Israel en Hamas stry opnuut oor Gaza-skietstilstand

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Israel en Hamas stry opnuut oor Gaza-skietstilstand

ANESCA SMITH wonder hoekom 'n herdenking van gesneuweldes so ontroer, maar oorlogvoering voortstu. WILLEM KEMPEN hoop ons kan weer konstruktiewe gesprekke oor die land aan die gang kry, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Israel het gisteraand ontken dat 'n ooreenkoms oor 'n skietstilstand in Gaza bereik is, pas nadat Hamas glo ’n voorstel van Egiptiese en Qatari-bemiddelaars aanvaar het. Die Israeliese weermag het ook gister sowat 100 000 Palestyne opdrag gegee om Rafah in die suide van Gaza te begin ontruim en berigte is ontvang dat lugaanvalle reeds begin het.

2. Rusland het gedreig om moontlike Britse militêre instellings in Oekraïne aan te val as Westerse lande dieper by die oorlog daar betrokke sou raak. Rusland wil ook oefeninge hou wat die gebruik van kernwapens in oorlogstoestande sal naboots, het AP berig.

3. Ashley Mthunzi, destydse uitvoerende hoof van die Tembisa-hospitaal wat in April oorlede is, het steeds sy salaris gekry en sy pensioen sal nou aan sy boedel oorbetaal word, het News24 berig. Mthunzi was ’n kritieke figuur in die korrupsie van R1 biljoen wat deur Babita Deokaran blootgelê is kort voordat sy in 2021 vermoor is. Mthunzi het steeds voordeel getrek uit sy dienstermyn omdat die amptelike ondersoek na die korrupsie nog nie afgehandel is nie.

3. Die 16-jarige Mamaila Makhubela van Bolobedu in Limpopo, wat haarself verlede week om die lewe gebring het, het in 'n brief aan haar ouers geskryf sy het dit gedoen omdat ’n onderwyser vir haar gesê het sy is die “lelikste meisie in die klas". Die polisie ondersoek haar dood.

4. Die konstitusionele hof het 'n aansoek deur 'n groep Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese boere van die hand gewys dat hulle skadevergoeding van R2 biljoen van die Suid-Afrikaanse regering mag eis in weerwil van besluite wat in 2014 by 'n beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) geneem is. Daarvolgens is die boere nie toegelaat om vergoeding te eis vir die verlies van plase ingevolge Zimbabwe se onteieningsprogram nie, het Tauriq Moosa van Business Day berig.

5. Die saak teen agt lede van adj.pres. Paul Mashatile se BBP-beskermingsgroep wat verlede jaar na bewering by 'n aanranding op die N1 in Johannesburg betrokke was, het in die Randburgse landdroshof begin. Shadrack Kojoana, Johannes Mampuru, Pomso Mofokeng, Harmans Ramokhonami, Phineas Boshielo, Churchill Mkhize, Lesibana Rambau en Moses Tshidada staan op 11 aanklagte tereg, insluitend aanranding, opsetlike saakbeskadiging, die onwettige afvuur van 'n vuurwapen, oortredings van die Padverkeerswet, roekelose en nalatige bestuur, en poging tot dwarsboming van die gereg.

6. Regter Juan Merchan het gister vir die tiende keer 'n $1 000-boete aan Donald Trump opgelê en hom met tronkstraf gedreig omdat hy steeds weier om gehoor te gee aan 'n hofbevel dat hy nie in die openbaar oor jurielede en getuies mag praat nie.

7. Goewerneur Kristi Noem van Suid-Dakota is weer in die moeilikheid oor haar boek No Going Back: The Truth on What’s Wrong with Politics and How We Move America Forward, en dis nog nie eens amptelik op die rakke nie. Eers was Amerikaners geskok oor haar erkenning dat sy 'n ongehoorsame babahondjie doodgeskiet het, nou blyk dit ook dat sy nooit die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un ontmoet het soos sy in die boek beweer nie. In die Kongres word daar nou aan albei kante met haar gespot, soos met die bekendstelling van die “Congressional Dog Lovers Caucus" verlede week.


