Gru-brand was om moord toe te smeer, hoor kommissie

WOENSDAG MET WILLEM

Gru-brand was om moord toe te smeer, hoor kommissie

WILLEM KEMPEN hoop genoeg mense dring aan op 'n beter manier van doen in plekke soos Iran, Rusland, Israel en Gaza. Hy nostalgeer ook oor almal van Willie Toweel tot by Sugar Ray Leonard, en soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 24 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die brand wat in Augustus verlede jaar die lewens van 76 mense in die Johannesburgse middestad geëis het, is glo doelbewus begin deur 'n man wat 'n moord wou toesmeer wat hy kort tevore in opdrag van 'n Tanzaniese dwelmbaas op die grondvloer van die gebou in Marshalltown gepleeg het. 'n Bekentenis hieroor is gister deur ’n getuie wat net as Mr X geïdentifiseer is, voor die kommissie van ondersoek na die Usindiso-brand gedoen, het News24 berig.

2. Die ekonoom Thabi Leoka is afgedank uit pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese adviesraad weens haar vals aanspraak op 'n doktorsgraad in ekonomie van die London School of Economics. Leoka het Maandag uit die direksies van MTN Suid-Afrika en Amplats bedank.

3. Meer as 6 miljoen potensiële kiesers onder die ouderdom van 30 is nog nie geregistreer nie, blyk uit syfers van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Die volgende kieser-registrasienaweek sal na verwagting op 3 en 4 Februarie plaasvind.

4. Die benoemings vir vanjaar se Oscars is aangekondig. Die volledige lys is hier. Die lys kandidate vir beste fliek is:

  • American Fiction
  • Anatomy of a Fall
  • Barbie
  • The Holdovers
  • Killers of the Flower Moon
  • Maestro
  • Oppenheimer
  • Past Lives
  • Poor Things
  • The Zone of Interest

5. New Hampshire was gister die tweede deelstaat wat sou kies tussen Nikki Haley en die gunsteling Donald Trump as amptelik benoemde presidentskandidaat van die Republikeinse party vir die verkiesing op 5 November.

6. Netflix het meer as $5 biljoen betaal vir die eksklusiewe uitsaairegte oor tien jaar van World Wrestling Entertainment se program Raw. Dit is die eerste keer dat Netflix betrokke raak by die regstreekse uitsaai van sport.

7. Die Duits-gebore musiekvervaardiger Frank Farian, stigter van onder andere die discogroep Boney M, is in die ouderdom van 82 in sy huis in Miami oorlede.


Uiters warm toestande asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou word oor dele van die Kaapprovinsies verwag. Die res van die land is deels bewolk tot bewolk en buie en donderbuie word vir elke provinsie behalwe die Wes-Kaap voorspel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 23°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 25°C • Kimberley 35°C • Upington 39°C • Kaapstad 35°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | ’n Prys om te betaal vir aanhou soek na ’n beter manier van doen


In Iran het die regering gisteroggend die 23-jarige Mohammad Qobadlu gehang ten spyte van sy ma, ander familielede en Amnesty International se pleidooie dat hy begenadig word omdat hy nie 'n regverdige verhoor gehad het nie en dat hy gemartel is om 'n bekentenis af te lê. Sy teregstelling was die negende wat spruit uit die betogings in Iran in 2022 ná die dood van Mahsa Amini omdat sy glo nie haar hijab korrek gedra het nie.

Uit Moskou het die BBC gister berig oor 'n groep vroue wat saamstaan om te vra dat hul mans en ander geliefdes toegelaat word om terug te keer van die slagvelde in Oekraïne. Hulle het uiteenlopende sienings oor die oorlog en sommige van hulle steun dit selfs. Wat hulle gemeen het, is die oortuiging dat die gemobiliseerde mans reeds hul billike deel gedoen het en terug huis toe moet kom. Dié protes is gevaarlik, want die Russiese owerhede tree gewoonlik streng op teen enige vorm van openbare verset. Een van die vroue, ene Antonina, het aan die BBC gesê sy het die regering en Vladimir Putin vertrou aan die begin van die oorlog. “Maar moet ons hulle nou vertrou? Ek vertrou niemand nie."

In Israel het die 18-jarige Tal Mitnick Maandag aan Sky News gesê hy is bereid om vir 'n tweede keer tronk toe te gaan omdat hy weier om diensplig in die Israeliese weermag te doen. Hy was die eerste Israeli wat tot tronkstraf gevonnis is weens gewetensbesware teen militêre diens en die oorlog in Gaza, en hy is verlede Vrydag vrygelaat nadat hy sy vonnis van 30 dae uitgedien het. Geweld is nie die oplossing nie, glo Mitnick, en Hamas sal net beheer van Gaza afstaan as die res van die bevolking vertroue in hulle verloor. “And the only way to make that happen is by showing people that there is another way.” 

