Dagsê
Hulle noem dit die musikale Marmite van die wêreld – jy is óf dol daarop óf jy haat dit – maar as jy in Europa woon, is dit moeilik om daaraan te ontsnap: die jaarlikse Eurovision Song Contest.
Vanaand is die groot eindstryd in Liverpool, maar hier in Nederland kyk ons vanjaar dikbek van die kantlyn af nadat ons inskrywing – ’n duet – twee keer vals gesing het in die opmars na die eindstryd en vervolgens huis toe gepos is. Niemand weet wie se skuld dit is nie, so kom ons blameer maar die media, skyn die konsensus te wees.
Nie dat mens die gevoel kry dat dit werklik oor die musiek gaan nie. Meer oor die spektakel. En nou en dan oor die politiek, soos toe Oekraïne verlede jaar gewen het. Miskien dink jy, soos ek het, dat mense uit simpatie vir Oekraïne gestem het, maar ’n bietjie navorsing wys dat dié land in werklikheid ’n gedugte mededinger is: Oekraïniese deelnemers het al drie keer die kompetisie gewen en was twee keer die naaswenners.
Nietemin, as jy dit oorweeg om Europa toe te trek, dít is (van die dinge) wat jy oor die glans, die glorie en die kitsch van die Eurovision Song Contest moet weet:
* Een van die eerste vrae wat jou sal laat kopkrap, is: Waarom, as dit ’n Europese kompetisie is, neem Israel en Australië ook deel? Laasgenoemde moes ’n once-off affêre gewees het maar eenmaal daar, was hy nie meer weg te wens nie.
* Suid-Afrika is nie die enigste land met Vyf Grotes nie. In Eurovision is dit Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Saam met die vorige jaar se wenner (in dié geval Oekraïne) kwalifiseer hulle outomaties vir die eindronde. Nie omdat dié lande se inskrywings altyd fantasties kan sing nie, maar omdat hulle die grootste finansiële bydrae tot die kompetisie lewer.
* Die beroemdste deelnemers aan die kompetisie ooit is waarskynlik die Sweedse sanggroep ABBA, wat in die 70’s hul debuut gemaak het.
* Die stemprosedure is te ingewikkeld (en vervelig) om in ’n geselsbrief soos hierdie te verduidelik, so moenie stres as jy dit nie die eerste keer volledig verstaan nie. Geniet net die musiek en die spektakel.
* Having said that, dit is wel interessant om te sien hoe politiek sigself in die stemproses laat geld – wie stem of stem nie vir hul buurlande nie? So is daar byvoorbeeld ’n Skandinawiese blok en ’n Slawiese blok, maar gaan Griekeland en Ciprus mekaar wel punte toeken?
* Eurovision was een van die eerste sangkompetisies op televisie wat mense toegelaat het om telefonies van die huis af te stem. Vanjaar is die eerste keer dat mense van oor die wêreld toegelaat gaan word om te stem.
* Ierland het Eurovision al die meeste kere gewen (sewe keer), gevolg deur Swede (ses).
Soos reeds gesê, as jy kyk, berei jou maar voor dat jy nie alles waarna jy kyk gaan verstaan nie. Allermins die deelnemers en hul klere- en musiekkeuses. Dit is hemel op aarde vir paradysvoëls. Maar dit is juis die beste deel van die kompetisie.
Mooi naweek
Anesca
Ons hou weer boekefees – in die Vrystaat!
Die naweek van 21 tot 23 Julie, in die hartjie van die winter, gebeur Vrye Weekblad se Clarens-boekefees in hierdie skilderagtige Oos-Vrystaatse dorpie. Sneeu is (dalk) nie uitgesluit nie! Populiere troon soos goue kerse aan die voet van berge. Daar is heelwat kunstige restaurantjies, want dis ’n toeristedorpie. Die fees vind plaas in die Protea Hotel by Marriott Clarens – swierig en bestand teen wind, weer en beurtkrag. Bespreek vroeg verblyf en kom kuier saam.
