‘Verraad’, sê Cyril oor DA se brandende landsvlag

WOENSDAG MET WILLEM

‘Verraad’, sê Cyril oor DA se brandende landsvlag

Oor die gebou wat in George ineengestort het, sê ALI VAN WYK selfs iets wat soos 'n leë gebaar voel, kan weerlose mense help oorleef. WILLEM KEMPEN wonder wat die toekoms vir die land se vulstasie-werkers inhou, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

1. Die ANC het uitgevaar teen 'n DA-verkiesingsadvertensie wat 'n brandende landsvlag uitbeeld.  Cyril Ramaphosa het dit as “desperate and inciteful" en “treasonous" beskryf, terwyl Helen Zille dit verdedig het: “We picked the flag as the clearest symbol of the dream we shared 30 years ago, at the dawn of democracy under President Nelson Mandela. The flames show how his vision has been ravaged by 30 years of ANC rule. And we warn that under an ANC/EFF/MK/PA coalition, it will be obliterated entirely."

2. Amazon het sy Suid-Afrikaanse besigheid by Amazon.co.za gister amptelik bekendgestel. Suid-Afrikaners kon tot nou toe wel by Amazon.com koop, maar sal voortaan toegang hê tot plaaslike aanbiedinge en handelaars, wat nuwe mededinging vir gevestigde plaaslike besighede soos Takealot beteken.

3. Die Stad Tshwane het 39 aanbiedinge ontvang in reaksie op 'n versoek om inligting (RFI) van onafhanklike elektrisiteitsverskaffers, het burgemeester Cilliers Brink gesê. Tshwane wil teen 2026 sowat 1 000 MW se elektrisiteit van onafhanklike bronne kry, en oorweeg glo ook klein modulêre kernreaktors as dit lewensvatbaar blyk te wees, het News24 berig.

4. Die motorbedryfliggaam Naamsa sê om die invoer van gebruikte voertuie na Suid-Afrika toe te laat, sal die land se vervaardigingsbedryf vernietig en tot die verlies van duisende werksgeleenthede lei. Naamsa het gereageer op 'n DA-beleidsvoorstel wat verlede week uitgereik is (The DA’s plan to unleash enterprise, grow the economy and create jobs 2024).

5. Die Israeliese weermag het gister beheer oor die Rafah-grensoorgang tussen die Gaza-strook en Egipte oorgeneem ná 'n nag van lugaanvalle op die Palestynse enklawe. Dié oorgang is 'n belangrike toegangsroete vir noodvoorrade wat na Gaza gestuur word.

6. Die Amerikaanse National Highway Traffic Safety Administration (NHTSA) het Tesla gevra om gedetailleerde besonderhede te gee van die meer as 2 miljoen voertuie wat in Desember herroep is sodat 'n nuwe weergawe van die Autopilot-stelsel geïnstalleer kon word. Die NHTSA ondersoek 20 botsings waarin Teslas met die nuwe weergawe van Autopilot betrokke was, het Reuters berig.

7. Donald Trump het haar in 2006 in satyn-pajamas in sy hotelkamer ingewag, het die voormalige porno-aktrise Stormy Daniels gister getuig. Die staatsaanklaer, Susan Hoffinger, het gesê Daniels se getuienis is nodig ter wille van volledigheid en om haar geloofwaardigheid as 'n getuie te bevestig.


Mooi weer en warm toestande kan meestal in die binneland verwag word. Dit word wel baie warm in dele van Mpumalanga en Limpopo. Deels bewolk in KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap terwyl ligte reën vanoggend in dele van die Wes-en Oos-Kaap verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 29°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 29°C • Kimberley 29°C • Upington 30°C • Kaapstad 19°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C • Durban 27°C.


Ali van Wyk | George is almal se tragedie

Om met ’n ouer te praat wat onlangs ’n kind verloor het, is ’n uitdagende ervaring. Om naby ’n weerlose mens te kom is ’n intieme oomblik wat enige woorde banaal en leeg laat voel. Ons wil dit instinktief vermy, al is dit lafhartig. Mense wat al in so 'n weerlose posisie was, sal egter vir jou sê dat enige opregte woorde van medelye en ondersteuning werklike krag het, al is dit onbeholpe.

Om niks te doen in die nasleep van ’n ramp soos in George met die ineenstorting van ’n halfgeboude veelverdiepinggebou in die sakekern, is maklik, omdat dit met mense en ’n gemeenskap gebeur wat die meeste van ons nie ken nie.

Edwidge Danticat, ’n skrywer van Haiti, het in Januarie in 2010 in die nasleep van die groot aardbewing in Haiti in The New Yorker opgemerk dat pres. Barack Obama belowe het dat Amerika die land nie in die steek sou laat nie, omdat die tragedie Amerikaners herinner het aan hulle gedeelde menslikheid. “Ek is bekommerd dat dit te maklik is om rampspoed te relegeer tot iets ‘anders’, en nie ’n deel van ons almal nie. Ek glo taal – die taal van digters – kan ons almal laat terugkeer na ’n ‘gedeelde menslikheid’, op deurslaggewende maniere.”

Min van ons is digters en dit klink esoteries, maar wat gewone mense kan doen as so 'n verwoestende gebeurtenis ’n gemeenskap tref, is om die geleentheid te gebruik om ’n funksionele samelewing te word te midde van soveel aanslae op ons eenheid. Vra die kinders in jou klas om elkeen ’n briefie van liefde en medelye te skryf en stuur dit vir ’n ma wat ’n seun verloor het.

As jy deel van ’n kerk is, vind uit of jou kerkgemeenskap ’n gemeente op George het, en stuur lewensmiddele en geld vir die gemeente om vir die gesinne wat ly te gaan gee. Doen enigiets. As jy al in ’n weerlose posisie was, sal jy weet dat mense wat selfs net aan jou dink, jou help om te oorleef.

* Teen gisteraand was ses sterftes bevestig. Minstens 47 mense word nog vermis.



Kom ons hoop ‘Klein Olie’ kan oorleef

'n Mens hoor met goeie rede nie dikwels die term “geliefde oliemaatskappy" nie. Olie is 'n vuil besigheid, van die wyse waarop dit uit die grond gehaal en vervoer word tot by al die goed wat fortuinsoekers en regerings en rampokkers sal aanvang om in al die groot geld te deel.

Die meeste van ons is gelukkig genoeg om nie veel meer met die oliebedryf te doene hoef te hê as wanneer ons by “die graadj" intrek vir brandstof nie.

Lees die volle brief hier.


Tjorts!

Die wêreld is alles
wat die geval is
het Wittgenstein gesê
maar ek en die gevalle alles
het mekaar verkeerd opgevryf jare lank
het ek my swart hart
kinderlik soos 'n vuis
vir revolusie gebal my tande
vir 'n ander wêreld
geslyp.

Maar op hierdie uitgewasde somerdag
met die stad wat soos opdrifsels
teen 'n Tafelberg vol littekens lê loop
my beker oor drink ek
van 'n dakkamer in Woodstock
op Het van Verlangekraal
en alles wat geval het.
Want o, hierdie bedroë wêreld met sy kleinlike oorloë
liefdesverklarings Klopsekore en skelm pastore
ís my vervalle woning
hierdie stukkende lewe met sy
Verspeelde lente sy Rain Dogs en daai honde wat blaf
by die hekke van paradise, ja, net hierdie lewe
met sy Madame Bovary’s horries bergies
en botteltjies blou gee ons
'n perverse meesterstuk
ons daaglikse brood –
die groot onheilige mis voor
die son.

– Danie Marais

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.