Transitorooftogte: die virus muteer wéér

MISDAAD

Transitorooftogte: die virus muteer wéér

Moenie dink transitorooftogte se tjank is afgetrap nie, waarsku ANNELIESE BURGESS, skrywer van Heist! South Africa’s cash-in-transit epidemic uncovered. In die eerste van twee aflewerings oor een van Suid-Afrika se grootste misdaadprobleme sê sy dit gaan nog steeds rof daar buite. Transitorowers pas aan by verbeterde polisiëring en het deesdae makliker teikens in hul visier.


IN 2018 het transitorooftogte die land weer behoorlik op hol gehad. Hoewel dit orals begin kop uitsteek het, was dit eers in Mei, nadat 'n dramatiese video van 'n aanval in Boksburg sosiale media aan die gons gehad het, dat die meeste mense die volle omvang van die krisis begin besef het.
Die Boksburg-voorval was onbeskaamd gewelddadig en is helder oordag met militêre presisie in 'n besige stadsgebied uitgevoer. 'n Groot bende het twee pantserwaens met plofstof opgeblaas, terwyl mans in swart uitrustings met aanvalsgewere defensiewe posisies op verskeie straathoeke ingeneem het. Die hele hit was ysingwekkend. 
Hoe skokkend hierdie voorval ook al was, was dit maar net die oortjies van die seekoei. Die drukpot was vir jare al aan die prut. Transitorooftogte het tussen 2014 en 2017 met meer as 100% toegeneem. Die virus het maand ná maand, jaar ná jaar, wilder en wilder begin groei, totdat die situasie so buite beheer geraak het dat daar teen die einde van 2017 tot  vyf voorvalle per dag in Suid-Afrika plaasgevind het.
Een van die grootste bydraende faktore was die mankheid van die Suid-Afrikaanse polisiediens, wat soos 'n dronk hoender deur die Zuma-jare geslinger het. Misdaadintelligensie het uitmekaar geval terwyl dit dieper en dieper in die faksiepolitiek van die tyd verstrengel geraak het. Dit was 'n goue era vir georganiseerde misdaad, en transitorooftogte het behóórlik vastrapplek gekry.
Vinniger en hardhandiger polisie
In die eerste paar maande van 2018 het die Ramaphosa-briesie egter selfs tot in Wachthuis begin waai. Misdaadintelligensie het 'n nuwe baas gekry in die hoogs gerespekteerde generaal Peter Jacobs, en daar was ook 'n nuwe cowboy in die dorp – minister Bheki Cele.
Agter die skerms was daar toenadering tussen die transito-veiligheidsmaatskappye en die polisie. Die eerste boublokke van 'n nuwe samewerkingsplan om transitorooftogte te prioritiseer is in plek gesit, insluitend 'n spesiale taakspan met ervare ondersoekbeamptes, nouer samewerking tussen die polisie en die maatskappye se intelligensie-operateurs (die meeste van laasgenoemde is ervare oudpolisiemanne) en 'n sogenaamde 72-uur-aktiveringsplan met die doel om vinnig en doelgerig verdagtes te jag en aan te keer.Spesiale opsporingspanne is ontplooi in Gauteng en omringende provinsies waar transitorooftogte oor die jare skerp toegeneem het:  Noordwes, Limpopo en veral Mpumalanga was die brandpunt van die transito-tsoenami.Die Boksburg-voorval (en die meegaande media-soeklig) was 'n goeie katalisator vir vinniger en hardhandiger polisieoptrede. Die eerste arrestasies is binne ure gemaak, en vyf mans het binne dae in die hof verskyn. Dit was 'n nuutjie.
Ses maande ná die Boksburg-voorval het Cele in 'n triomfantelike perskonferensie aangekondig dat daar 66 minder transitovoorvalle tussen April en November was in vergelyking met dieselfde tydperk die vorige jaar, en dat 237 mense gearresteer is. Volgens hom is heelwat rooftogte gefnuik voordat hulle kon plaasvind omdat die polisie beter intelligensie tot sy beskikking gehad het.
Hy het dié sukses hoofsaaklik toegeskryf aan die samewerking tussen misdaadintelligensie, die Valke, ervare ondersoekers, forensiese deskundiges en taktiese spanne wat sáám gesorg het dat kritieke intelligensie en bewysstukke direk ná 'n rooftog opgevolg is.
“Maar, ons is nog nie anderkant uit nie," het hy bygevoeg. Dit was 'n stukkie bitter waarheid, toegedraai in 'n versigtige vermaning. Daar was steeds 'n ongelooflike 118 transitovoorvalle in hierdie tydperk.
“Verplasing”
Hoewel daar in die eerste vier maande van 2019 bykans 30% minder transitorooftogte was as in dieselfde tydperk die jaar tevore, is die virus besig om te muteer. 
In my boek oor die onderwerp beklemtoon transitorowers oor en oor dat dié soort misdaad maklik, winsgewend en met 'n lae risiko was, en dat hierdie drie faktore die dryfkrag agter die golf van sulke voorvalle was.
Misdaad en misdadigers pas aan by nuwe omstandighede. Kriminoloë noem dit “verplasing". Met die proaktiewe fokus op transitorooftogte – veral die aanvalle op voertuie waar groot hoeveelhede geld gebuit kon word - het misdadigers nou nogmaals hul fokus verskuif na makliker en sagter teikens.
Terwyl aanvalle op geldwaens met byna 59% afgeneem het tussen Januarie en April vanjaar, het gewapende roof by besighede (baie keer gemik op die transito-spanne wat geld haal of aflewer) met 56% toegeneem. Die hoeveelheid geld wat só gebuit is, het met meer as 200% gestyg. Dit is 'n kommerwekkende verwikkeling.
Daar is ook 'n geografiese verplasing.
Terwyl die voormalige knelpunte  Limpopo, Noordwes en Mpumalanga almal 'n dramatiese vermindering in voorvalle toon, het die sindikate duidelik begin soek na groener weivelde waar dit nie so “warm" is nie.
Die provinsie wat nou die hardste deurloop, is die Oos-Kaap. Hier was daar in die eerste vier maande van vanjaar 'n 71%-toename in transitorooftogte, terwyl daar in KwaZulu- Natal 'n 40%-styging was.
Transitorooftogte in Gauteng is 46% minder as laas jaar, maar daar was steeds 'n ongelooflike 20 sulke rooftogte in Suid-Afrika se kleinste provinsie tussen Januarie en April vanjaar. 
VOLGENDE WEEK: Die polisie spog met 'n hoë aantal arrestasies, maar hoeveel vervolgings is daar? Dít is waar die geveg gewen gaan word, en hier lyk dinge nie goed nie.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.