Hier is die program:
VRYDAG 21 JULIE
17:00 Gee ons hoop, Johanna
Redaksiegesprek met Max du Preez, Anneliese Burgess, Piet Croucamp en prof. Francis Petersen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
SATERDAG 22 JULIE
09:00 Plaaslike bibliofiele
Louis Gaigher gesels met die legendariese inwoners Debra Stewart, Rodney Moffett en Natalie Dell oor Clarens en boeke.
10:00 Jeug en meug
Zelda Nel Bezuidenhout gesels met Fanie Viljoen, Ihette Senekal en Elrien Scheepers oor jeugfiksie.
11:00 Vrystaatse romansiers
Ihette Senekal gesels met Francois Smith en Sidney Gilroy oor hul romans.
12:00 Takseer hom op sy baadjie/Judge it by its cover
Diane de Beer praat met Hanli Deyssel en Angela Tuck oor die belangrikheid van boekomslae.
13:00 Middagete
14:30 Harte, vuiste, en skulde
Deborah Steinmair gesels met Pieter P. Fourie oor sy aangrypende outofiksie.
16:00 Plunder en Vetplantfeetjies
Antjie Krog lees haar gedigte voor soos net sy dit kan doen.
17:30 Van Kroonstad tot Clarens in 70 jaar
Max du Preez en Antjie Krog maak Kroonstad- en WVK-praatjies.
SONDAG 23 JULIE
10:00 Boekevat
Kirby van der Merwe, Bibi Slippers, Jolyn Phillips en Dianne du Toit Albertze lees hulle gedigte voor.
Sien jou daar!
Vul ’n bietjie jou leeslys aan met van ’n biografie tot erotika en ’n kortverhaal. Daar is ook interessanthede oor kos, musiek, sport, ’n geliefde skrywer, en ’n kostelike verhaal oor ’n ratse rabbedoe wat seuns ore aansit.
BOEKE
'n Intense biografie oor die kunstenaar Frans Meyer deur sy broer Frans het Deborah Steinmair uit die slaap gehou.
Louis Gaigher, ’n Levy-aficionado, gee jou ’n skelm voorsmakie van dié skrywer se jongste boek wat eersdaags verskyn.
Mareli Stolp het ’n sterk mening oor ’n debuutroman wat sy sê huiwer tussen peregrinasie, jeuglektuur en erotika.
Kerneels Breytenbach voel en proe aan die vrugte op die rak en deel die sappigstes met ons.
’n Verkeerde diagnose, The Dude, skeermestonge en ’n helper vir Marlowe
Lees die eerste aflewering van Dianne du Toit Albertze se kortverhaal oor brannewyn, bra's en sonde by die werk.
VRYE TYD
As kind was Laureen Rossouw ’n hen tussen die hane. Sy was die oudste en sterkste, die rats skrumskakel, en selfs die toegesluite mieliekamer kon haar nie binnehou nie. Wat sou sy as grootmeisie met Women’s Lib maak?
Emilia Smuts voer ’n kammagesprek met Charlie, wat dink sy kroning was 'n kroningsaffêre soos enige ander. Sy voel die koninklike quiche was ook maar middelmatig en deel haar resep vir Die Alternatiewe Kroningskoek.
Kerneels Breytenbach bewonder die onvergeetlike musiek wat Gordon Lightfoot, Mary Gauthier, Melody Gardot en Susannah McCorkle gemaak het ondanks donkerte in hulle lewe.
Laureen Rossouw lok die skrywer uit oor Joan Didion, Steve Hofmeyr maak 'n kameeverskyning, en daar is sprake van 'n Laaste kans.
Louis de Villiers is heeltemal van plan om hom te vergryp aan die banket van fietswedrenne, maar hy is ’n fynproewer en sal hom nie ophou met die saai skofte van hierdie sport nie.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.