Daar is 'n waarskuwing vir sterk wind in dele van die Noord-Kaap, asook vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou in dele van die Noord- en Oos-Kaap en Noordwes. Dit word vandag warm in die binneland, maar baie warm in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Buie en donderbuie word in die Wes-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 19°C • Durban 30°C • Kimberley29°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 28°C • Upington 33°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 31°C.


Willem Kempen | Konsensus, die moeilikste ding om te bou

'n Paar van die reaksies op Thabo Mbeki se voorstel vir 'n nasionale dialoog wys presies hoe nodig so iets is:

“Dit sal nooit werk nie. Oor sommige dinge sal ons nooit saamstem nie."

“Mbeki se rampspoedige hantering van vigs en Zimbabwe diskwalifiseer hom vir so iets."

“‘Ons’ kan ‘hulle' nie daarmee vertrou nie, en ‘hulle' wil in elk geval nie na ‘ons' luister nie."

Daar is 'n mate van waarheid in al hierdie dinge, maar die hele konsep van 'n nasionale dialoog is doodgebore as ons gaan wag vir die perfekte leierskap voor ons begin. En Mbeki is reg as hy sê: “Something must be done to address these challenges because we cannot allow them to continue to define our country."

Hy is ook reg dat ons eers ná die verkiesing met so 'n dialoog moet begin, en dat die vertrekpunt die bou van konsensus moet wees. Op die oomblik word enige gesprek dadelik gekaap deur iemand wat 'n geleentheid sien om partypolitieke punte aan te teken. Dan haak ons elke keer vas by 'n verdagmakery of 'n oppervlakkige ja-of-nee-kantkiesery wat nie ingelig word deur 'n behoorlike verstaan van die probleem nie. 

Neem die voorbeeld van 'n nasionale minimumloon. Dis net so stompsinnig van 'n party soos die DA om dit summier te verwerp as wat dit is vir iemand soos Matthew Parks van Cosatu om te sê “the DA hates workers and wants them to be treated like slaves”.

Dieselfde geld gesprekke soos hoe om belastingbetalers in die land te hou of seker te maak dat 'n Anglo American nie in buitelandse hande beland nie.

Konsensus kan net gebou word as mense bereid is om na mekaar te luister en maniere wil soek om idees wat teenstrydig lyk, met mekaar te probeer versoen. Soos 'n Cosatu wat eerlik probeer leer uit hoe die DA werk geskep kry in die Wes-Kaap, of 'n DA wat eerlik probeer leer uit die woede van 'n Cosatu.

Durf ons hoop?



Dooies word ontroerend gedenk, maar oorlog stu voort

Werkersdag (1 Mei) is nie juis iets waarby Nederlanders stilstaan nie – daar word stug deurgewerk. Dieselfde geld vir Goeie Vrydag. Dit dra by tot die feit dat Nederland opvallend minder openbare vakansiedae as Suid-Afrika het.

As immigrant is dit een van die vele aanpassings wat jy moet maak: gewoond raak aan ’n string nuwe openbare vakansiedae in jou aangenome land. Sommige, soos Koningsdag op 27 April, is maklik – jy laat jou gewoon meesleur deur die oranje golf wat oor die land spoel, al het jy soos die meeste Nederlanders geen saak met die koningshuis nie.

Meer versoberend is 4 Mei, die Dodenherdenking van Nederlanders wat sedert die begin van die Tweede Wêreldoorlog tydens oorloë gesterf het.

Lees die volle brief hier.


Voetslaner

Vlieg of voetslaan…

ek wou altyd vlieënd

bo almal my weg baan.

Met my sewende sprong

is die wind ongesien

deur windmaker klong

pogend om hoër te gaan

uit my skerm gehaal

teruggestort op grondvlak

skokkend in die aardvarkgat getrap.

Knarsende been sjirurgies afgekap.

Nou met badtyd as ek my een voet was,

kom die verhewe Mens by my op

wat ander se voete kom was

en as ek op my prostese staan

begin ek eers profeties voet te slaan.

Dietloff van der Berg

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.