Goeters daal, goeters styg (en Britse grootkop verras met Griekse das)

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Goeters daal, goeters styg (en Britse grootkop verras met Griekse das)

Die woorde van regte mense hou DEBORAH STEINMAIR aan die gang. WILLEM KEMPEN nooi jou om 'n poskaart vir die ANC te skryf, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 05 Desember 2023
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Konstitusionele Hof het beslis dat onafhanklike kandidate slegs 1 000 handtekeninge hoef te bekom om vir volgende jaar se provinsiale en nasionale verkiesings te registreer. Ander besware teen wysigings aan die Kieswet is van die hand gewys, wat onder meer beteken dat steeds net 200 van die Nasionale Vergadering se 400 setels vir onafhanklike kandidate beskikbaar sal wees.

2. Die petrolprys daal om middernag vannag met 65 sent per liter. Diesel word goedkoper met tussen R2,35 en R2,41 per liter en die prys van beligtingsparaffien daal met R1,71 per liter. Dit is die tweede opeenvolgende brandstofprysdaling.

3. Die nasionale tesourie en die parlement se staande komitee oor finansies het 'n kompromie bereik oor die implementering van die sogenaamde tweepot-aftreestelsel, met 'n nuwe voorgestelde begindatum van 1 September volgende jaar. Dié bedeling sal mense toelaat om toegang tot 'n derde van hulle pensioenspaargeld voor aftrede te bekom.

4. Die Stad Tshwane gaan die Arbeidshof nader om 'n 2021-beslissing van die SA Local Government Bargaining Council (SALGBC) te betwis waarvolgens die metroraad moet voldoen aan 'n langtermyn-loonooreenkoms wat volgens die stad onbekostigbaar is.

5. Goud het gister in een stadium vir so hoog as $2 111 per fynons verhandel, 'n rekordhoogtepunt. Ook gister het 'n bitcoin vir die eerste keer sedert April verlede jaar kortstondig meer as $42 000 gekos.

6. Temperature in dele van Siberië het gister tot 56 grade Celsius onder vriespunt gedaal (dit wil sê -56°C), terwyl sneeustorms Moskou en elders in Rusland getref het.

7. Dit gons oor 'n das wat koning Charles III by Cop28 gedra het in oënskynlike steun vir eise dat die Britse Museum die sogenaamde Elgin Marbles aan Griekeland teruggee. Die Elgin-marmerwerke is 'n versameling antieke Griekse beeldhouwerke wat uit die Parthenon en ander strukture van die Akropolis van Athene verwyder is. Charles het verlede week by die beraad 'n das gedra met 'n patroon wat lyk of dit uit die Griekse vlag gevorm is, maar andere het ook daarop gewys dat hy verlede week dieselfde das gedra het om die president van Suid-Korea te verwelkom, voordat die huidige twis uitgebreek het, en dat sy pa 'n Griek was.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie, sterk wind en hael oor dele van KwaZulu-Natal, asook 'n uiters hoë brandgevaar vir dele van Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat. Die hittegolftoestande oor die sentrale gebiede van die land duur voort. Buie en donderbuie word oor dele van Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en die Oos-Kaap verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 33°C • Mahikeng 36°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 23°C • Durban 22°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 33°C • Upington 35°C • Gqeberha 21°C • Oos-Londen 22°C.


Willem Kempen | En die wenner van ‘ANC se Grootste Verleentheid’ is ...

Gister se amperse beslaglegging op bates van die ANC in Luthulihuis weens onbetaalde skuld is nie eens die regerende party se grootste verleentheid van die afgelope weke nie. Bygesê, die wedywering vir eerste plek op daai lys is nogal heftig.

Gister se petalje het geëindig toe die balju Luthulihuis met leë hande moes verlaat nadat die ANC glo daarop gewys het dat die geskil met Ezulweni Investments nou na die Konstitusionele Hof verwys is. (Dis nog nie mooi duidelik hoekom dit 'n grondwetlike kwessie sou wees nie, maar dit daar gelaat.)

Die ANC se reaksie op die Appèlhof se bevinding dat hulle wel minstens R102 miljoen aan Ezulweni verskuldig is vir promosiemateriaal wat vir die 2009-verkiesings laat maak is, kan maklik ook die lys haal:

Having studied the judgment, the ANC is of the view that the SCA [Supreme Court of Appeal] did not consider new evidence which has emerged from a forensic report which reveals crucial evidence that makes it plain that there was no authorisation for the transactions in question, and certain implicated individuals mispresented their positions and authority.”

Of the view ... did not consider ... new evidence ... from a forensic report ... which reveals ... crucial evidence ... that makes it plain ... 

Nog 'n moontlike aanspraakmaker vir die lys is die ANC se pogings om buite die hof met Ezulweni te skik. Peter Fernando, mede-eienaar van die onderneming, het volgens Daily Maverick gesê Gwen Ramokgopa, tesourier-generaal van die party, het hulle 'n “verspot klein" bedrag ter skikking aangebied, maar om daarvoor op te maak, “they were going to give us some work for the 2024 elections, then they were going to pay this and that bill in small portions”.

Die prys vir Grootste Verleentheid raak nog moeiliker om toe te ken as mens verby die regerende party na die regering self kyk, en vir 'n oomblik die obvious goed ignoreer soos die hawens en padvervoer en immigrasie en misdaad en die leë staatskas en so aan.

Een opsie is die 22 BMW's wat glo reeds deur Panyaza Lesufi se Gautengse kitskonstabels in botsings beskadig is (drie van hulle is heeltemal afgeskryf).

