Blokkiesraaisel? Sudoku? Of wat van ...

WOENSDAG MET WILLEM

Blokkiesraaisel? Sudoku? Of wat van ...

WILLEM KEMPEN dink weer daaraan om te leer brug speel.

Lank gelede was daar altyd hier na die agterkant toe van die meeste koerante en tydskrifte 'n versameling gereelde goedjies wat gemik was op allerhande gewilde tydverdrywe: 'n blokkiesraaisel, 'n strokiesverhaal of twee, 'n raaisel of iets soos join-the-dots vir die kinders, dalk selfs die dag se skuiwe in 'n skaakwedstryd. 'n Perdeblad vir die omies wat hulle dae in plekke soos 'n Tattersalls deurgebring het in die hoop om die boerpot of die trifecta of die kwinpot te wen.

En dikwels ook 'n brugrubriek, gewoonlik onder die naam van die Egiptiese akteur Omar Sharif, wat vir lank een van die wêreld se voorste spelers was. Agt jaar ná sy dood leef sy naam steeds voort in verskeie produkte wat met kontrakbrug te doen het.

Blokkiesraaisels is waarskynlik die enkele ding wat nooit lekkerder sal wees om op jou foon of aanlyn te doen as met 'n pen of 'n potlood op 'n stuk papier nie, maar die res is meestal deesdae elektronies. Digitale Sudoku en Scrabble werk ook lekker.

Weddenskappe op “die perdjies" is nog 'n ding, maar nie eens amper so groot soos in die dae toe dit nog die naaste was wat ons aan wettige dobbelary gekom het nie; toe tabakreklame nog wettig was en sigaretvervaardigers tougestaan het om groot wedrenne soos die Durban July te borg. Is daar enige plaaslike koerant wat nog 'n perdeseksie het?

Maar terug by brug – dié kaartspel en die mitologie daarom fassineer my nog altyd, hoewel ek dit nooit self leer speel het nie (ek is wel hopeloos verslaaf aan harte, wat maar 'n erg afgewaterde weergawe is). Al daardie praatjies oor wie al weer hulle brugmaat in die steek gelaat het by die weeklikse wedstryd, of die beroering in Huis Herfsblaar omdat Ouma nie vanaand kan speel nie. En al die eksentrieke karakters, nie net Sharif nie maar ook mense soos Harold Vanderbilt van die beroemde Amerikaanse nyweraarsfamilie aan wie baie van die moderne reëls van die spel te danke is.

Brug is steeds die wêreld se gewildste kaartspel, of so beweer minstens een bron op die internet, al is dit nie so glamorous soos al die variasies van poker met sy superster-spelers en sy cowboy-erfenis en miljoene aan prysgeld in groot toernooie soos in Las Vegas nie. Brug is ook nie onlangs van voor af gewild gemaak soos wat met skaak gebeur het deur Netflix se The Queen's Gambit nie, en dis ook nie heeltemal so uitdagend vir 'n superrekenaar om te bemeester soos Go nie.

En tog, steeds speel miljoene mense minstens een keer 'n week brug. Miskien moet ek weer 'n slag bietjie moeite doen om ook te leer.


Being Independent 

“i do not want to have you
to fill the empty parts of me.
i want to be full on my own.
i want to be so complete
i could light a whole city
and then
i want to have you
cause the two of us combined
could set it on fire.”

– Rupi Kaur

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.