’n Beter Lewe vir Almal Wie se Naam Bheki Cele is

12 OKTOBER 2022

’n Beter Lewe vir Almal Wie se Naam Bheki Cele is

Hier is vyf goed wat jy vandag wil weet; Willem Kempen skryf oor voorvereistes om by die polisie te kan aansluit; en Deborah Steinmair skryf oor toksiese manlikheid.

  • 12 Oktober 2022
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

1. Pres. Cyril Ramaphosa en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, moet ingryp om die staking van Transnet-werknemers te beëindig, het die vervoervakbond Satawu gevra. Busi Mavuso van Business Leadership South Africa het op haar beurt gesê die staking, wat die land na raming tussen R6 biljoen en R8 biljoen per dag kos, kom neer op ekonomiese sabotasie.

2. Die Bank of England het gister bykomende maatreëls ingestel om finansiële markte te probeer gerusstel dat die Britse regering se skuldgefinansierde verlagings in belasting nie tot verdere onstabiliteit gaan lei nie. “Dysfunction in this market, and the prospect of self-reinforcing ‘fire sale’ dynamics pose a material risk to UK financial stability,” het die bank in ’n verklaring gesê. Die maatreëls sluit in verdere aankope van Britse staatseffekte. Ten spyte van die goeie nuus dat Britse werkloosheid nou by ’n 50-jaar-laagtepunt is, is daar steeds kommer dat die land in ’n resessie kan verval.

3. Die aktivistegroep Sweat (die Sex Worker Education and Advocacy Task Force) sê die 21-jarige verdagte wat gearresteer is nadat die lyke van ses vroue op die perseel van ’n paneelklopper in die Johannesburgse middestad gevind is, kan dalk help lig werp op soveel as 30 ander vroue wat steeds vermis word. Die man het voorlopig op een moordklag in die hof verskyn terwyl die ander sake verder ondersoek word.

4. Die Proteas is in die 29ste boulbeurt vir 99 uitgeboul in hul derde eendagstryd teen Indië wat gister in Nieu-Delhi beslis is. Die tuisspan het net 19 boulbeurte en een bal nodig gehad om dié teiken te haal en die reeks met 2-1 te wen.

5. Die nuutste Deense infeksieverslag wys dat minstens 120 variante van die Sars-CoV-2-virus wat Covid-19 veroorsaak die afgelope vier weke in daardie land geïdentifiseer is. Dit dui moontlik daarop dat die variante besig om in ’n “sop” van uiteenlopende swakker weergawes te versprei.


Hier’s ons weer!

Die hittegolf in Gauteng is dalk verby sy ergste, maar die Weerdiens het gister gewaarsku dit kan nou na die Laeveld skuif. Terselfdertyd het die Verenigde Nasies en die Rooi Kruis gister in 'n gesamentlike verklaring gewaarsku dat hittegolwe binne dekades die lewe in sekere dele van die wêreld onhoudbaar kan maak.

Die verwagte dagtemperature op 'n klompie plekke in Suid-Afrika vandag: Pretoria: 30°C. Johannesburg: 28°C. Kaapstad: 19°C. Durban: 26°C. Bloemfontein: 32°C. Polokwane: 30°C. Upington: 37°C. Gqeberha: 21°C.


Deborah Steinmair gooi ’n houtoog op toksiese manlikheid

Ek kyk op Facebook na Boushra Almutawakel, fotograaf van Jemen, se foto’s; sy onrusbarende reekse Disappearing Muslim Women en What if. ’n Verdoemende visuele verslag van vroue wat stuk-stuk verdwyn tot net hul oë soos vanuit ’n posbus loer.

Dit maak my briesend oor Moslemmans. Dis asof hulle vroue se geslag wil kriminaliseer. Van ons sondebokke maak vir bokkapaters se ongebreidelde belustiging. Eva is hoeka van altyd af geblameer vir die verbode vrug. Dis asof daar mans in die wêreld is, mans wat êrens in die Middeleeue of daarvóór vasgehaak het weens gebrek aan opvoeding en weens die kettings van religie. Mans wat glo dat hul manwees die enigste ding is wat hulle spesiaal maak. Dat die heilige penis hulle bo die sogenaamde swakker vat – hulle eiendom – verhef.

Sulke redenering slaan my stom. Om mans (van wie die meeste nogal ordentlik is) ’n bietjie minder ongemaklik te maak, gaan ek my voorbeeld verskuif na my eie geslag. Iets wat my nog altyd dronkgeslaan het, is jong vroue se droom van ’n uitspattige wit troue. Jou groot dag waar jy as stralende bruid die middelpunt van aandag is. Dan wil ek vra: Is dit jou enigste aanspraak op spesiaalheid, die feit dat ’n man met jou wou trou? Skep tog jou eie spesiaal!

Rolle verwar my. En reëls. Vir Moslemmans wil ek sê: Haal jou taai hand onder jou jurk uit en hou op skommel. Steek jou hand in eie boesem. Vir bruide wil ek sê: Verwerf ’n graad of slaan ’n toekenning los as jy die kollig begeer. Is ek omgeëllie? Moet my om hemelsnaam net nie histeries noem of verwys na vrouekwale en siklusse nie.

