Elon Musk se Twitter

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Elon Musk se Twitter

MERCY KANNEMEYER skryf oor Twitter se blou regmerkies.

Image: ANGELA TUCK

DIE afgelope naweek was die blok omtrent benoud daar op Elon Musk se Twitter. Heelwat omstredenheid het vir Musk gevolg sedert hy Twitter oorgekoop het. Veiligheidskwessies, kommer rakende vryheid van spraak versus haatspraak, en die sprake dat Musk te ver regs leun, vorm deel van die Twitter-fiasko. Prominente figure soos Whoopi Goldberg, Elton John, Shonda Rhimes en Jim Carrey het einde verlede jaar aangekondig dat hulle Twitter verlaat. Vir sommige van dié bekendes was Donald Trump se terugkeer na Twitter die laaste strooi, terwyl ander hewig omgekrap was deur Musk se afdankings en sy politieke oortuigings.

Die jongste brokkie omstredenheid gaan oor die blou Twitter-verifiëringsimbool. Twitter sê op hulle webtuiste:

The blue checkmark means that the account has an active subscription to Twitter Blue and meets our eligibility requirements.

Starting April 1, we’ll be winding down our legacy Verification program and accounts that were verified under the previous criteria (active, notable, and authentic) will not retain a blue checkmark unless they are subscribed to Twitter Blue.

Subscribers will need to meet our eligibility criteria below to receive or retain the blue checkmark.

Image: ANGELA TUCK

Van die kriteria sluit in dat jou Twitter-rekening vir minstens 30 dae al aktief moet wees, jy moet jou eie naam en foto op jou profiel gebruik, en jou selfoonnommer moet kan bevestig dat jy die ware Jakob is. Naas hierdie kriteria moet gebruikers wat hulleself wil laat verifieer ook omtrent $8 (Amerikaanse dollar) per maand betaal. As ons dié sommetjie na rande moet wissel, werk dit so onder die R150 per maand uit.

Nou dat Musk en sy span al hierdie nuwe reëls en dinge ingestel het, lyk dit asof mense eerder nié geverifieer wil word nie. Daar is bekendes wat oor die naweek aangevoer het dat hulle nie vir Twitter Blue betaal het nie, maar steeds die “blue checkmark” op hulle profiele het (onder andere Stephen King en LeBron James). Dit wil voorkom asof Musk/Twitter namens sommige bekendes hulle Twitter-rekeninge met ’n blou simbool geverifieer het … 

In ’n land met enorme politieke, maatskaplike, sosiale, ekonomiese, spirituele, [insert nog van ons land se kak&hare hier] uitdagings soos ons s’n, wonder die leser seker “Wie gee om, Mercy?!”. Ek, liewe leser, ek gee om. Bloot omdat dit ’n interessante ommeswaai van sosialemediastatus is. Eers was dit die in-ding om geverifieer op Twitter te wees, en nou is dit asof mense skaam kry daarvoor. Nou, as jy ’n blou regmerk langs jou naam het, beteken dit jy ondersteun Elon Musk/Donald Trump/Make America Great Again-tipe retoriek. Is ons so post-nuanses dat alles nou deesdae net twee kante het?

Verstaan my mooi. Daar is nie veel ruimte om met rassiste en magsbehepte ou mans te redeneer nie. Alles het egter deesdae só gepolitiseer geword dat ons (sosialemediagebruikers meestal) nie meer gesonde diskoers kan voer nie. Dink daaroor. Minder as 10% van die wêreld is volgens Datareportal op Twitter. Ek sê geensins dit is reg wat Musk met Twitter aangevang het nie; die hele gesprek oor Twitter is bloot interessant, al word dit binne ’n mikro-mikro-mikrokosmos (minder as 10%) gevoer. Dit is interessant omdat dit wil voorkom asof Twitter die main stage van politisering is. Dink maar aan die pandemie. Hoe op dees aarde het die minder as 10% dit reggekry om medisyne ’n politieke saak te maak? Ja, ja, ja, nou gaan almal wat al van Sontag en Hanisch gehoor het vir my sê “alles is polities!”. Sure. Alles kan maar polities wees, maar is dit bleddiewil nodig dat alles so verbeeldingloos en saai ook moet wees?


Reisende fragmente

“en bewéging  is éwewig
voortdurend verloor/herontdek
 in 'n draaiende deelword van sang
se stilklank ontvang”

'n mal hart
kan nie gemaal
of aan die naak gestel
word in woorde nie

– Breyten Breytenbach

(Bron: Versindaba)


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.