Benoude katte, tevrede katte, wilde katte, Swart Katte

DONDERDAG MET DEBORAH

Benoude katte, tevrede katte, wilde katte, Swart Katte

DEBORAH STEINMAIR skryf oor katte wat soos die gees wandel. WILLEM KEMPEN wonder of die president weet wat 'n bord mieliepap kos, en soos altyd is daar vyf goed wat jy wil weet.

  • 01 Junie 2023
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Net 38 van die land se 257 munisipaliteite het in die afgelope verslagjaar 'n skoon oudit gekry, het Tsakani Maluleke, die ouditeur-generaal, gister in die parlement gesê. Die meeste van die skoon oudits (21) was in die Wes-Kaap.

2. Eskom het volgens voorlopige syfers in die vorige boekjaar 'n rekord-verlies van R21,2 biljoen gely, het die nasionale tesourie tydens 'n parlementêre sitting bekend gemaak.

3. Elektrisiteitsminister Kgosientsho Ramokgopa het gister in die parlement gesê dis “hoogs onwaarskynlik" dat die hele land tegelyk sonder krag sal sit weens 'n totale ineenstorting van die nasionale kragnetwerk.

4. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het aansoek om verlof tot appèl gedoen teen 'n uitspraak van die hooggeregshof wat kritieke instellings soos hospitale, klinieke, skole en polisiekantore van beurtkrag vrystel.

5. Die ANC het ontken dat hy meer as R102 miljoen aan die  KwaZulu-Natalse bemarkingsmaatskappy Ezulweni Investments vir verkiesingsmateriaal skuld. Die Gautengse hooggeregshof het op 23 Mei 'n bevel uitgereik vir die “execution of movable goods of the debtor, African National Congress, at Luthuli House to cause the realisation by public auction of R102 465 000 together with the interests of 10.25% per annum from 9 May 2019 to 31 August 2020", het News24 berig. Fikile Mbalula, die ANC se hoof van ontkenning, het gesê die ANC staan die bevel teen en vermoed bedrog van een of ander aard.


Daar is weer waarskuwings vir swaar reën wat tot moontlike vloede kan lei in die ooste van KwaZulu-Natal en die noord-ooste van die Oos-Kaap. Omtrent die hele land sal deels bewolk tot bewolk wees, met geïsoleerde buie en donderbuie wat in elke provinsie behalwe die Wes-Kaap verwag kan word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 18°C • Johannesburg 16°C • Mahikeng 18°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 20°C • Durban 21°C • Kimberley 13°C • Bloemfontein 14°C • Polokwane 22°C • Upington 20°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 21°C.


Willem Kempen | Wat kos ’n bord mieliepap vanoggend, Meneer?

Ek wonder dikwels wie die voorleggings voorberei wat die president van die land sekerlik soggens deurgaan voordat hy aangaan met die res van sy dag se werk. En wat alles tipies daarin staan. Dalk is daar sommer 'n hele klomp van hulle, miskien van kabinetslede of so.

Of is daar 'n paar vertrouelinge buite die kabinet wat vir hom die soort dringende dinge op WhatsApp of e-pos vertel wat nie kan wag tot die volgende formele ontmoeting of vergadering nie? Hoe en wanneer en by wie sou hy byvoorbeeld  uitgevind het van die Lady R wat in Desember in Simonstad vasgemeer het? Het 'n minister hom daarvan vertel, of dalk sommer Vladimir op die foon, of het hy ook maar in die koerante daarvan gelees?

Ek sou hoop daar is minstens elke oggend iets van die ministers van onderskeidelik elektrisiteit en energie, en dat dié twee mekaar darem nie te erg weerspreek nie.

En wat van die goedjies wat so effens wegstaan van die werk van die regering, maar wat die president beslis ook moet weet? Soos byvoorbeeld hierdie week die finansiële halfjaar-resultate van Tiger Brands, die land se grootste voedselprodusent. Die maatskappy wat alledaagse handelsmerke soos Ace-mieliemeel, Crosse & Blackwell, Tastic, Albany-brood, All Gold, Black Cat-grondboontjiebotter, Jungle-hawermout en Koo-blikkieskos besit.

Ek sou hoop iemand het die president 'n bietjie ingelig oor Tiger Brands se syfers, want dit sal hom iets vertel van die stand van die ekonomie wat hy dalk nie by een van sy ministers sal hoor nie. Soos dat Noel Doyle, Tiger Brands se bestuurshoof, sê die verbruikersmark is die taaiste wat hy dit in sy 25 jaar in die bedryf beleef het. Of dat die maatskappy se winsmarges daal omdat dit al hoe moeiliker word om stygende insetkostes aan die publiek deur te gee. Of dat die maatskappy nie anders kan nie as om voor te berei vir fase 8-beurtkrag of selfs 'n ineenstorting van die netwerk. En dat die swak rand – dis 'n kwessie van tyd voor 'n dollar meer as R20 gaan kos – die koste van ingevoerde roumateriale gaan opstoot en dat dié stygings noodwendig tot hoër kospryse gaan lei. En nie die soort fancy kos wat aan LP's en ministers voorgesit word nie, goed soos mieliemeel en rys en bruinbrood.

