GOEIEMÔRE uit 'n baie nat Oos-Kaap.
Een van my oudste en liefste vriendinne se huis brand onlangs af. Meubels, boeke, kuns. Alles, weg.
Ek en H kom 'n lang pad saam. Ons het lank 'n huis gedeel en, nes ek, het sy ook 'n ding vir “mooi huisgoetertjies". Nou is al haar huisgoetertjies weg en my hart is baie seer vir haar.
Kollega Angela Tuck is ook 'n huishen en 'n opgaarder van mooi goed soos ek en H. Sy verstaan ook. En so bespreek ons hierdie week watter van ons (baie) mooi huisgoeters vir ons die heel kosbaarste is. En, sê sy, skryf sommer daaroor in jou Sondag-brief.
Ek besef uiteindelik my lys is nogal kort. En dat ek minder verknog is aan my wêreldse goed as wat ek gedink het.
Uiteindelik is die voorwerpe wat ek kies nie my Claudette Schreuders-afdruk of my honderde en honderde geliefde kosboeke nie (al sou ek baie graag wou hê dat hulle nie in 'n vuur sneuwel nie).
Die voorwerpe wat vir my die kosbaarste is, is goeters wat my elke keer herinner aan daardie allerlieflike lyn uit 'n Philip Larkin-gedig: “What will survive of us is love." Hartsgoeters wat 'n lint is tussen die verlede en die hede:
- Die lieflike spieëlrakkie wat die einste Angela jare gelede iewers in 'n tweedehandse winkel uitgesnuffel het en vir my as geskenk gegee het, is moontlik my gunsteling-besitting. Dit het 'n tipe relikwieëkissie geword waarop ek voorwerpe hou wat vir my spesiale betekenis inhou. Soos twee klein skilderye – een van my pa en een van die plaas. 'n Foto van my ma toe sy jonk was; en van my dogter as baba met haar pa. Playmobil-figuurtjies van my gunsteling-diere – meerkatte, donkies, 'n takbok en 'n narwal. En 'n oranje dinosaurus. Optelskulpe en -klippies. 'n Familie-sêding wat my dogter vir my geborduur het. Kristalle. Twee toekennings wat vir my besonderse betekenis inhou. Die eerste prentjie wat Ilke geteken het van ons twee.
- Die blommetjiesgordyne wat eens in my ouma se sitkamer gehang het; en die gebleikte pienk fluweelgordyne in my slaapkamer wat na my toe gekom het toe Oupa uiteindelik op 105 weg is.
- My versameling blompotte, sommige nog met Ouma Sue se naam onderaan geskryf.
- Die blou emaljekastrol uit my Duitse ouma se kombuis.
- Twee van my Dad se plaaskeppies − soms as my heimwee na hom opwel, druk ek hulle teen my gesig want ek kan hom steeds daarin ruik: diesel en gras en reën.
- 'n Lappieskombers wat ek gemaak het uit my dogter se kleinkind-kleertjies.
- 'n Deken wat my ma vir my gehekel het.
- My mooi plaaskoskas met die gaasdeurtjies.
- Die herinneringsboksie wat ek vir my dogter hou met haar kuns, skoolrapporte en briefies.
- Die eerste kosboek wat Nigel Slater geskryf het en wat ek 'n miljoen jaar gelede in Londen gekoop het. Dit was die begin van my love affair met my kombuis.
Daarmee groet ek. Salige Sondag.
Laat weet vir my wat is julle mees geliefde voorwerpe, dan deel ek dit in volgende week se nuusbrief! En mense, ons eerste boekefees van die jaar is om die draai. Sien julle binnekort op Stilbaai!
Anneliese
annelieseburgess@vryeweekblad.com
Hoe om VWB 3.0 heeltemal gratis te lees!
Vrye Weekblad is voorlopig nog gratis. Al wat jy hoef te doen om dit te kan lees, is om 'n lesersprofiel met jou e-pos te skep. Gaan na vryeweekblad.com. As jy enigsins sukkel, stuur vir my 'n boodskap by hulp@vryeweekblad.com en ek help graag.
Write About a Radish
Write about a radish
Too many people write about the moon.
The night is black
The stars are small and high
The clock unwinds its ever-ticking tune
Hills gleam dimly
Distant nighthawks cry.
A radish rises in the waiting sky.
My aanbeveling-spens is bietjie leeg dié week, want ek het minder tyd as gewoonlik gehad om te lees. Maar hier is 'n dit en 'n dat.
Lees
- Ek was mal oor hierdie stuk oor gelukkigheid in The Guardian. Helen Garner sê: “It's taken me 80 years to figure out it's not a tranquil, sunlit realm."
- Hierdie het my ook aan die dink gekry: Ideas that Changed My Life.
Luister
Ek begin al hoe meer daarvan hou om na podsendings te luister. Veral in die kar. Met al die ryery vir die storie waaraan ek die afgelope paar weke gewerk het, het ek baie podsendings verslind. Ek het veral gehou van Peter Bruce se onderhoud met Lord Robin Renwick, Margaret Thatcher se destydse ambassadeur na Suid-Afrika.
My ander luister-hit hierdie week was David Lebovitz, 'n Amerikaanse sjef en kookboekskrywer wat in Parys woon. Ek het veral gehou van die gesprek wat hy gehad het met 'n legendariese kosboekuitgewer, Susan Friedland.
Jy kan hier luister na Bruce se podsending en na Lebovitz s'n hier.
Maar Lebovitz en Bruce se Postcards from the Edge is ook albei op Spotify- en Apple-podsendings en op ander podsending-apps beskikbaar.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.