Sit my terug in skubbe

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Sit my terug in skubbe

DEBORAH STEINMAIR bulder uit desperaatheid.

Image: ANGELA TUCK

Ek het Walden gelees toe ek baie jonk was. Toe ek nog gedroom het van vryheid en ’n ongebonde lewe gebou op my eie hoë beginsels. Ek het die slapbandboek sien uitsteek by die rugsak van ’n Oostenrykse girl wat ek bewonder het. Dit was in Duits en ek het gedink dit verwys na woude – ek was nie ver verkeerd nie.

Die Amerikaner Henry Thoreau het vir twee jaar, twee maande en twee dae in ’n houthut gaan bly wat hy met sy eie hande gemaak het, in die wildernis, ver van alles en almal, naby ’n diep dam. Is ’n pond in Afrikaans ’n dam? Vlei klink darem so vlak. Dit was darem op die eiendom van sy vriend Ralph Waldo Emerson. Hy het heeltemal onder die radar gelewe, voordat die radar nog so verweef en alomteenwoordig was soos dit vandag is. Sonder elektrisiteit of lopende water. Hy het plante en water bestudeer en verhewe gedagtes so op sy eentjie neergeskryf.

Ek het dit lanklaas gelees, maar ek onthou hy het gesê “most men lead lives of quiet desperation”. Slegs deur na aan die natuur te leef, het hy geglo, kan jy jou slapende self wakker maak en waarlik verlig word. Omdat ek graag klippe versamel, onthou ek sy uitspraak dat klippe in die water of in die veld lieflik is, maar sodra jy hulle binnenshuis uitstal, word hulle dof en vergader stof.

Hy het nog ’n boek geskryf, Civil Disobedience, en dis soms saam met Walden uitgegee: Walden and Civil Disobedience. Hierdie term resoneer by my, dit klink asof ’n mens beskaafd ongehoorsaam is. Natuurlik verwys dit na burgerlike ongehoorsaamheid, soos om te weier om belasting te betaal.

Kan ’n mens nog van die rotwieletjie afklim en ver van die radar lewe, ongekonnekteerd? Ek vermoed dit sal onder beskermde omstandighede moet wees, soos op ’n vriend se plaas. En waarskynlik sal die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), OUTsurance en Google Earth jou steeds opspoor. Tog is dit miskien verkieslik bo ’n uitsiglose sel in die tjoekie.

Daarvan droom ek: om op te staan wanneer dit lig word, vuur te maak, kos te versamel, water aan te dra en te gaan slaap wanneer dit donker word. Om ure lank na die vlamme en in die dieptes te sit en staar en elegante gedagtes te formuleer wat jy in ’n sierlike notaboek neerpen.

Image: ANGELA TUCK

Hoekom het ek weer aan Walden gedink? Omdat die SAID my laat weet het ek skuld hulle meer as R100 000. Hulle beweer dat daar geen bewys is dat hulle die belasting wat my vorige werkgewer maandeliks van my salaris afgetrek het, ontvang het nie. Dis glo my probleem en die bewyslas en skuldlas lê by my.

Sulke dinge wil my gillend laat weghardloop uit die sogenaamde beskawing. Sit my terug in skubbe, soos die Brixton Moord en Roof Orkes gesing het. My desperaatheid is nie stom nie, maar bulderend. Gee aan ’n byl dat ek daai houthuisie begin bou.

Twee dinge wat my dié week laat beter voel het oor die lewe:

Deon Meyer lees vir sy papegaai Nathan Trantraal se rubriek voor

En een lieflike sin van Kerneels Breytenbach:

Waaragtig goeie satires het die manier om jou verby die oppervlakkigheid van die menslike bestaan te laat sien en by jou ’n dieper hartseer te wek vir die maniere waarop mense hul lewens verbrou, en die aarde daarmee saam.


1. in memoriam m.

so 'n dag was bestem Magdalena
vir ons om jou graf toe te dra
en te bêre   koud en bleek en nat
afskuwelik   soos die verloopte kat
moes ons oor die plasse skugter
trap   kat en reën het ons ontnugter
beteuterd en klam   misrabel
van die fabel

– T.T. Cloete

(Uit: Allotroop)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.