Nog 'n opsie is die R5 miljoen wat volgens Erika Gibson se berekeninge bestee is aan die begrafnis van lt.genl. Xolani Ndlovu, in lewe die weermag se logistieke hoof – mitsgaders 'n verbyvlug met twee van die lugmag se Gripen-vegvliegtuie. Volgens Netwerk24 is net 15% van die lugmag se vliegtuie tans diensbaar, vir die res is daar nie geld vir onderhoud. nie. Maar R5 miljoen...

Onder die ernstiger sake wat die lys kan haal – alles is natuurlik relatief – is daar die vraag hoe die minister van elektrisiteit gehoor gaan gee aan die hooggeregshof in Pretoria se bevel dat hy teen 31 Januarie “all reasonable steps” moet doen om seker te maak die staat se hospitale, klinieke, skole en polisiekantore word nie deur beurtkrag geraak nie.

Die president kan dalk self ook die lys haal, afhangend van watter redes hy mee vorendag gaan kom (indien enige) dat hy die regter in die R1 biljoen-siviele geding teen DD Mabuza skynbaar vir mediese redes van sy pligte onthef het, sodat die saak heel moontlik van voor af sal moet begin.

As jy enige beter idees vir die lys het, skryf dit gerus agterop 'n poskaart (onthou jy nog?) en stuur dit aan die ANC, per adres Luthulihuis, Johannesburg. Die kans is nul dat die Poskantoor dit daar afgelewer sal kry, maar dalk laat dit jou tog beter voel.


Image: ANGELA TUCK

Deborah Steinmar | Ek is nie ’n robot nie

In hierdie dae sleep ek myself uit die bed. Daar is sand in my oë en dit lyk asof my skerm se ink besig is om op te raak – die woorde is dof.

Ek vra ChatGPT om ’n kwatryn te skryf oor moeg wees. Sonder ’n oomblik se aarseling spoeg hy (ek dink altyd aan hom as manlik) uit:

In shadows cast by weary sun,
Fatigued souls, their day is done.
Heavy lids in twilight's embrace,
Rest calls softly, a tired grace.

Het hulle hom te veel classics gevoer? Hoekom is die woorde altyd so geyk, hoogdrawend en outyds? Dis formulaïes. Alles rym en die metrum hou tyd. Hy hou vas aan die letter van die wet, maar die gees gaan hom verby.

Ek wonder ook altyd oor daardie blokkie wat jy moet tiek dat jy nie ’n robot is nie. As ’n bot kan lees, waarom kan hy nie die blokkie merk nie?

En die foto waarin jy ’n verkeerslig moet identifiseer. Ek het dit nageslaan: Dit word ’n CAPTCHA-uitdaging genoem (Completely Automated Public Turing test to tell Computers and Humans Apart). As jy saamspeel, help jy Google om hulle KI-masjien op te lei deur voorwerpe in foto’s uit te wys wat rekenaars nie noodwendig kan herken nie. So help jy hulle om beter met beeldherkenning te word, wat hulle sal help om CAPTCHAS in die toekoms te fnuik. Ons kan nie wen nie, lankal nie meer nie.

Ek onthou die fliek Blade Runner toe ek jonk was, hoe aangrypend dit was dat daar robotte was (genaamd replicants), wat net soos mense lyk en voel, maar emosies moet naboots. Daar was selfs een replicant wat glo sy is ’n mens. Nou is ons daar. Soos politieke grappies word wetenskapfiksie altyd waar.

Wat my pla van KI: ek sien die hele leërskare as een man met grys skoene van Tekkietown. Hy het nie ’n sin vir humor nie en vertolk alles letterlik. Hy het nie ’n kreatiewe haar op sy kop nie. Hy snap nie nuanses nie. Hy het boeke vol taalreëls en ensiklopedieë gememoriseer en verwar kennis met wysheid. Hy kan om die dood nie ’n gedig skryf nie.

Ek stem met Elon Musk saam: Daar is niks soos menslike bewussyn nie. Met al ons mankemente, ingeboude verslyting, grootheidswaan, dranksug en wollerigheid is ons manjifieke skepsels. Menslike denke is verstommend en dit word uitgedruk in woorde, my verslawing. Op my lessenaar is ’n lamp wat in die rekenaar prop, met ’n blou lig wat die woord “WOORDE” uitspel. My oudste dogter het dit vir my gegee.

Wat my in waansinnige dae aan die gang hou, is die woorde van mense. Ek noem ’n paar wat my laat moed skep:

En ek was so verskrik en so verskriklik lief vir jou

Gert Vlok Nel

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat

Eugène Marais

God se toweragtig verganklike fratsappelkoos

T.T. Cloete

kyk, hierdie is die soom van jou lewe
losgetorring al langs die plooi
van oorlewe
ter wille van vérder te wil bewe
totdat die teef jou inhaal
en jou doderok verskeur…

Breyten Breytenbach

’n afskeidnemende wêreld is al wat priem
tussen soveel opgesaalde woorde

ag, my verspilde taal en afgrondvers
die klokke van die westerkerk
galm soos soetanes deur die nat

Antjie Krog

gebak deur anna wat my grootgemaak het
totdat ek self ’n perd kon teken en droom
die maan is ’n emaljebak met roeskolle
vol mageu wat anna brou
en om en by die maandeind bars anna se sog uit die hok
en vreet die maan weer op

Dominique Botha

… wat het ek met my dae gemaak?
hoeveel tyd het op my uitgeloop terwyl my vinger
teen ’n skerm op geskuur het, hoeveel ure
het oorryp geraak in die af yskas van my siel?

Bibi Slippers

En dis maar enkeles. As botte só kan skryf, omhels ek KI.


Nagwaak

Ek gaan slaap, word nanag wakker met ’n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. ’n Behaarde skulp soos ’n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in ’n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in ’n sleutelgat
die knip van ’n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbreek
en betreding – dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie – die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai die pad wat eindig in ’n slop.

– Johan Myburg

Uit: Uittogboek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.