Van die Rosestad se klosbomme tot by narre wat deur onsin kan vleg

05 OKTOBER 2022

Van die Rosestad se klosbomme tot by narre wat deur onsin kan vleg

Vyf dinge wat jy vandag wil weet, Max du Preez ween oor wat die ANC (ook) aan Bloemfontein gedoen het, en Deborah Steinmair wonder wat van die regverdiges se sambrele geword het.

Goeiemôre!


  1. Daar is aantygings van buffelagtige gedrag teen die vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, Mamokgethi Phakeng. Mense bedank links en regs en sy voer glo ’n skrikbewind. Sy is mooi en jonk en lyk soos ’n feeks in ’n sepie. (Het die speelgrondteisteraars bestuurders en leiers geword?)
  2. Kurt Vonnegut het gesê: “You meet saints everywhere. They can be anywhere. They are people behaving decently in an indecent society.” (Daar is altyd helpers.)
  3. Die Camden-kragstasie is van die netwerk gehaal toe ’n werknemer, wat beslis van beter moes weet, klaarblyklik met opset die verkeerde klep oopgemaak het. In die proses het besmette water in die stoomketel beland. (Die drol in die drinkwater?)
  4. Het jy al gehoor van functional stupidity? Dis wanneer werknemers doen presies wat van hulle verwag word, sonder om vrae te vra of inisiatief aan die dag te lê. (Die hartseer waarheid is dat daar bestuurders is wat sodanige optrede van werkers verwag.)
  5. Die Gautengse hooggeregshofregter Elias Matojane, wat beslis het dat oudpres. Jacob Zuma moet teruggaan tronk toe, ding mee om ’n posisie op die bank van die Hoër Hof van Appèl. Julius Malema wou by hom weet wat dit die samelewing sal baat as ’n 80-jarige tronk toe gaan. (Is Julius oral, soos ’n virus?)

Die weer vandag ...

Pretoria: Steeds bloedig warm teen 36°C met geen kans op reën nie. Johannesburg: 33°C en reënloos. Kaapstad: ’n Koel 18°C en gedeeltelik bewolk. Bloemfontein: ’n Bloedige 33°C dog gedeeltelik bewolk. Polokwane: 34°C en wolkloos. Elders mooi weer en vrek warm.


O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit 'n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis

- NP van Wyk Louw (buite konteks aangehaal).

Die agteruitgang in Suid-Afrika woed onverpoos voort. Omdat dit ons daaglikse werklikheid is, besef ons dit nie altyd nie.

En dan loop 'n klomp goed in 'n kort tyd skeef en ruk ons wakker.

Suid-Afrika is nie Swede of Switserland nie. Ons is deel van wat Europeërs en Noord-Amerikaners ietwat neerbuigend die Derde Wêreld noem. Ons is relatief arm en kom uit 'n bittere geskiedenis.

Maar ons verdien waaragtig beter as wat ons owerhede op al drie vlakke aan ons doen. Ons is darem nie Somalië, Haïti of Liberië nie.

Hoe het dit gebeur dat daar so min politieke wil is om die verval te keer?

Ek sit hier in Bloemfontein en skryf. Die kastige Rosestad is vuil, vervalle en onveilig. Die pad na my gastehuis lyk asof dit deur klosbomme getref is.

Groot dele van Johannesburg is sonder water.

Beurtkrag staan steeds op fase 4.

Drie misdadigers val die Devon-polisiekantoor in Ekurhuleni binne en steel drie polisiegewere en sewe pistole.

In Mpumalanga kry toerisme 'n skoot deur die kniekoppe met 'n Duitse toeris wat buite Witrivier op die nasionale pad na die Wildtuin vermoor word.

Moorde op plase het die laaste paar maande skerp toegeneem.

Die Dennilton-hospitaal het geen ontsmetmiddel nie.

En so kan ek aangaan.

Die sakeleier en oud-hoof van die Poskantoor Mark Barnes het gister op Twitter uit Johannesburg uitgeroep: “No power, no water, no mayor, no premier … no President?”

Die senior joernalis Ferial Haffajee was ewe ontsteld: “On Day 17 of power cuts between Stages 4 and 6 (hours and hours every day) and with the biggest city and economic hub running out of water, doesn’t it sound like an emergency that needs all hands on deck? Things feel rudderless.”

Intussen bestee die regerende ANC al sy aandag aan wie van watter faksie in Desember se verkiesingstryd benoem moet word, en die opposisiepartye het tyd vir min anders as om mekaar in die rug te steek.

Ons president skommel nog naarstiglik agter die skerms aan sy Phala Phala-kaarte en is intussen baie trots dat hy volgende maand die eerste staatshoof gaan wees om tydens 'n staatsbesoek aan Brittanje deur koning Charles III ontvang te word.

