Om jou voete te vind in ’n nuwe land

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Om jou voete te vind in ’n nuwe land

ANESCA SMITH vertel hoe vriende, kollegas, skoonfamilie en ander immigrante help dat sy nie soos ’n buitestander in haar aangenome land, Nederland, voel nie.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

“Wat wil jy doen op Koningsdag?” vra my man.

Aan die een kant het ek nie lus om saam met hom en sy maters van kroeg tot kroeg te loop en ginnegaap nie. Aan die ander kant het ek verlede jaar op dié vakansiedag gewerk en die twee jaar vóór dit was natuurlik die hele Corona-drama. Dus geen fees nie.

Uiteindelik besluit ons tog om by die oranje-stroom mense in die straat aan te sluit. Vrolik onderweg stad toe met die Nederlandse vlag op ons wange geïnk.

’n Paar weke gelede het ek nog geskryf oor die tanende liefde van die Nederlandse volk vir die koning. Nou ja, nie veel het intussen aan daardie front verander nie. Wat interessant is, is dat hoewel die koning self langsaam al hoe swakker in peilings vaar, raak sy geboortedag (27 April) al hoe gewilder.

Kortom, Nederlanders hou van ’n lekker partytjie en gaan heeltemal uit hul naat op Koningsdag. As jy toevallig as toeris rondom dié tyd in die land is, sal jy waarskynlik die indruk kry dat ons almal vrééslik lief is vir ons koning. Min te weet.

By die kroeg ontvang my man se vriende ons met ope arms en ’n gejuig. Een trek my aan die arm na die naaste biertafel: “Kom, wat wil jy drink?”

Image: ANESCA SMITH

’n Ander wat ek nog nie ontmoet het nie, vra aangenaam verras aan my man: “Is dit jou vrou?” (En laat ons eerlik wees, wie hou nou nie daarvan as iemand bly is om jou te ontmoet nie?)

Hy begin onmiddellik ’n lang relaas oor twee van sy reise in Suid-Afrika en lyk gretig om sy Afrikaanse vaardighede aan my te demonstreer.

Ek: “Nou sê ’n lang sin in Afrikaans.”

Hy: “Julle hou baie van wyn drink. In Franschhoek.”

Daar is ’n fantastiese cover-band wat voor die buitelugkroeg in die straat speel. Ek dans met die vroue en met Harm, eintlik die eerste vriend van my man wat ek ontmoet het destyds toe ek hier aangekom het. Hy wys gemaak ernstig na ’n mooi blonde vrou langs ons: “Sy is baie jaloers en hou nie daarvan as jy met haar man praat nie.”

Ek lag en trek haar nader. “Hmmm. Miskien hou ek wel daarvan om met háár te praat.”

Dié mense laat my nie soos ’n buitestaander voel nie. Net soos die vele kollegas saam met wie ek al die afgelope 10 jaar hier gewerk het. Sowel as my skoonfamilie en die talle ander immigrante wat my pad kruis.

Ek besef iets waarteen ek lank weerstand gebied het: Ek begin uiteindelik my voete in my aangenome land vind.

Groete tot volgende week
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.