Goue populiere en hekelaars

DONDERDAG MET DEBORAH

Goue populiere en hekelaars

DEBORAH STEINMAIR vertel van haar onlangse besoek aan Clarens, waar ons volgende boekefees in Julie plaasvind.

Image: ANGELA TUCK

DIE jaar word ryp in goue akkerblare en alles wat reeds was, kom weer verby. En tog. Daar is eindelose variasies en enkele ingrype.

Ons ry Clarens toe om ’n venue vir Vrye Weekblad se volgende boekefees te kies. Ek het nie geweet hoe klein die dorpie is nie: ’n paar restaurante en winkeltjies wat oudhede, komberse en leerwerk verkwansel rondom ’n groen parkie. Skralerige Basoetoeponie staan in die son en wag om gehuur te word vir ’n rit. Oral spring karwagte voor jou in om oorvloedige parkeerplek uit te wys.

Daar is een boekwinkel, Bibliophile, ’n knus skuur aan boekliefhebber Debra Stewart se huis. ’n Grys kat in uitstekende kondisie luier in die son voor die trappies. Die ruimte voel soos ’n bibliotekie, met allerlei seldsame boeke oor die omgewing, met afdelings en uitstallings en ’n knus leeshoekie. Langsaan is ’n lawaaierige restaurant in wat soos ’n treintrok lyk, met ’n groot tuin. Die straat is ongeteer. Die polisiestasie is oorkant. Agter alles troon die berge en lang, goue populiere.

Die duur gastehuis wat ons op ’n special gekry het, het vier uur lank beurtkrag toe ons laatmiddag aanland. Dit beteken ook geen water in die krane nie. En net een herlaaibare flitslig. Gelukkig is daar ’n kaggel en ’n stapel hout. Ons bly in die Dali-suite, maar die kuns teen die muur is meubelwinkelafdrukke van goue en bronslandskappe in ornate, gekartelde roomkleur rame. Ons bou 'n groot vuur en maak wyn oop. Die son verdwyn spektakulêr agter die berge.

Hier gaan ons kuier, mense, die naweek van 21 tot 23 Julie, met die VWB-Clarens-boekefees. Bespreek solank plek en brei die karos. Koop komberse.

Ons besluit die Protea-hotel is die enigste opsie vir ’n venue, in die hoofstraat, absoluut sentraal, met sonkrag en opwekkers, luuks en knus. Vir koudkry in ’n skoolsaal of in ’n afgeleë lodge sien ons nie kans nie. Nou wag ek net op die kwotasie.

Ons het oor Bethlehem soontoe gery en oor Warden terug, sodat ons kan verslag doen oor watter pad die beste is. Warden wen loshande. Daar is wel slaggate, maar dis meestal gelap en aan die buitekant van die pad. Aan die Bethlehem-pad word flink gewerk en daar is stop & go’s en soms ompaaie om mee rekening te hou.

Terug by die huis voel ons nuut aangeskafde sonpanele onuitspreeklik luuks. Ons is nie meer aan Eskom uitgelewer nie.

Gisteraand gaan kyk ons na Karen Zoid in die Atterbury-teater. Sy is tydloos en outentiek. Veral haar stories tussen nommers het spoed opgetel. Soos met Nataniël hang die gehoor aan haar lippe. Sy is ’n komediant wat alles in die oomblik versin, soms haar mond verbypraat, soms uit volle bors vir haarself lag. Haar kitaarspeler, Henry (Staalballas) Steele se riffs laat die nekhare orent staan. Maar wat my bybly, is die teaterbestuurder wat tydens pouse voor ons kom staan en vir die groep vroue agter ons sê: “Dames, as julle wil hekel …” Ek neem toe aan sy bedoel heckle, aanmerkings uitskree, want hulle wás nogal lawaaierig, maar nee: “... dan moet julle die hekelwerk laag hou, op julle skote, want die mense agter julle kan nie sien nie.” Ek kyk toe om en sowaar, elk is aan die werskaf aan ’n enorme gehekelde kombers. Hekelaars met houding. Net in Pretoria.

En gistermiddag is my persoon ná vele toetse en skanderings skoon verklaar van kanker. Ons gaan hopelik nog ’n hele paar keer om die son reis, en hoe onvergeetlik is hierdie omwentelings nie: broos en beeldskoon.


Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

– N.P. van Wyk Louw


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.