Fijne kerstdagen en een gelukkig nieuwjaar

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Fijne kerstdagen en een gelukkig nieuwjaar

Sy sal haar skoonma betaal om nié te kook nie, maar andersins geniet sy talle Nederlandse Kerstradisies, skryf ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Dit klink dalk gek, maar ek lees oor ’n weduwee in Brittanje wat haar kinders en kleinkinders elke Kersfees laat opdok vir die familie-ete by haar huis. £15 (sowat R354) vir elke volwassene en £5 (R118) per kind. Selfs die driejariges moet £2,50 (R60) betaal!

Caroline Duddridge het aan The Sun gesê sy kyk al in November na haar bankrekening om te sien wie geld oorbetaal het en wie ’n aanmaning moet kry. “My kinders brom, maar hulle is al gewoond daaraan en uiteindelik betaal almal wel. ”

En wie kan dié pensioentrekker blameer in die lig van die koste van inkopies en elektrisiteit deesdae?

Ek, darenteen, sal my skoonma betaal om nié te kook nie.

Sy is ’n liewe vrou wat graag mense ontvang, maar het weinig kookvaardighede. Boonop is sy ’n senuweeagtige kok en eerder as om die risiko te neem dat die ete ’n fiasko word, kook sy iedere Kersfees presies dieselfde maaltyd: groentesop as voorgereg, gevolg deur ’n stuk varkvleis wat in soutwater gegaar is en snotgekookte groente soos broccoli daarby. Trifle as nagereg of, as sy onthou ek eet nie trifle nie, roomys. Vanieljegeur.

Boonop eet Nederlanders hulle hoofmaaltyd saans. En dit geld ook  Kersdag. Vir middagete – tipies vir dié praktiese volk – moet jy maar sien en kom klaar met ’n kaasbroodjie  en 'n bakkie sop soos op enige ander gewone dag.

Soms ontsnap ek na Suid-Afrika vir Kersfees, maar dié jaar maak werksverpligtinge dit onmoontlik. Let wel, al mis ek my familie, die heerlike somerweer en die lekker kos, kla ek nie. Daar is veel Nederlandse Kerstradisies wat ek mooi vind en oor die jare geleer het om te geniet.

Hier is daar byvoorbeeld nie één nie, maar twéé dae in Desember waarop geskenke uitgedeel word. Dis natuurlik musiek in die ore van elke kind en ondernemer soos ek.

Die Sinterklaasfees vind plaas op 6 Desember ter ere van die verjaarsdag van Sinterklaas (nie te verwar met Kersvader of die Amerikaanse Santa Claus nie) en gedenk die Griekse biskop, Nicolaas van Myra. Hy het aan die einde van die derde en die begin van die vierde eeu ná Christus geleef en was bekend vir sy goeie dade. In Nederland staan die aand voor sy verjaarsdag bekend as pakjes avond, wanneer geskenke uitgedeel en tonne snoepgoed geëet word.

Tot ’n paar dekades gelede was die idee van Kersvader onbekend in Nederland, maar nou is hy omtrent net so ’n groot ster soos Sinterklaas. Tot groot ergernis van die heel rassistiese Nederland het Sinterklaas se helper, Zwarte Piet, die afgelope jare gelukkig ’n metamorfose ondergaan. Al het die land se moontlike nuwe premier, Geert Wilders, reeds in sy verkiesingsprogram gedreig om Zwarte Piet in al sy rassistiese glorie te laat herleef.

Wat ek ook mooi vind, is dat mense hier nog steeds Kerskaarte vir mekaar stuur. Hulle begin van begin Desember deur ons posbus val en my man sit spesiaal ’n aand opsy om kaarte vir familie, vriende en kollegas uit te skryf.

Soos talle ander Europese lande is daar ook in vele Nederlandse stede en dorpe Kersmarkte te vind. Van Charles Dickens-feeste tot meer tradisionele Kersmarkte vol snoepgoed, warm gluweihn en handgemaakte geskenke.

Les bes, die land verander in ’n sprokieswêreld. Saans is die strate en parke vol Kersliggies en in byna iedere huis waar jy verbyloop, sien jy ’n Kersboom en feestelike versierings in die vensterrame, van kerse tot sterre en kerskranse – alles van buite te bewonder, omdat Nederlanders nie hulle gordyne toetrek nie.

En natuurlik, soos altyd, word daar op ’n wit Kersfees gehoop. Die laaste een was 13 jaar gelede.

Fijne kerstdagen en een gelukkig nieuwjaar.

Anesca



Ons is oor die hond se rug, soos hulle sê. Skink daar 'n glasie, as jy nie aan allergie, beginselbesware of afhanklikheid ly nie. Skop uit jou skoene en gaan lê op jou stuitjie. Laat jou vingers en oë gly deur ons vrolike Vrye Tyd- en Boeke-afdelings, waar dit heeltyd feestyd is. Ons bied blink en skitterende voorstelle om jou vakansiedae selfs beter te maak. Sien jou onder die maretak – dis die nare Afrikaanse woord vir “mistletoe". Dink vir jouself en soen oordeelkundig. 

Kliek bloot op die prentjies om ons Vrye Tyd- of Boekeblaaie te besoek.


VRYE TYD


BOEKE

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.