Die wonderskone konyngat van papawers

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die wonderskone konyngat van papawers

ANNELIESE BURGESS vertel van haar papawer-obsessie.

Image: ANGELA TUCK

TYDENS die Eerste Wêreldoorlog, in Julie 1916, loods die Geallieerdes ’n offensief teen die Duitse leër wat noord van die Sommerivier ingegrawe is. Die uitmergelende offensief steier vir langer as vier maande voort, en word erg belemmer deur gure reënstorms wat die slagveld en die netwerk van loopgrawe ongangbaar maak. Teen die tyd wat die Geallieerdes opgee, het hulle slegs 8 km gevorder, maar daar is verbysterende verliese aan menselewens: 650 000 Duitse soldate, 420 000 Britse en 195 000 Franse soldate is dood.

Baie van die groot veldslae van die oorlog vind plaas in Frankryk en België. Die landskap word omskep in ’n boomlose, dorre modderhel, maar een plantjie kry dit reg om hier en daar in die verguisde aarde te oorleef, en te blom: die delikate, helderrooi Papaver Rhoeas, ook bekend as die “Flanders Poppy”.

In Mei 1915, tydens die Tweede Slag van Ypres in België, skryf luitenant-kolonel John McCrae, ’n Kanadese dokter wat aan die hoof staan van ’n veldhospitaal in Boulogne, sy nou beroemde gedig “In Flanders’ Fields”.

In Flanders’ fields the poppies blow
Between the crosses, row on row,
That mark our place: and in the sky
The larks, still bravely singing, fly
Scarce heard amid the guns below.

We are the dead. Short days ago
We lived, felt dawn, saw sunset glow,
Loved and were loved, and now we lie
In Flanders’ fields.

Vandag is die rooi papawer van McCrae se gedig, veral in lande met ’n Britse verbintenis, die simbool vir soldate wat in die oorlog gesterf het.

***

Ek was nog altyd verlief op papawers, met hulle harige stele en delikate, papieragtige kroonblare wat uiteindelik ná ’n ruk in die vaas soos rook aftuimel. Hier in Suid-Afrika ken ons meestal die wit, geel en oranje skakerings van die “Iceland poppy” en “Shirley Poppy”. Maar die wêreld van die papawer is veel groter en vroliker as hierdie bont crowdpleasers, hoe lief ek ook al daarvoor is. En dit is die wonderskone konyngat waarin ek gereeld afval.

Ek kan ure op obskure webwerwe verwyl op soek na ’n nuwe toevoeging tot my groeiende papawerfamilie. Op die oomblik is my groot obsessie dié wat lyk soos ’n meer delikate weergawe van ’n pinksterroos. Net gister kom hier ’n pakkie aan met “Flemish Antique”, “Black Peony” en “Frosted Salmon”: 10 kosbare saadjies per sakkie. Hulle word vandag geplant. Saam met die grys, pienk en mother of pearl Shirleys van The Flower Cartel. En ook ’n pakkie rooi en pienk “Opium Poppies”, of Papaver somniferum, wat groot dubbelblomme dra met sagte, diep, gekreukelde kroonblare.

Maar die een papawer wat ek bo enige begeer, is die verstommende rooi “Danish Flag” (kyk die foto heel bo).

Ter afsluiting, papawers is ontsettend maklik om te kweek, is droogtebestand en jy kry honderde sade van een blom. En hulle is boonop formidabele selfsaaiers. ’n Allround wenner in die tuin.

Salige Sondag. Julle weet waar ek vandag gaan wees.

Dankie vir al die #vreugde-foto’s wat ek aanhou kry op WhatsApp (083 413 6573) en per e-pos: annelieseburgess@vryeweekblad.com.

Tot volgende week
Anneliese


When you see water

When you see water in a stream
you say: oh, this is stream
water;
When you see water in the river
you say: oh, this is water
of the river;

When you see ocean water
you say: This is the ocean's
water!

But actually water is always
only itself
and does not belong
to any of these containers
though it creates them.
And so it is with you.

– Alice Walker

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.