En ons wag op die kaptein.

Hier in Bloemfontein gesels ek gisteroggend met 'n senior (swart) akademikus oor die verval in die stad. Die middestad lyk nog mooi vergeleke met die townships waar die meeste Bloemfonteiners bly, sê hy. En dan skud hy sy kop half verslae: “Almal weet wie vir die gemors verantwoordelik is, maar ek sien geen aanduiding dat die ANC se steun hier ingrypend daal nie.”

Suid-Afrikaners moet 'n les by die vroue en tienermeisies van Iran gaan leer. Met hoë risiko vir hulle eie veiligheid betoog hulle daagliks teen die onderdrukking van vroue – Google gerus “Iran protests today” en kyk na die verstommende tonele.

Ons moet almal trots wees op dié dapper weerstand van kwesbare mense teen 'n onderdrukkende regime.

Die ANC is besig om ons dierbare Suid-Afrika deur hulle gatte te trek.

Hulle verdien ons argwaan. – Max du Preez


Beurtkrag en ander los gedagtes

Hallo!

Ek skrik om twaalfuur wakker toe die krag afgaan en die waaier ophou suis. Oomblikke later skop die kragopwekkers en die muskiete in. In die stikdonker verwens ek die regering en hulle gierige kamerade. Maar die vorige bedeling se bose lakeie het donkernag mense se deure afgeskop en gesinne geterroriseer. Dis veel erger as die versteuring van die waaier se wiegelied en sweetdeurdrenkte lakens.

Nou is ek wakker en wonder oor regerings. Hoekom moet daar regerings wees? Is hulle nie maar soos koningshuise nie – bloedsuiers wat teer op die publiek. Die ideale leiers, dit weet almal, moet geroepe wees, dienaars, en min vergoeding ontvang. In The Republic filosfeer Plato oor geregtigheid en ’n ideale stadstaat. Hy wonder of die regverdige man gelukkiger is as die onregverdige. Dit laat my dink aan die volgende kwatryn:

The rain it raineth every day
Upon the just and unjust fella,
But more upon the just because
The unjust hath the just’s umbrella

Dit is aan Ogden Nash en ander toegedig, maar niemand weet vir seker wie dit geskryf het nie.

Plato skryf oor ’n utopiese staat waarvan die leier ’n filosoof-koning is. Aikona, ons het al vir Mbeki gehad en van filosofie het dadels gekom. Of knoffel en beet. Lewerversaking. En grootskaalse sterftes.  

Waar gaan ons ’n regverdige mens kry? Daar was net twee in Sodom en Gomorra en een se vrou is in ’n soutpilaar verander. Soms is daar raadslede wat uitstaan as dienaars en raakvatters, maar hulle bly net waar hulle is. In die kabinet sal uitskieters ander net laat sleg lyk.

Ek wonder soms oor die regbank. Wat van ’n ring van regters wat hulle onderskei het en tot die Konstitusionele Hof verkies is, om die land te regeer? Daar is reeds klagtes uit sekeres se geledere dat hulle eintlik regeer.

Nou is my kop aan die gang en die slaap bly weg. Soms voel ek soos iemand wat pas aangeland het van ’n ver planeet en moet leer hoe om ’n mens te wees. Wat maak mense met hulle arms wanneer hulle slaap? Lê ek op my sy, is my arms altyd in die pad. Hoe nou gelê? Voor die bors met hande opmekaargestapel soos iemand wat aan die diep kant wil induik? Arm slap oor die kontoere van heup en dy gedrapeer?

Ek stel ’n lokval vir die slaap, lê roerloos met geslote oë. Net wanneer my gedagtes begin oplos in beelde, klik my brein soos ’n hoofmeisie: “Jy sien prentjies, jy is amper aan die slaap!” Weg is die prente.

Dan dink ek oor hierdie jaar, wat onverwags erger as 2020 en 2021 was. Wat de hel gaan aan met die planete? Dis asof almal opgeklits en beangs is en hulle lewens lostorring tot chaos. Werkplekke is toksies met bullebakke aan die stuur en ten spyte van die benarde ekonomiese situasie bedank mense op ’n streep.

Hoe sal ek hierdie los gedagtes saamsnoer? Met ’n gedig (hieronder).


VANDAG SE WEGSPRING-GEDIG

Simposium

In tam gesprekke aan tafel – dié wat bly repeteer,
wat aan niks ’n duit gaan verander nie, oor verval,
die postkolonie en standaarde wat finaal duik –
waarin selfs by die liter wyn geen positiewe rol
gaan speel om die geteem te tem nie, is ’n nar
aan tafel ’n aanwins, een wat oppervlakkig
’n gesprek kan heg met kwink en kluitjie
of minstens samehang deur al die onsin kan vleg.

– Johan Myburg

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.