Meer oor Vrye Weekblad

Lees oor ons geskiedenis of vind uit hoe om ons te kontak

Vrye Weekblad is ’n progressiewe digitale publikasie. Dit was ’n weeklikse anti-apartheid koerant van 1987 tot 1994, toe dit toegemaak het. Dit het in April 2019 herlewe as ’n internet-publikasie en word elke Vrydag uitgegee deur die Nuwe Vrye Weekblad Media Groep.

Voorblaaie uit die verlede
Voorblaaie uit die verlede

Ons missie vandag is fundamenteel dieselfde as in 1988: soek die feite; wys geen genade vir diegene in magsposisies nie; sny deur die mis en rook en geraas en kom by die waarheid uit. Ons taak is om ’n ingeligte openbare mening te help skep en so ons demokrasie te dien.

Maar die omgewing is vandag gans anders as in die turbulente laat 1980’s en vroeë 1990’s. Suid-Afrika is vandag ’n konstitusionele demokrasie, ’n oop gemeenskap met vryheid van spraak wat in die grondwet verskans is.

Dit was waaroor Vrye Weekblad destyds gedroom en voor gewerk het. Ons is trots op die rol wat ons gespeel het. Geen voorbehoude nie.

Ons het beslis nié gewerk vir wat die laaste dekade of so in die land gebeur het nie: staatskaping, korrupsie, wanadministrasie, magsmisbruik, hebsug, goedkoop populisme, onverdraagsaamheid en raspolitiek.

Soos apartheid en rassisme destyds ons teiken was, só is dié verskynsels Vrye Weekblad II se teiken. Ons baklei teen etniese mobilisering, wit en swart.

Ons het onsself destyds ’n progressiewe stem genoem. Ons is dit steeds. Onder progressief verstaan ons verdraagsaamheid, oopheid vir nuwe idees en oortuigings, nie-rassigheid (ons definisie daarvan verskil dalk van dié van die regerende party en regse drukgroepe), lojaliteit teenoor die grondwet, ’n verbintenis tot menswaardigheid en tot reg en geregtigheid, ’n erkenning van die nalatenskap van ons bittere verlede en ’n onderneming om ’n meer regverdige en voorspoedige Suid-Afrika te help bou.

Vrye Weekblad is geensins ’n Afrikaner-publikasie nie. Dit is ’n Suid-Afrikaanse webkoerant in Afrikaans. Vir almal wat Afrikaanssprekend is of Afrikaans verstaan.

Vrae of kommentaar? Kontak Vrye Weekblad hier.