Bod vir Anglo ‘is g’n mosie van wantroue’ nie, sê Cyril

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Bod vir Anglo ‘is g’n mosie van wantroue’ nie, sê Cyril

Hoe jonger, hoe konserwatiewer is Nederlanders, skryf ANESCA SMITH. Kortpaaie met beleid oor dinge soos minimumlone lei dikwels tot onvoorsiene gevolge, meen WILLEM KEMPEN, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 30 April 2024
  • Daagliks
  • 5 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die presidensie het gister in 'n verklaring teruggekap teen die “narrative" wat geskep word dat die Australiese mynbougroep BHP se oornamebod van R740 biljoen vir Anglo American neerkom op 'n mosie van wantroue in Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming.

2. Die appèlhof het 'n vroeëre hooggeregshofbeslissing omgekeer en beslis dat Eskom nié fouteer het toe hy Babcock Ntuthuko Engineering glo weens ontbrekende dokumentasie gediskwalifiseer het van ’n tender om ketels by sy steenkoolkragstasies in stand te hou nie. Dit beteken dat die maatskappye Steinmüller en Actom die ketels by Eskom se 15 steenkoolkragstasies in stand sal hou.

3. Die GOOD-leier Patricia de LilleJohn Steenhuisen is 'n “fool" weens sy verwysing na kleiner politieke partye as political mercenaries" en “popcorn parties". De Lille het stemme gewerf in Elsiesrivier, een van Kaapstad se mees bendegeteisterde gebiede, en gesê dié area is 'n bewys dat die DA se “good service delivery" nie vir almal waar is nie.

4. Pres. Cyril Ramaphosa het onverwags die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate na Mosambiek en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) tot 31 Desember verleng, het Erika Gibson in Business Day berig.

5. Prof. Mark Swilling skryf in The Conversation dat Brian Molefe en Matshela Koko se destydse weiering om koopooreenkomste vir hernieubare energiebronne namens Eskom te onderteken 'n “noodlottige fout" was. As hulle dit wel onderteken het, sou dit vandag 95% van beurtkrag onnodig gemaak het, skryf Swilling.

6. Die Amerikaanse departement van landbou is besig om beesvleis te toets wat afkomstig is van deelstate met uitbrake van voëlgriep in melkkoeie, maar bly “vol vertroue" dat die land se vleisvoorraad veilig is.

7. Die bobaas-bakker Xavier Netry is aangewys as die 31ste wenner van Parys se jaarlikse “Grand Prix de la baguette". Sy baguette het 172 ander inskrywings geklop.


Daar is 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Kaapprovinsies, waar dit vandag deels bewolk tot bewolk sal wees. Dis hoofsaaklik mooi weer en warm in die binneland, hoewel dit deels bewolk kan wees in dele van Noordwes en die Vrystaat. Dit word ook baie warm in dele van KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 19°C • Durban 29°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 27°C • Upington 33°C • Gqeberha 29°C • Oos-Londen 33°C.


Willem Kempen | ’n Bietjie waardigheid

Een van die beter slagspreuke op al die verkiesingsplakkate is “A Job in Every Home" van Mmusi Maimane se Build One South Africa (Bosa). Dis aspirerend en tog nie onrealisties nie, selfs al moet ons minstens 2 miljoen nuwe werksgeleenthede in die land skep om dit waar te maak. Maar die vraag bly: Hoe presies? Watse soort werk moet dit wees? Watse soort beleid gaan mens by daardie punt help kry? 'n Mens kan selfs vra hoe “a home" in ons konteks gedefinieer moet word. En in watter mate kan 'n staat hoegenaamd werk skep?

Dis nie eenvoudige vrae nie, en dis 'n bewegende teiken; dít wat 'n jaar of vyf gelede in 'n ander land waar was, gaan nie noodwendig vandag by ons werk nie. Beleid wat in Suid-Afrika se beleërde formele ekonomie werk sal help skep, gaan dalk presies die teenoorgestelde in die enorme informele ekonomie beteken. Die gevolge gaan verskil vir 'n huishouding op die Kaapse Vlakte en een af in die pad van Nkandla. Mense se idees van wat 'n werk is, en hoeveel dit moet betaal voor dit “gainful employment" genoem kan word, verskil geweldig. Vir een werker sal die nasionale minimumloon van R27,58 per uur dalk 'n bietjie meer waardigheid en geld in die sak beteken; vir 'n ander kan dit selfs meer onsekerheid inhou. Dieselfde geld ons maatskaplike toelaes.

Die punt is, beleid oor hierdie soort ding moet deur behoorlike navorsing en fyn dinkwerk gevorm word. Daar is 'n lang lys voorbeelde waar goeie bedoelings tot groter ongelykheid en armoede gelei het, maar daar is ook voorbeelde van wat wel werk.

Wat van ons sit so bietjie al die agterdog en wantroue onder mekaar eenkant, selfs al kry dit ons net so 'n bietjie nader aan daardie droom op die plakkate?



Jong mense die eerste keer meer konserwatief as hulle ouers

Boedapest was die naweek dié plek om te wees as jy deel is van Europa se verregse of ultra-konserwatiewe gemeenskap.

Pres. Viktor Orbán van Hongarye was vir die derde jaar agtereenvolgens gasheer van die radikaal-regse CPAC-kongres – oorgewaai van Amerika – waar jy al by die ingang begroet word deur 'n “No Woke Zone”-spandoek ingeval jy as linksgesinde verdwaal het.

Die enigste rede waarom die kongres op my radar was, was omdat Nederland se eie Donald Trump, Geert Wilders, ’n eregas by die geleentheid was. Orbán sou natuurlik verkies het om Wilders as premier van Nederland te verwelkom, maar dié hoop het goddank nou byna heeltemal vervaag al het Wilders se party die meeste stemme in die onlangse verkiesing binnegesleep.

Lees die volle brief hier.


Parkinson

In die huis vol foto’s en borduurwerk,

die gelese boeke in die rakke,

die skilderye van baie reise,

die breë TV-skerm met programme

oor verre plekke, kookavonture

en beelde van vervloë platteland

het haar woorde min geraak, die bure

opgehou om te kom, die dominee

verdwyn en die versorgers gedwee

hulle stille gang gekom en gegaan.

Uit ’n bottel Tassenberg en broodjies

van Pick n Pay is ’n Nagmaal

oor haar lippe gesmeer en vir laas

het sy geglimlag, haar vingers geroer

en in die vergeteldheid weggeraak.

Toe het sy soos ’n lamp uitgeflikker

en die blomme geel en rooi geskryn.

Geagte bure, nou kan julle weer,

sonder om te vra, die soet, ryp vrugte,

die suurlemoene, die jaarlemoene

en die spierwit winterrose kom pluk,

want almal weet die huis is nou weer oop.

Johann Lodewyk Marais

 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.