Hierdie Barbie is nou moeg

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Hierdie Barbie is nou moeg

Moet daar so baie soorte Barbie-poppe wees, en met watter van hulle wil kinders eintlik speel? vra MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

Barbie is weer in die nuus. Ja, die poppe. Die lokprent vir Greta Gerwig se fliek Barbie het onlangs uitgekom, en sosiale media was in rep en roer. Gerwig is geprys vir haar geloofwaardige uitbeelding van Barbie, asook vir die diversiteit wat die fliek belowe. In die fliek is daar ’n president Barbie, ’n dokter Barbie, ’n meermin Barbie en selfs ’n weird Barbie! Daar is ’n wit Ken, ’n Asiatiese Ken en ’n swart Ken. Gerwig is een van my gunsteling-Hollywood-regisseurs, so ek gaan vir seker vasgenael sit wanneer die fliek in Julie vanjaar uitkom.

Al die gepraat oor Barbie het my laat dink oor die laaste paar jaar se Barbie-nuus en hoedat die maatskappy Mattel, Inc. oor die jare na inklusiwiteit gestreef het. Barbie het haar verskyning in 1959 gemaak as ’n wit poppie met blonde hare en blou oë. Klink dit bekend?

Kort voor lank het dié Ariese uitbeelding van Barbie nie meer by almal so lekker gesit nie en Barbie moes transformeer. Eers was dit haar persoonlikheid wat moes aanpas. Barbie kon nie meer net ’n mooi meisie wees wat van partytjies hou nie, nee nee, sy moes ’n doel hê – ’n loopbaan. Life in plastic, not so fantastic. Toe sien ons die oplewing van die loopbaan-Barbie. Jong meisiekinders oral moes voel dat hulle enigiets kon wees, nes hulle Barbie.

Ná die loopbaan-Barbie-situasie moes Barbie diversifiseer. ’n Wit Barbie? Watwou! Toe begin sien ons Barbies van alle rasse. Wat volg toe op die “every nation”-Barbie? Die politiek korrekte Barbie! Vet Barbies, maer Barbies, gay Barbies, bleskop Barbies, gestremde Barbies en Barbies wie se lewensuitkyk nie meer “you can brush my hair, undress me everywhere” is nie.

Lesers, julle ken my. Ek is voor in die koor as dit by transformasie en inklusiwiteit kom. Maar vat Mattel, Inc. dit te ver met al die verskillende Barbie-poppe? Daar is blykbaar oor die 40 verskillende poppe, en die een wat steeds die meeste verkoop, is die “Totally Hair Doll”. Dié Barbie het lang, blonde hare, haar hare hang tot by haar voete, en haar bykomstighede is haarprodukte. Sy lyk nog byna presies soos die eerste Ariese Barbie!

Dalk is ek net bitter omdat ek nooit met Barbies kon speel nie. Ons was te arm om nog te geworry het oor hoe ons Barbie-poppe lyk. My ma het vir my ’n pop by Pep gekoop en ek moes sien en kom klaar. En as daar nie geld was vir Pep-poppies nie, het ons sommer bakstene gevat, vir die bakstene klere aangetrek en gemaak asof dit ons poppe is.

Die doelpale van inklusiwiteit en transformasie word gedurig verskuif. Mattel, Inc. gaan nie kan byhou met hoeveel poppe hulle moet maak nie, en ons die publiek gaan ook nie kan byhou met wat ons nou eintlik wil hê nie. Poppe is vir kinders! Die Barbie-sage voel asof daar volwassenes om die tafel gesit en besluit het om soveel as moontlik poppe te produseer sodat hulle in hemelsnaam tog net nie unwoke genoem moet word nie. Het hulle die kinders gevra met watter poppe hulle wil speel? As jy vir klein Mercy vra, is sy sielsgelukkig met haar baksteenpop.


Stars sweep down—or are they stars?—
Against the pines’ dark etchèd bars.
Along a brooding moon-wet hill
Dogwood shine so cool and still,
Like hands that, palm up, rigid lie
In invocation to the sky
As they spread there, frozen white,
Upon the velvet of the night.

– William Faulkner

(Uit: “The ringed moon sits eerily”)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.