Hallo. My naam is Max en ek is ’n prepper

MAANDAG MET MAX

Hallo. My naam is Max en ek is ’n prepper

MAX DU PREEZ skryf oor hoekom hy ’n (amateur-)prepper is.

Ek is besig om ’n bietjie van ’n prepper te word.

’n Prepper, sal die Collins Dictionary vir jou sê, is “a person who believes a disaster is likely to occur in the near future and makes preparations for it, esp. by stockpiling food and other supplies”.

Dit is veral ’n Amerikaanse verskynsel, en baie preppers vrees ook ’n “new world order” waar ’n handjievol ryk Jode die hele wêreld gaan oorneem en ons almal se vryhede gaan beperk. (Kenneth Meshoe se ACDP glo ook daarin.)

Daar is ’n man in my straat wat ’n volbloed-prepper is, met sonkrag, genoeg water in tenks vir drie maande, ’n paar ernstige gewere en ’n garage vol blikkieskos. Hy glo vas ons word deur ’n burgeroorlog en anargie in die gesig gestaar.

Nee, ek is ’n amateur-prepper en my vrees is ekstreme weer.

Ek gaar niks op nie, maar ek het al bestek opgeneem van wat orkaanwinde, erge vloede of wegholbrande, alles produkte van die ontstellende klimaatsverandering wat ons beleef, aan my huis sou kon aanrig.

Daar is een ry huise tussen my en die natuurreservaat van die suidelike Kaapse skiereiland, en boonop is daar net fynbos, niks bome nie. So die brandgevaar is nie hoog nie – die bure se huise sal in elk geval eerste afbrand – niks wat my twee brandblussers nie kan hanteer nie.

Vloedwater is ’n ander situasie. Ons het al 30 mm op een dag hier gehad en die water het by my verby gehou, maar wie weet wat gaan gebeur as dit 200 mm op een dag is, soos al dié seisoen elders in die wêreld gebeur het?

Sandsakke is die antwoord. As die water nie ophou val nie, kan ek binne 15 minute 30 sakkies sand plaas om die water wat van die berg af kom, by my eiendom verby te stuur (reg op my bure af – wat de hel, dis elkeen vir homself, kry julle eie sakkies).

Image: ANGELA TUCK

Die ry huise tussen my en verder op in die berg beteken ook ek is relatief veilig in geval van grondstortings – dié huise sal eers platgevee moet word voor dit by my uitkom.

Die wind hier by my kan klaar rof word, so erg jy kan nie in die straat af loop nie. Die grootste gevaar as dit ’n wind van, sê nou maar, 120 km per uur is, weer soos ons dit die laaste maand of wat elders gesien het, is dat jou dak afgewaai word.

Uitgesorteer, dankie. Kort oorhange, heelwat ekstra skroewe in die dakplate en ’n dek wat op dik sementkolomme gebou en stewig geanker is.

Ek het nou self ook ’n watertenk onder my geut laat insit, so ek het altyd 1 000 liter water as die toevoer ontwrig word.

Ek het twee sterk stroomwisselaars en ’n paar stewige batterye wat my enige dag deur agt uur se beurtkrag help, maar my vriend Theuns Venter, Vrye Weekblad se bestuurder, vertel gister vir my hy het pas sonpanele op sy dak laat opsit wat in sy kragbenodighede voorsien, en hy betaal dit af teen iets soos R1 800 per maand. My rekening is klaar rondom R2 500, so dis dalk ’n goeie idee.

Ek sorg darem altyd dat daar ’n ekstra bottel Bushmills- Ierse whiskey in my kas is, en ons het ’n laai met blikkies tuna en ’n vrieskas met ’n paar spaar-tjops en ’n hoender.

Dit klink dalk alles baie selfsugtig en selfbehep, maar dit is ’n goeie ding om jou gesin, huis en haard, te beveilig. Ek wil nie een van die vele mense van oraloor wees wat ek gereeld op TV-nuus sien wat huilend sê hulle het alles in die brand/vloede/orkaanwinde verloor nie.

Dit alles, sal die klimaataktiviste met ’n rol van die oë vir jou sê, is mitigation, nie prevention nie.

Dit is waar. Dis net dat ek nie man-alleen kan sorg dat Gwede se steenkoolkragstasies en dié in China en Indië ophou koolstof die lug instuur nie.

Ek probeer hard om my eie koolstofvoetspoor so klein as moontlik te hou, maar ek skiet tekort want ek ry ’n vyf jaar oue dieselaangedrewe Land Rover. Ek wil maar wag vir elektriese motors om eers ’n bietjie goedkoper te word voor ek die Landy inruil, want ek betaal g’n R1,5 miljoen vir ’n kar nie.

Wat ek wel doen, is om so min as moontlik te vlieg en te ry. En vir wat dit werd is, in my huis geld die beginsel van reduce, reuse en recycle sonder kompromis.

As dit klink of ek ’n effe lighartig oor dié onderwerp is, laat my onomwonde sê: Die mensgemaakte klimaatsverandering wat die wêreld tans beleef – Julie was die warmste maand sedert temperature gemeet word – is die ernstigste eksistensiële krisis wat die mensdom in vele millennia beleef het.

Ek kry ’n beklemming om my hart as ek my probeer indink hoe ons planeet oor twee of drie geslagte gaan lyk.

En nou, hier op ’n Sondagagtermiddag, het ek ’n keuse: Sal ek nog ’n paar sakkies vol sand gaan maak of sal ek ’n dubbel-Bushmills op my stoep gaan drink en oor die (verwarmende) oseaan uitkyk?

Groetnis
Max


Herfswind

die wind speel 'n spel met blare
    wasgoed
                        rokke
                                     en hare

–Emmie Bedeker

(Uit: Die grondgeitjie roep)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.