‘White Noise’ en TikTok

DONDERDAG MET DEBORAH

‘White Noise’ en TikTok

DEBORAH STEINMAIR verduidelik hoekom sy nog altyd verkies het om die goeie nuus eerste te hoor.

NOU die nag, toe die aardbewing in Boksburg ons kasdeure laat ratel, dink ek weer aan Don DeLillo se roman White Noise. Dit is in 1985 gepubliseer. Dis bekroon en het ’n soort kultusboek geword omdat dit die tydsgees in Amerika in die 80's so knap vasgevang het: die verbruikersidille, massamedia en sterflikheid. Die pa in daardie roman het in die nag gaan kyk of die dogtertjie nie haar komberse afgegooi het nie, toe sy in haar slaap fluister. Hy hou sy oor teen haar mond en hoor die woorde: “Toyota Celica …” Sy gesin het graag saans die TV-nuus gekyk en berigte oor natuurrampe, oorloë en katastrofes in verre wêrelddele het hulle veilig en knus laat voel. Solank dit ver van ons af is.

Image: ANGELA TUCK

Nou kan niemand meer knus en veilig voel nie, want dit gaan nêrens meer rustig nie, nie hier nie en ook nie in verre lande nie. Boonop is geen land meer so ver of woes geleë nie, noudat die wêreld ’n dorp geword het. Ondersese en ondergrondse kabels en bogrondse torings hou dag en nag aan sein. Baie van ons het ook familielede in die buiteland en belê dus persoonlik in wat oorsee gebeur. Ek het gisternag van Putin gedroom.

Ek het nog altyd gekies, as ek ’n keuse gehad het, om eerste die goeie nuus te hoor, sodat dit my kan versterk teen die aanslag van die slegte nuus. Toe ek ’n kind was, het Riaan Cruywagen dikwels saans in die TV-nuus ’n snaakse brokkie vir laaste gebêre sodat hy met ’n skalkse glimlag kon groet. Die verlede is, soos Eben Venter oor plaasherinneringe sê, besmet. Dit was alles leuens.

Image: ANGELA TUCK

Al hoe minder jongmense stel nog belang om die nuus te lees, luister of kyk. Dis eenvoudig ’n gemoedsbekakking, dis vreesaanjaend en dit skep stres in elke sel van jou lyf. Hulle verkies om grappige brokkies op TikTok te kyk. Dis veel gewilder as nuus. TikTok is ’n perd van ’n ander kleur. Vanoggend het ek gekyk hoe iemand ’n traan pink oor haar ouma se gehekelde toiletoortreksel en dit was snaaks en roerend.

Ons is op soek na komiese verligting. As ons land ’n boek was, sou ’n mens dink: Alles kan nie net aanhoudend so sleg gaan nie – behalwe miskien as die boek A Little Life was. Daar is wel komiese verligting in die vorm van naragtige, burleske gedrag van ministers en amptenare. Maar dis ’n lag met ’n traan, soos ons hol kekkellag oor Gretha Wiid se hatigheid. Ons moet die gelag betaal.

En ons het ’n kitssamelewing geword. Alles moet vinniger, soos ons skootrekenaars en internetverbinding. Ons sien nie meer kans om te wag tot die verkeerslig na groen oorslaan nie. Oranje is ’n niemandsland wat almal van alle kante navigeer. Rooi is die nuwe oranje.

Ons het nie geduld vir lang uiteensettings nie: Gooi dit vir ons in vyf of tien bullet points. Moenie lang grappe vertel nie; dis waarskynlik politiek inkorrek of onsensitief. Deel eerder ’n kort clip. Die horlosie … TikTok.


Duiwe in ’n den

loer
woer
paar
koer

– Johan Myburg
(Uit: Narreskip)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.