Ek vat nou my kopdoeke terug

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Ek vat nou my kopdoeke terug

ANNELIESE BURGESS kom van ’n lang lyn van kopdoekdraers. Sy vertel hoekom sy besluit het sy gaan dit weer dra, al is dit ‘blykbaar’ nie ’n goeie look vir haar nie.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek koop die rooi kopdoek met die blou en silwer blomme in ’n winkeltjie in ’n nou stegie van Ortigia op die laaste dag van my Italiaanse avontuur. Om by my versameling te voeg. Dit wissel van bandanas wat ek sedert universiteitsdae dra tot die stapel sagte syserpies wat ek in my sak gedruk het toe ek my ouma se deur vir die laaste keer toegetrek het ná haar begrafnis in Preetz.

Ek kom van ’n lang lyn van kopdoekdraers. Een van my gunstelingfoto’s van my ma en pa is van agter geneem waar hulle op die rand van ’n krans sit en oor die vlakte by Diepkloof uitkyk. My ma dra ’n guitige kopdoek met wit kolletjies. In later jare het die flapperende driehoekstyl plek gemaak vir meer van ’n tulbandstyl. My ouma was ook ’n ywerige kopdoeker wat hare soos ’n baboesjka onder haar ken vasgeknoop het.

My ma lê in die hoësorgeenheid van die St. Dominic’s-hospitaal in Oos-Londen. Vier jaar ná Emmatjie, my broerskind, se dood en nege maande na my pa s’n is ek en my broers weer byeen vir nog ’n ronde van die lewe se onverbiddelike tango met liefde en verlies.

Ons maak beurte met die drie besoektye per dag. Twee-twee as ons kan. Dis makliker as jy nie alleen is nie. Daar is nie veel wat ons kan doen nie. Ma is so swak soos ’n babavoëltjie wat uit die nes geskop is. Daar is suurstofpype en masjiene. Haar lyf is blou gesteek van die naalde en druppe. In die eerste paar dae maak sy nou en dan haar oë oop en smeek vir water. Ons mag nie vir haar water gee nie. Ons maak beurte om buite in die gang te huil. Ons moet haar geestelik probeer sterk hou, sê dokter Mbijekana. Elke nou en dan kry Ma ’n paar woorde uit. “Please do my hair.” Ek kry haar kammetjies en knippies in die laai van die hospitaalbedkassie. Ek probeer dit in haar gebruiklike bolla rangskik. Maar haar hare is te gekoek en dit maak seer as ek dit probeer kam. “We need a doek,” sê Mike.

Ek kies ’n sagte sydoek met ’n groen-en-grys batik-afdruk van my stapel. Dit het aan my ouma behoort en is een van my gunstelinge. Die punte is al gefraiing van die baie gebruik. Ek vou dit só dat ek dit soos ’n band om haar kop kan draai om die hare uit haar gesig en nek te hou.

Image: ANNELIESE BURGESS

Oor die jare het ek my kopdoeke al hoe minder gedra, want dit was “blykbaar” nie ’n goeie look vir my nie. Vroulik wees. Mooi vertoon. En al daai.

Gister toe ek die sagte doekie om my ma se hare draai, het ek besluit ek vat nou my kopdoeke terug. Uit solidariteit met my ma wie se lewe aan ’n draadjie hang. As ’n simbool van die connection tussen my en haar en die ouma wie se naam ek dra. En sommer as ’n moerige middeljarige statement oor ek van nou af dra wat ek wil. En lyk soos ek wil. En doen wat ek wil.

So ja, ek gooi (soms) ys in my bier. En ja, ek eet Woolies se rollmops met my vingers uit die bakkie in die winkel. En ja, ek vloek soos ’n matroos. En ek hou van Smokie se songs. En van rooi lipstiek. En parfuum. Maar vir ’n getittewyt voor ’n spieël het ek nie meer lus nie.

Daarmee groet ek met my mooi Ortigia-doekie om my kop geknoop. Ek gaan nou Zahara se “Incwad’encane” kliphard luister in die kar op pad hospitaal toe. En dan gaan ek my dogter na die Gonubie-landbouskou toe neem hier op in die pad van ons af. Ons gaan draai-aartappels op ’n stok eet en ronddwaal tussen die beeste en skape. En miskien gaan ry ons sommer op die Ferriswiel wat gisteraand soos ’n krismisboom verlig was toe ek in die donker verby die skouterrein gery het.

Salige Sondag.

Anneliese


Morning

Dam’s broke
head’s
a waterfall

– Robert Creeley

(Uit: Hello: A Journal)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.