Ek laat jou met twee gedigte. Die eerste is deur Johann de Lange en wys dat gay mans ook deurloop onder die stram verknotenheid van (sekere) straight mans, die minagtende oog, die gebrek aan vrygewigheid:

Hy sê hy’s str8
& laat jou daarvoor wérk:
dié stortbui vrank druppels
wat hy verbete terug- hou,
dan tjankend ingee
& nooit jou oë ontmoet

Die volgende gedig is deur Corné Coetzee en behoef geen verduideliking nie:

Bruidjie van Jemen
’n Agtjarige Jemenitiese meisie is weens inwendige bloeding tydens haar huweliksnag dood. – Beeld, 13 September 2013
Aan wie se hande is die bloed
van die bruidjie van Jemen?
Wie moes die kurf van haar lyf sien
hoe sy bang word
moes sê: laat my haar nie aanraak nie?
Wie moes keer: nie my kind nie geen kind nie?
Wie het almal kom kyk
hul kenne blink van bruilofsvleis
hoe swartoog Aeesja
sonder haar ma sonder haar pop
sonder ’n laaste soen op haar hare
haar oë op haar man se skoenpunte
weggelei word?

Wie sal ’n woestyn wegdra?


Die droom om eendag minister van polisie te wees ...

Keletso se ma kom was en stryk so een keer ’n week vir ons. Daar is nie ’n pa wat in Keletso se lewe feature nie, en, things being what they are, is dit waarskynlik beter so.

Keletso het ’n jaar of drie gelede matriek gemaak en ná ’n tyd se gesukkel werk gekry, eers by die taxi rank waar sy pendelaars se betalings moes invorder, en later by ’n plaaslike drive-through-eetplek. 

Haar werkplek was in albei gevalle so 15 km van hulle shack in die township buite die stad, en sy moes vroeg soggens en laat saans die 2 km van hulle blyplek af stap tot waar die taxi's haar kon optel omdat die paaie daar te sleg vir selfs ’n winsjagtende HiAce is. Boonop meestal in die donker met net ’n selfoon se flitsie vir beligting, want in ’n stad waar ons bure hier in die burbs pas uit desperaatheid hulle eie sonkragligte op die munisipaliteit se straatpale oorkant hulle huis aangebring het, is dit nou maar soos dit is. Ek wonder wat is die statistiese waarskynlikheid dat ’n jong swart vrou so ’n daaglikse stappery in die donker deur ’n township vir lank in een stuk kan oorleef, maar Keletso het dit reggekry.

’n Rukkie terug kry sy goeie nuus: Die polisie soek rekrute, en sy kwalifiseer om die werwingstoets in ’n buurstad te gaan skryf. Skielik is daar die hoop op ’n behoorlike werk in ’n formele omgewing waar jou matriek dalk iets kan beteken, waar jy kan vorder as jy jou kant bring, waar daar reëls is wat jou beskerm en waar jy nie elke maand hoef te wonder of jy wel betaal gaan word nie.

Keletso is opgewonde. Sy leen die taxigeld om tot in die buurstad te reis vir die toets. Sy kom daar aan, betyds en alles, saam met nog ’n klompie hoopvolles.

Het enige van julle enige tatoeëermerke, vra die toesighouer voordat hulle begin.

Ai tog. Keletso hét een, ’n kleintjie, meeste van die tyd onsigbaar vir die buitewêreld, en sy besluit om dit maar te erken.

Jammer, Keletso, dan kan jy nie die toets skryf nie. Die polisie vat nie mense met tattoos nie, want al die gangsters het tattoos.

Jy sal maar weer iets anders moet soek om te doen, Keletso, want die polisie wil jou nie hê nie.

Dis omtrent die enigste voorvereiste om by die polisie te mag aansluit: dat jy nie ’n tattoo het nie. Jy mag selfs ’n gangster wees, solank jy een van daai slinkse tattoolose gangsters is. Voorslag-poeliesmanne soos Jackie Selebi en Richard Mdluli het dalk hulle foute gehad, maar waaragtig sou jy nie een van húlle met ’n tattoo betrap het nie.

Daar is darem nog hoop vir Keletso: sy sal eendag minister van polisie kan word, want ministers van polisie mag wel tattoos hê omdat hulle nie self in die polisie hoef te gewees het nie.

Dis in ander opsigte ook baie lekker om minister van polisie te wees, soos dat jy kan woon iewers waar die staat (meeste van die tyd) vir jou water en elektrisiteit gee. Jy hoef nie eens altyd daarvoor te betaal nie.

As minister van polisie hoef jy eintlik hoegenaamd niks te doen nie behalwe om nou en dan ’n lawaai te maak en dalk ’n surfer of twee iewers op ’n strand te laat aankeer. En natuurlik moet jy die regte mense in jou stinkvrot party tevrede genoeg hou sodat hulle jou nie met iemand selfs nog meer useless vervang nie.

Dit is voorwaar ’n Beter Lewe vir Almal Wie se Naam Bheki Cele is.

Tot ’n volgende keer

Willem


Vannie.Kaap op Instagram

As jy op Instagram is, volg hulle hier 

Image: INSTAGRAM

En ’n grappie

A priest, a pastor, and a rabbit walked into a clinic to donate blood. The doctor says to the rabbit: “What's your blood type?"

“I'm probably a Type O", the rabbit replied with great sadness.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.