Genees in vrede

DONDERDAG MET MERCY

Genees in vrede

MERCY KANNEMEYER skryf oor vetes tussen vroue in die musiekwêreld.

Image: ANGELA TUCK

Die pop- en rapwêreld is verlede week oorheers deur die vete tussen Nicki Minaj en Megan Thee Stallion. In my vrye tyd het ek dié sogenaamde “beef” tussen twee van my gunsteling- swart vroulike rappers getrou gevolg. Hier volg waarom dit ook vir ons saak maak.

Die rapwêreld in Amerika is dekades lank deur mans oorheers. Dink nou maar aan Tupac Shakur, Jay Z, Kanye West, Lil Wayne, 50 Cent, Snoop Dogg, Rick Ross en dies meer. As jy “black American rappers” op Google intik, is Nicki Minaj die enigste vrouenaam wat tussen tientalle mans s'n opkom.

Nicki, Megan, Cardi B, Saweetie en Doja Cat verteenwoordig ’n belangrike demografie binne die boys' club van Amerikaanse rap. Hulle musiek is dikwels bemagtigend vir vroue, hulle omhels sensualiteit en seksualiteit en vier vrouwees op hulle manier. Die laaste deel kry almal nie altyd reg nie (soos in die geval waarvan ek hieronder van gaan vertel).

So, terug na Nicki en Megan. Dié twee het al beide op hulle eie maniere met die gereg te doen gehad. In 2020 is Megan deur Tory Lanez in die voet geskiet. Letterlik. Die saak is in ’n Los Angeles-hof aangehoor en Lanez is uiteindelik tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Dié voorval het Megan se aanhangers vervreem, omdat Lanez ook heelwat  volgelinge in die rapwêreld het. Ieder geval. Nicki se man, Kenny Petty, is glo ’n veroordeelde verkragter en dis daar waar Nicki ook met die gereg gebots het.

Megan en Nicki was vriende, maar soos dinge in die vermaaklikheidsbedryf soms gaan, het kompetisie tussen die twee ’n geweldige uitval veroorsaak. Die een sê aanlyn dié oor daai een, en kort voor lank waai die beskuldigings en mense begin praat uit die huis uit.

In Megan se onlangse liedjie “Hiss” rap sy oor hoe mense vals stories oor haar opmaak en verwys na iemand wat destyds saam met R Kelly gedans het. Op X begin Nicki se aanhangers toe snuf in die neus kry. Nicki spring op die bandwagon en begin beskuldigings na Megan se kant toe gooi. Sy stel ook die liedjie “Big Foot” vry, wat op Megan gemik is. Sy noem Megan onder meer “big foot” (Megan is lank en dra ’n groter skoen as Nicki) en voer aan dat Megan op haar coat tails gery het om roem te verwerf.

Megan se argument was dat haar liggaam natuurlik is, terwyl Nicki al menige operasie ondergaan het om te lyk soos sy lyk. Megan se aanhangers het dit onder Nicki se aandag gebring dat sy liefs nie van ander vroue sleg moet praat terwyl haar man ’n verkragter is nie.  

En hier is hoekom hierdie beef saak maak – hoekom doen ons vroue dit die heeltyd aan mekaar? Ons haal mekaar uit, praat dikwels sleg van ander se  liggame, praat uit die slaapkamer uit en kompeteer so hard met mekaar dat ons soms fokus op ons eie journeys verloor (ek haat die woord journeys, maar nou ja.)

Ek sal graag van mans en gender nonconforming mense wil hoor – doen julle dit ook aan mekaar? Ons is nou al in die hoeveelste golf van feminisme en nog steeds kry sommige vroue dit net nie reg om gesonde en volhoubare verhoudings te handhaaf nie. Megan en Nicki, ek wens julle alles van die beste toe. Gaan genees in vrede.


15

kyk, rondom die wond in die grond
waar die boom afgekap is
nou die ene duistere distansie
krabbel 'n raserny miere
in 'n raaisel van radeloosheid
nog dae daarna

- Breyten Breytenbach

Uit: die windvanger

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.