Goeiemôre
Toe ek 10 jaar gelede begin soek het na ’n huis hier in die Oos-Kaap, het ek drie vereistes gehad: Ek wou naby die see woon (nie in die stad nie); ek wou ’n uitsig hê; en die huis kon nie lelik wees nie. Die eiendomsagent kon die eerste twee verstaan, maar my derde vereiste het haar mal gemaak.
Haar “mooi en netjies” was my idee van ’n nagmerrie. Siersteen. Diefwering. Geplaveide tuine. Vibracrete en palissadeheinings. En toe eendag, net nadat sy vir my ’n huis gewys het met ’n fake klipswembad en ’n waterval, ry ons op met Shelly – ’n grondpad met yslike koraalbome – en heel bo op die bult, so byna terloops, wys sy na ’n huis met ’n plat dak (geverf in die allerlelikste babageel) agter ’n houthek en omring met piesangbome en strelitzias. Die agent praat nog van binne besigtig, maar ek kan sommer sien dat die huis se eenvoudige beenstruktuur integriteit het.
Toe ek ’n paar dae later die dokumente by Lisa, die agent, gaan teken, bieg sy dat sy nie kan glo sy het “die lelikste huis in Sunrise” binne 10 minute verkoop gekry nie.
Daar is ’n storie omtrent die huis waarvan ek eers later uitgevind het, en wat die verstommende mooi uitsig van die stoep af verduidelik: Dit is gebou as ’n kaserne vir soldate wat moes uitkyk vir Duitse duikbote tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Die handelsroete tussen Europa en die Verre Ooste was vir die Geallieerdes belangrik om goedere, toerusting en manskappe vir die oorlog te vervoer, en die doel van die aanvalle op handelskepe was om die Geallieerdes se voorsieningsketting te verlam.
Ek het nie voorheen besef dat 66 Geallieerde handelskepe gedurende dié oorlog in, of net buite, Suid-Afrikaanse waters aangeval en vernietig is nie.
Duitse duikbote was verantwoordelik vir 61 van die aanvalle, en die dodelikste maand was in Oktober 1942, toe 25 skepe deur torpedo-aanvalle vernietig is. Daar word geraam dat byna 1 900 mense hulle lewens verloor het. Die grootste getal mense wat in een aanval gesterf het, was toe ’n Duitse U-177-duikboot die troepeskip Nova Scotia getorpedeer het en al 858 mense aan boord, meestal Italianers, dood is.
Terug na die huis. Ek trek toe agt jaar gelede in my koeistal-wat-eens-’n-kaserne-was in. En ek kap te lekker mure uit. ’n Slaapkamer word ’n woonvertrek. Die sitkamer word ’n slaapkamer. En ’n badkamer word die kombuis (ons vier my dogtertjie se negende verjaarsdag tussen sementsakke en kruiwaens).
Ek is mal oor my huis. Ek hou van die eenvoud. Ek hou daarvan dat dit klein is. Ek hou van die stoep met sy leiklip-plaveisel en groot houttafel. Ek hou van die sementvloere wat ons ’n glimmende grys geverf het. Ek hou van hoe elke venster ’n hoekie tuin omraam.
Maar daar was altyd een probleem. Die kombuis se lieflike uitsig oor die see word belemmer omdat dit eers ’n badkamer was. Die venster wat op die see uitkyk, is ’n hoërige, kleinerige, simpel een.
Al die jare kom ek nie daarby uit om die venster te vervang nie. Tot ek ’n paar maande gelede ’n bevlieging kry en besluit ek wil kook met ’n uitsig oor skepe en seiljagte en walvisse wat uit die water spring (en soms kanovaarders wat soos klein wit blokkies deur die blou tol).
Die drie weke se chaos en stof was heeltemal die moeite werd. Die eerste aand, toe die gat in die muur uiteindelik daar is, het ek en Ilke vir ons stoele soontoe getrek en gekyk hoe die maan oor die see opkom – en ons probeer verbeel hoe dit moes gewees het vir die soldate wat eens in hierdie huis gewoon het, en na dieselfde uitsig gekyk het, op soek na Duitse duikbote.
Daarmee groet ek.
Salige Sondag
Anneliese
Little invitation in a hushed voice
Even birds help
each other.
Come close. Closer.
Help me
kiss you.
–Tess Gallagher
(Uit haar bundel Portable Kisses, 1943)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.