Kom geniet Vrye Weekblad se tweede Stilbaai-boekefees

SIEN JOU DAAR

Kom geniet Vrye Weekblad se tweede Stilbaai-boekefees

Kom kuier saam met ons en van jou gunstelingskrywers en geniet lekker kos, gesprekke, musiek en, natuurlik, boeke! Hier is alles wat jy wil weet van die Stilbaai-boekefees, wat van 24 tot 26 Februarie plaasvind.

  • 24 Januarie 2023
  • Boeke
  • 3 min om te lees

NÁ die sukses van verlede jaar se Stilbaai-boekefees bied Vrye Weekblad dit vanjaar vir die tweede keer aan. Lesers van oor die land kan heerlik saamkuier en gesels. Fiksie, niefiksie en aktuele onderwerpe kom aan die beurt. Jy sal ook kan boeke koop.

“Wat ’n voorreg om deel te neem aan hierdie wonderlike projek wat deur sterk vroue georganiseer word. En dit is juis waaroor Vier susters gaan: sterk vroue wat teen die patriargale stroom swem. Stilbaai gaan allesbehalwe stil wees. Lewendige gesprekke oor lieflike boeke op ’n lieflike plek.”

So sê Gerda Taljaard, wie se Vier susters in 2022 met die kykNET-Rapportprys vir fiksie bekroon is. Sy en Kirby van der Merwe gaan saam op die verhoog wees by ons fees. Kirby gaan praat oor sy Eugene, ’n verhaal oor ’n gentleman-skollie, ’n gesofistikeerde man wat in ’n rowwe buurt grootgeword het. Wicus Pretorius, Tuis-redakteur en Fiësta-aanbieder, is hul gespreksleier.

En ja, Fiësta het bevestig dat hul kameraspan weer kom om ons fees en ons dorp af te neem!

Bespreek hier (die kaartjies vlieg reeds).


Hier is die volle program:

Vrydagoggend 24 Februarie om 10:00 begin ons met ’n Italiaanse kosdemonstrasie deur die Afrikaanse Italianer en oud-Stilbaaier Reinette Anastagi, bygestaan deur Wicus Pretorius, redakteur van Tuis. Die kaartjies hiervoor is beperk. Bespreek so gou as moontlik.

Die aand spring ons amptelik om 17:30 weg met Niel Rademan wat agter die klavier inskuif. Ons redakteursgesprek begin om 18:00. Anneliese Burgess, Max du Preez en ons twee bydraende redakteurs, Anastasia de Vries en Piet Croucamp (en julle!), gaan gesels oor die stand van die land. Die onderwerp is: “Hoe oorleef ons Suid-Afrika se donker uur?”

Daarna gaan ons om ’n spitbraai kuier (en Niel gaan weer optree). Uit Vrye Weekblad se geledere sal julle onder andere vir Willem Kempen, Pieter van der Merwe, Laureen Rossouw, Kerneels Breytenbach, Deborah Steinmair, Ali van Wyk en Elmari Potgieter kan ontmoet. Die kaartjies is beperk omdat die rolbalklubhuis (wat ’n kontantkroeg het) nie plek vir ’n hele skare het nie. Bespreek so gou as moontlik.

Op Saterdag 25 Februarie kom ons weer by die lieflike Baptistekerk-op-die-heuwel bymekaar. Elna het vanjaar die program ’n bietjie aangepas sodat daar tussendeur meer tyd is vir koffie drink en pannekoek eet en boeke koop.

07:30 – Ontbyt sal in die markiestent beskikbaar wees.

08:30 – Frederik de Jager (Ver in die wêreld) en Chanette Paul (Die vywervrou-trilogie) gesels oor die plek van “plek” in skryfwerk. Gespreksleier: Daniel Hugo

09:30 – Die aktrise Lindie Stander (Agter my glimlag) en die pastoor Ivor Swartz (Kies die lewe) het albei hard geval en weer opgestaan. Albei ken ook depressie. Gespreksleier: Deborah Steinmair

11:00 – Ingrid Jones (Beyond the blue: Women of the sea), tannie Betsie en Thérèse Hulme (Práát jy!) voer ’n gesprek oor vissersvroue wat ’n bestaan maak in kusdorpies en agtergeblewe kinders wat geleer word om te dig. Gespreksleier: Elna van der Merwe

12:00 – Irma Venter (Die verkeerde vrou) en Cas Wepener (Roman) skryf verskillend oor spanning, maar albei sleur jou tot die einde bladsy vir bladsy mee. Gespreksleier: Anastasia de Vries

12:45 – Middagete beskikbaar in die markiestent. Al die koeke (vet-, panne-, rooster-), toebroodjies, vars koffie, koeldrank, ensovoorts.

14:30 – Gerda Taljaard (Vier susters) en Kirby van der Merwe (Eugene) is twee meesterstoriespinners wat net so onderhoudend gesels as wat hulle skryf. Gespreksleier: Wicus Pretorius

15:30 – Pieter du Toit (The ANC Billionaires) en Jacques Pauw (Our Poisoned Land) skryf oor dinge wat jy wil weet en moet weet. Kry ’n wyer blik op ons wêreld. Gespreksleier: Max du Preez

Sondagoggend 26 Februarie

07:00 – Ons ontmoet Nico Steenekamp by die hawe en stap saam met hom deur die Feetjiebos.

Ons kan nie wag om julle op Stilbaai te verwelkom nie!

Bespreek jou kaartjies nou by Quicket. Die kosdemonstrasie kos R150, die redakteursgesprek R90 en die spitbraai R250. Die kaartjies vir Saterdag se individuele gesprekke is R90 elk, maar as jy ’n pakket vir die hele dag koop, werk dit uit op R70 per gesprek. Sondag se uitstappie is gratis.

Navrae: stilboeke@gmail.com

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.