Klimaatskrisis, korrupte kollegas en leserskommentare

BULLETIN

Klimaatskrisis, korrupte kollegas en leserskommentare

Nuusbulletin: 21 MEI 2019


Goeiemiddag
Dit was moeilik om te kies watter e-posse om vandag te plaas. Ons lesers het uitstekende idees en voorstelle – en baie daarvan. 
Hier is net 'n paar uittreksels uit die bydraes; ons publiseer in ons uitgawe Vrydag nog lesersbriewe.
Ons wil ons sê sê ... 
Ek mis die lesers se kommentare op die artikels wat in Vrye Weekblad verskyn. Vir my is die leserspubliek se kommentare op artikels uiters belangrik. Dit hou die joernaliste op hul tone. En baie van die kommentare gee nuwe insigte. Uiteraard moet die inhoudelike van kommentare aan wetlike voorskrifte voldoen.
Dit sal jammer wees as Vrye Weekblad 'n eenrigting-kommunikasiekanaal wil wees. – Johann Basson
 (Ons het baie versoeke hieroor uit die Vrye Weekblad-gemeenskap ontvang. Alle stories is nou oop vir kommentaar. – Red.)
Hou op met eufemismes oor klimaat
Ek sien onlangs het The Guardian besluit om hulle terminologie oor klimaatsverandering te verander na klimaatskrisis of klimaatskatastrofe, ensovoorts, om die impak daarvan vir mense meer duidelik en korrek weer te gee. Dink julle nie ook dis 'n baie goeie idee nie? 
Dit kan nogal 'n verskil maak aan mense se ervaring en persepsie van wat ons in die gesig staar. Dit sal vir my 'n riem onder die hart wees as meer publikasies in Suid-Afrika, insluitende VWB, baie aandag aan die klimaatkatastrofe gee.
Om Kerkorrel te parafraseer: Almal, almal moet omgee. Die gemors hier skoonmaak. – Annemarie van Wyk
(Ons stem saam. – Red.)
Cyril se probleem met sy ‘korrupte kollegas’
 My oplossing vir Cyril se probleem is:
Druk alle veranderinge wat jy wil maak, deur. As die ANC jou dan uitskop, laat die ANC skeur en sluk die DA in, omrede hulle kan nie verder vorder soos hullle tans is nie.  Hulle kort 'n leier. Wat hulle het, is 'n dirigent. –Piet du Plessis
(Maar dink jy die DA sal Cyril  toelaat om hulle te dirigeer?  – Red.)
Vrydae is leesdae
Dankie vir leesstof wat my deadlines laat mis en my tee langs my laat koud word ... Vrydae is deesdae totaal en al leesdae.
Êrens is 'n leemte in my begrip van hoe die cans of worms wat by die Zondo-kommissie oopgemaak word, hanteer word. Spesifiek: Waarom is soveel druk op Nene geplaas om sy posisie te ontruim? Is daar 'n groter kas vol geraamtes waarvan ek nie weet nie of wat ek êrens misgelees het? Want veel meer verdoemende bewyse en getuienisse word gelewer teen ander wat veel meer gereeld in Saxonwold tee gedrink het, maar hulle sit nog rustig op hul trone.
Sal Nene weer 'n rol kan speel in Ramaphosa se regering? Ek is seker daar is nog mense wat wonder. – Sanet de Villiers
(Hou vas, daar gaan nog vele wurms by die Zondo-kommissie uitpeul. –  Red.)
ShowMax
Max, jy is 'n hero.  En jou nuwe (ou) koerant die beste in die land. Het nie destyds so gedink nie, but a woman or man may change their mind. –André Gaum
(Dankie, André. – Red.)
Laat die e-posse inrol. 
Groetnis
Anneliese en die res van die Vrye Weekblad-span

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.