En as die president wel hierdie soort dinge weet, bekommer dit hom? En as dit hom bekommer, oorweeg hy dit om iets daaraan te probeer doen? En as hy dit oorweeg om iets daaraan te probeer doen, gaan hy die moeite doen om die res van ons in te lig wat sy planne is?

Of gaan hy maar net aan soos elke ander dag en hoop daar is môre darem 'n bietjie beter nuus?


’n Kat van saffraan

Daar is al veel geskryf oor die liefde van honde. Ek is dit eens dat hondeliefde seker die naaste kom aan die liefde van I Korinthiërs 13, wat geduldig en vriendelik is, nie verwaand nie, wat nie sy eie belang soek en nie boekhou van die kwaad of hom verbly oor onreg nie. Wat alles bedek, glo, hoop en verdra. Jeanne Goosen het altyd gesê die enigste Christene wat sy ken is haar honde.

Maar ek is ook ’n katmens. Jy sien: Soms voel honde se liefde vir my te onvoorwaardelik, te outomaties; dis asof hulle só geprogrammeer is. Altyd vrolik en bly om jou te sien, altyd uitgelate oor aandag. Al wat jy hoef te doen, is om op te daag.

’n Kat laat jou werk. Katte is anders, of miskien gee hulle voor dat hulle anders is. ’n Kat is daardie mens wat net so onseker soos almal van ons is, net so graag bemin wil word, maar te trots is om dit te laat blyk. Wat oorkompenseer vir haar gewaande swakheid met ’n “gaan blaas doppies”-houding. Sien, ek probeer om nie te vloek in ’n dierestorie nie. ’n Kat is trots. As sy berekening verkeerd is en sy sprong misluk, gaan sit hy op die plek rustig en was sy snorbaarde deeglik en ingedagte, asof dit van die begin af sy plan was. Wie wou nou op die tafel land?

Ek het katte lief omdat hulle geensins sfinkse is nie. Katgesigte huisves ’n eindelose spektrum van uitdrukkings: uitpeuloog van verbasing, diep bekommerd, lekker moerig, psigopaties hatig. Jy kan ’n kat verbaas. My gunstelingkatuitdrukking is skreefoog; blykbaar ’n teken van toegeneentheid. As jy jou oë op skrefies trek, gaan die kat wat jou liefhet dieselfde doen.

Ek het êrens gelees dat katte in die wildernis glad nie kommunikeer deur te miaau nie. Dis iets wat hulle in huishoudings aangeleer het en dis glo ’n nabootsing van ’n baba se geluidjies – ’n taal wat hulle ontwikkel het om met mense te kommunikeer. In die wildernis sou dit bloot gevaarlik wees vir katte om te miaau – dit sou die aandag van groter roofdiere trek.

Huiskatte het my simpatie omdat hulle geneig is tot vetsug. Ek ken die pyn. Ek was eenmaal, op ’n plaas, die eienaar of deeltydse versorger van ’n ongekastreerde mannetjieskat, Jim. Hy was groot en gemmerkleurig, vol houding en testosteroon, maer soos ’n windhond. Rondloper met ou letsels en ’n afgeskeurde oor. Wydsbeen soos ’n cowboy. Hy het (soos ongekastreerde mannetjieskatte oral) geleef vir kattermaai. Nagte lank het hy weggebly en soos die gees wat wandel uitgehonger en vol nuwe wonde opgedaag om vir ’n dag lank te slaap. Dit was soos ’n disfunksionele verhouding. Ons het geweet daar is nie salf aan mekaar te smeer nie.

Die huidige kat van my lewe is reggemaak en neig na volrond. Hy is skynbaar gekant teen bloedvergieting. Sy gunstelingposisie is op sy rug, met pootjies in die lug. En op my bors, terwyl hy spin soos ’n trekkertjie. Daardie geluid of vibrasie kan glo bene laat aangroei. Dit sus my soos niks anders nie, behalwe miskien die geruis van die see.  


Die huiskat

Die kat strek hoog op vier strak bene, buig
behaaglik om haar luiperdlies te lek,
rol om en lê fluwelig oopgevlek
dat keel en bors en buik die son kan suig.
Ons noem haar “kat" want sy is sonder siel
en anoniem. Smal skerwe van agaat
staar koud uit die driehoekige gelaat.
Arglistig, vloeibaar, soos 'n blink reptiel
van los en lenig wees versadig: sy
sal nooit - die veearts het haar “reggemaak" -
ekstase en angs van lewe voortbring smaak,
sal, steeds eenselwig, alle teerheid stuit.
Ek hol my hand behoedsaam, smalend sluit
sy haar oë, kronkel by my greep verby.

Elisabeth Eybers, uit Die helder halfjaar

Het jy al bespreek vir ons eerste VWB-Clarens-boekefees? Kom kuier saam met legendes soos Antjie Krog, Max du Preez, Piet Croucamp, Anneliese Burgess, Francois Smith, Kirbey van der Merwe, Pieter P. Fourie, Bibi Slippers en ander! Hier is die skakel na die program en hier kan jy bespreek

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.