen Shell SA en sy jarelange BEE-vennoot, Thebe Investment Corporation, het  berig.

5. Hoë rentekoerse is een van die grootste faktore wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika se grootste vier banke saam sowat R98 biljoen se huislenings in die sogenaamde fase drie bestuur, die laaste fase voordat ’n lening as wanpresterend beskou word. Dit blyk uit data van Standard Bank wat deur Business Day gerapporteer is.

6. Die vooruitsigte vir 'n skietstilstand in Gaza het gister weer swakker gelyk nadat Hamas opnuut aangedring het op 'n beëindiging van die oorlog in ruil vir die bevryding van Israeliese gyselaars. In reaksie het premier Benjamin Netanyahu dié moontlikheid heeltemal uitgesluit, het Reuters berig.

7. Die laaste van vier sebras wat meer as 'n week gelede uit ’n sleepwa naby Seattle in die Amerikaanse deelstaat Washington ontsnap het, is Vrydag weer aangekeer. Die sebras was onderweg na 'n sogenaamde “petting zoo" in Montana.


Daar is 'n waarskuwing oor skadelike wind en golwe, asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou in verskeie dele van die Kaapse provinsies. Mooi weer en warm toestande kan in die binneland verwag word. Dit kan baie warm in Limpopo en Mpumalanga word.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 31°C • Kaapstad 21°C • Durban 29°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 26°C • Polokwane 29°C • Upington 32°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 31°C.


Ali van Wyk | Die groot Jayzee-eierdans

As pres. Cyril Ramaphosa en ander lede van die ANC se leierskap gedink het hulle het die laaste van Jacob Zuma gesien toe hulle hom in 2018 dwing om as president te bedank, of toe die Grondwetlike Hof hom 15 maande tronk toe stuur in 2021 weens minagting van die hof, het hulle die pot ver mis gesit. Dit sou raadsaam vir Cyril gewees het om in 2005 beter in die klas op te let wat met Thabo Mbeki gebeur het toe hy die Grootbra van Nkandla onseremonieel afdank nadat Zuma se beste tjom vir hulle korrupte dade toegesluit is.

Soos altyd het ubaba Zuma soos ’n wafferse moerasmonster uit ’n modderpoel opgestaan en ’n landskap bevolk met naïewe sagtehandjies-politici binnegewaggel. Hoeveel keer moet Jacob Zuma sy ware kleure wys voor Ramaphosa dit raaksien? Ons president laat mens dink aan ’n ou wat homself met ’n papierskêr in ’n pistoolgeveg wil verdedig.  

Die Grootman is nou weer besig om die ANC-leierskap hulle beste uitbeelding van ’n spul afkophoenders te laat doen. Die grap is dat die top-bra’s van die ANC die Nare Jakob die kans op ’n skinkbord bied om marakkas te maak. In plaas daarvan om die oubaas stilletjies in die nag te laat verdwyn toe hy sy gewig by die MK Party ingooi en aankondig dat hy nie vir “Ramaphosa se ANC”  kan stem of veldtogte voer nie, daag hulle hom om môre (Dinsdag) voor ’n dissiplinêre komitee by Luthuli-huis in Johannesburg te verskyn, seker met die gedagte dat die oubaas nie sal opdaag nie.

Zuma, getrou aan sy aard as ’n bloed-en-derm-politikus, laat weet natuurlik “as julle vir my ’n verhoog wil bou, dan sal ek daarop kom sing en dans, en ek sal die helfte van die MKP saambring vir die gratis blootstelling”.

Met dié dat hulle hulle fout agterkom stuur die ANC-leierskap hulle hoofhanswors, sekeretaris-generaal Fikile “Mbaks” Mbalula, die sirkus in en hy sê laas Vrydag vir die dissiplinêre komitee hulle moet eers bietjie aanhang, daar is ’n kans dat geweld by Luthuli-huis kan losbreek. Die volgende dag (Saterdag), sê die hoof van die dissiplinêre komitee, Ralph Mgijima, luister kêrels, uMsholozi kan Dinsdag sommer daar op die stoep langs die firepool sit met sy laptop, dan doen hulle die hele ding op ’n Zoom-call.

Mbaks het egter gevoel die ANC lyk nog nie sleg genoeg nie, en hy hou van groot perskonferensies, en toe hou hy gister (Sondag) ’n groot perskonferensie waarin hy aankondig dat hulle die hele besigheid gaan uitskuif tot ná die verkiesing. Sit maar ’n paar skille daarop dat die Groot Induna hulle dan ’n pit gaan druk, want dan het hy al klaar al die pad stembus toe gelag.



Afrikaan, Afrikaner, mieliepapkoning, hondeliefhebber

EK is 'n Afrikaner. En ek weier om te bedank.

Wat maak van my 'n Afrikaner, en hoe maak dit my anders as mense van ander etnisiteite, indien enigsins?

Ek was daar in 1990 rond deel van 'n televisiegesprek oor Afrikaner-wees en hulle/ons houding oor die komende demokrasie. AWB-leier Eugène Terre’Blanche was ook op die paneel. In 'n stadium het hy my in Afrikaans toegesnou: “Man, jy is nie 'n Afrikaner se gat nie.” My reaksie was: “Ja, Eugène, en jy is.” (Ná die opname en buite die studio moes ek, uhm, hol om voor sy kwaai lyfwagte te bly.)

Die “Afrikanerverklaring” van twee weke gelede het weereens tot 'n besinning gelei oor wie en wat dié dier nou eintlik is. Dalk gaan my agterkleinkinders dit ook eendag doen.

Lees die volle brief hier.


Die gewondes

Ek sal my dae soos gewondes op ’n slagveld verpleeg
om te genees aan tyd wat daardeur vloei
asof soldate wat die aanslag nie kon verduur nie
die knie moes buig voor die vyand wat hulle nie goedgesind was nie –
om dan by die slagveld op te daag
in loopgrawe waar skote klap
die gewondes met ’n draagbaar weg te dra
met verbande poog om die bloeding te stol
’n laken te trek oor dié wat dit nie gemaak het nie
dié te monitor wat nog asemhaal.

– Alwyn Roux

Uit: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.