Die jakkalsies, die valkenier en die priesters van sosialisme

MAANDAG MET MAX

Die jakkalsies, die valkenier en die priesters van sosialisme

Ou gesegdes, aanhalings en gedigte verloor hulle trefkrag as dit oormatig gebruik word. Dit beteken egter nie daar is nie wysheid in nie, skryf MAX DU PREEZ.

Image: ANGELA TUCK

Ou gesegdes, aanhalings en gedigte verloor hulle trefkrag as dit oormatig gebruik word. Dit beteken egter nie daar is nie wysheid in nie.

Ek hou persoonlik van die wysheid van Hooglied 2:15 as ’n kommentaar op van die dinge wat so erg skeefloop deesdae: “Gou! Vang vir ons die jakkalse! Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, terwyl die wingerde al bot.”

William Butler Yeats se The Second Coming is ’n goeie voorbeeld van oormatige gebruik, ’n gedig wat jy gereeld sien op Suid-Afrika van toepassing gemaak word.

Turning and turning in the widening gyre
The falcon cannot hear the falconer;
Things fall apart; the centre cannot hold;
Mere anarchy is loosed upon the world,
The blood-dimmed tide is loosed, and everywhere
The ceremony of innocence is drowned;
The best lack all conviction, while the worst
Are full of passionate intensity.

Ja’k, ons nasionale valkenier mompel so en kyk soveel oor sy skouer, ons gewone valkies hoor hom nie meer nie. Die middelgrond is inderdaad onder druk, die bestes onder ons laat hulleself nie genoeg geld nie en die skurke stoom onverpoos voort.

’n Ander voorbeeld is die Italiaanse filosoof Antonio Gramsci se befaamde stelling: “The crisis consists precisely in the fact that the old is dying and the new cannot be born; in this interregnum a great variety of morbid symptoms appear.”

Dis nét waar Suid-Afrika nou is. Die ou post-1994-orde is aan die sterwe, maar ’n nuwe bedeling is nog nie behoorlik in wording nie. Van morbiede simptome hoef ek julle niks te vertel nie.

My ou gunsteling, wat ek al ’n slag of wat in ’n artikel gebruik het, is N.P. van Wyk Louw se “O wye en droewe land”:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?

Dis gewoonlik so ver as wat ek die gedig aanhaal, maar eintlik moet ’n mens die res ook lees:

Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafenis;

eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein trouloosheid
van dié wat om ’n ander diens soos knegte jou verlaat.

Sal nooit ’n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ’n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;

’n grootsheid van so ’n suiwer glans,
dat mense in ’n verre land
wat van jou naam die melding hoor,
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?”

Daar is natuurlik minder bekende Afrikaanse gedigte wat ’n mens ook as kommentaar oor die stand van ons nasie kan aanhaal. ’n Mens kan selfs ’n gedig buite konteks aanhaal, soos dié een van C.P. Hoogenhout uit die laat 19de eeu met die titel “Ons Toekomstige Folkslied”, wat nogal aan Nkosi Sikelel’ iAfrika herinner– hy het eintlik oor wit Afrikaners geskryf:

Gedenk an Folk en Land, getrouwe Hemelheer!
Siin gunstig oek op ons nes ons faders neer!
Bekroon ons handewerk en skenk ons Uw gena!
En segend, liwe Heer, ferenigd Afrika!

Ek lees eers onlangs die Adam Small-gedig “Highpriest van die Socialism” raak – ek was net bekend met sy verwante gedig, “Doemanie”:

’n Proefiet van Jesus djý?
’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerewarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?

Maar dit is “Highpriest van die Socialism” wat vandag vir my so relevant is – ek het dit op Versindaba gelees:

’n Profit van die liberation djy?
’n socialist?
djy met djou hys-palys
met djou lang slap mouterkar
djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die
oppressed
met djou tears
en djou woera warra oppie stage
met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class
vannie jets
djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal my
djou verbeel!
En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ’n chips?

Ek is baie lief vir poësie en put veel genot en wysheid daaruit. Ek onthou dat ek in Februarie 2018, met Cyril Ramaphosa se aankondiging van die Nuwe Daeraad, oorweeg het om “Rooidag” van Van Wyk Louw te gebruik – ook maar goed ek het nie.

Rooidag, rooidag, wat bring jy?
ek weet nie waarom
voel ek so bly;
my hart die klop,
en dit voel vir my,
sowaar, sowaar,
vandag kom hy.

Maar ons rooidag gáán kom, ons durf nie ophou droom daaroor nie. En eerder as om swartgallig te raak, kom ons sing eerder saam met Adam Small:

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gevra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar
kô, laat ons sing.

Groetnis
Max


Gift

This is mint and here are three pinks
I have brought you, Mother.
They are wet with rain
And shining with it.
The pinks smell like more of them
In a blue vase:
The mint smells like summer
In any gardens.

– Hilda Conkling


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.