Iran, Rusland en Israel het dalk andersins nie veel gemeen nie, maar al drie hierdie stories wys dat idees nie sommer uitsterf net omdat hulle onderdruk word nie. Dit wys dat Iran nie sharia is nie, dat Rusland nie Putin is nie, dat Gaza nie Hamas is nie en dat Israel nie Netanyahu is nie. En dat daar altyd “another way" gevind kan word as genoeg mense daarop aandring.


Dalk gaan Slaappil maak dat ek ook hokgevegte begin kyk


Ek is baie bly vir ou Dricus “Stillknocks" du Plessis, ons nuwe middelgewig-wêreldkampioen in daai UFC-moermekaar-dinges. Dit lyk my hy het hard gewerk en baie opgeoffer en baie mense verkeerd bewys op sy pad boontoe. En dit lyk my ook sy oorwinning Saterdagaand (Kanadese tyd) kan selfs beteken dat Suid-Afrika een of ander tyd 'n UFC-toernooi mag aanbied, wat goeie publisiteit vir die land kan wees as ons onsself nie in die proses in die voet skiet nie.

Maar ai, ek kan myself regtig nie sover kry om na een van daai fights te kyk nie. “Mixed martial arts" klink vir my na 'n mooi manier om te sê jy kan jou opponent bliksem op enige manier wat jy wil, en dit was nog nooit vir my lekker om te sien hoe iemand se oë toegeswel en sy gesig vol bloed en snye is nie, en te wonder hoe sy harsings nou daar in sy skedelruimte lyk. (Nog minder die gedagte om self enige van daardie simptome te moet opdoen. Ek kon ook nooit verstaan hoekom iemand Fight Club sou wou kyk nie.)

@jon_edreyer

Hulle WEET Nie wat ons WEET Nie ,maar Nie and weet Nie 🤦🏾‍♂️🤦🏾‍♂️🤣🤣

♬ original sound - Jon-e dreyer

Tog was gewone boks vir lank vir my nogal aanskoulik, veral as daar 'n kans was dat die (effens) kleiner outjie die groter ou ore kon aansit. Soos toe die slimmer en ratser Muhammed Ali in die Rumble in the Jungle in Kinshasa in 1974 die toe nog onoorwonne George Foreman uit die kryt uit gedink het. Nog beter was die middelgewigte van die 1980's; uitgeslape boksers soos die manjifieke Sugar Ray Leonard, wie se vernuf en reflekse dikwels genoeg was om groot ouens soos Roberto Durán, Thomas “The Hitman" Hearns en “Marvelous" Marvin Hagler dik te tik.

En tussendeur hulle almal was daar die Amerikaanse promotor Don King, wat dekades lank die enigste invloedryke lewende swart man ter wêreld was waarvan wit kinders in Suid-Afrika mag geweet het. Heel anders as byvoorbeeld Nelson Mandela, wat sy lewe lank 'n boksliefhebber en in sy studentedae 'n bedrewe swaargewig was. 

Ons het wel geweet van mense soos die legendariese Toweel-familie (het iemand al 'n boek oor hulle geskryf?) of die internasionaal gerekende skeidsregter en beoordelaar Stan Christodoulou. En al die kampioene met byname waarmee die aankondigers so kon toor:

Thuuuuuu-laniiiii “Shhhhhh-uga-boyyyyy" Maaaaa-lin-ga!

Charlie “The Silver Assassin" Weir.

Jacob “Baby Jake" Matlala.

Dingaan “The Roooooooooooose of So-weto" Thoooo-bela!

Gerrie “The Boksburg Bomber" Coetzee, die sagmoedigste man in die geskiedenis wat vir 'n lewe ander mense so hard as moontlik aanhoudend met die vuis in die gesig geslaan het.

Maar toe kom die era van “Iron Mike" Tyson. “Ore aansit" danksy vaardigheid het plek gemaak vir “ore afbyt" en ander waansin. Veral swaargewig-boks het 'n bietjie van 'n klug begin word, iets wat net so effens meer waardigheid as professionele rofstoei het. En UFC is mos eintlik maar net Dubya-Dubya-Eff met regte bloed, of hoe?

Maar hier is ou Dricus nou, en ek sien allerhande tekens dat mens hom ernstig kan opneem as 'n sportman, cage fighting en al. En hy kry bonuspunte vir die spitsvondigheid van sy broer, wat hom sy bynaam gegee het oor hy soos die slaappil Stilnox sy opponente vir 'n rukkie uitsit.

So nou wonder ek: Moet ek kyk of ek Dricus se geveg van Saterdagaand iewers te siene kan kry?


The Boxer

I sit on the stool, slumped in a heap
My hearing has gone and I try not to weep
The flash of the lights, the roar of the crowd
But I can’t hear them, not even a sound.

My body is tired, my ribs are all numb
I want to be elsewhere, at home with my son.
Anywhere is easier than just being here
But I am the master, controlling my fear.

No place for cowards, no time for the weak
This sport is the toughest, six days of the week
I walked past the crowd, ready to fight
Yet none of them saw me vomit tonight!

A sport of heroes, the time of kings,
I’ve worked so hard, each day in the ring
A tournament of champions, my time has it come?
This round is the twelfth ... I’ll know when it’s done.

 C P Sennett

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.