Jou brein is soos jou e-pos-inboks

MAANDAG MET MAX

Jou brein is soos jou e-pos-inboks

MAX DU PREEZ vertel hoe die 94-jarige Amerikaanse filosoof en intellektueel Noam Chomsky hom inspireer.

Image: ANGELA TUCK

EK wou vanoggend vir Cyril Ramaphosa raad gee oor hoe om sy prioriteite reg te kry sodat die vele krisisse in die land vinniger opgelos kan word.

En toe tref dit my: Kyk wie praat, Du Preez. Vee eers voor jou eie deur voor jy advies uitdeel, ou swaer.

Ek dink dit is ’n oefening wat elkeen van ons gerus van tyd tot tyd kan doen: Besin oor wat jy wil bereik, wat werklik belangrik is en wat nie, en wat die kortste pad daarheen is.

Dalk is dit net ek, maar ek vind my brein is te besig met beuselagtighede. Die lekker Amerikaanse term is “bandwidth”: My brein het te gereeld te min bandwydte om helder en eerlik te kan besin.

Dis soos jou e-pos-inboks: Jy moet so nou en dan tyd afvat en al die spam en onbelangrike boodskappe uitvee. Dit wat regtig belangrik is, stoor jy in die argief-lêer. Jy moet onderaan elke ongevraagde e-pos die “unsubscribe”-knoppie druk sodat dit nie weer in jou inboks beland nie. En die kans is goed dat jy op ’n e-pos gaan afkom wat jy eintlik moes beantwoord, maar nie het nie.

Ek weet nie of dit dieselfde as mental hygiene is nie. Ek wil darem ook nie hê my brein of my gemoed moet steriel wees nie. Ek stry elke kort-kort met my kiemfobiese laatlammetjie se alewige handewassery. Ek eet maklik ’n toebroodjie net nadat ek my hond se kop gestreel het. ’n Beesboer sal jou vertel dat so ’n paar bosluise op ’n bees sorg dat die immuniteit sterk bly. ’n Paar kieme en bosluise in my brein is maar oukei.

Image: ANGELA TUCK

Ek het op ’n keer ’n motiveringspreker hoor verklaar dat jy ’n rustige brein behoort te hê. Ek het g’n plek vir g’n rustig nie. Meer georden en gefokus, ja, maar rustig klink vir my te na aan vervelig en onkreatief.

Ek het ’n wakker, nuuskierige, soepel, avontuurlike brein nodig. Ek kry sommer ’n paniekaanval as ek dink my brein gaan dalk met ouderdom al hoe meer verstok en onbuigsaam word.

My grootste vrees as iemand in sy latere dekades is die D-woord: demensie. Ek doen gereeld breinoefeninge, soos om met my linkerhand te skryf terwyl ek regs is en deur boeke oor die filosofie en wetenskap te swoeg wat eintlik bo my vuurmaakplek is.

Ek weet nie of dit ’n erkende breinoefening is nie, maar ek glo vas te veel roetine is sleg vir jou brein. Ek maak byvoorbeeld ’n punt daarvan om my liggaamsdele in ’n ander volgorde te was elke keer as ek stort, om elke dag in ’n ander volgorde aan te trek (een dag broek en skoene eerste, die volgende dag hemp eerste, en so aan) en ek volg soveel ek kan verskillende roetes as ek êrens heen ry. Dis net my slaaproetine waarby ek hou, want slaap is uiters belangrik vir ’n gesonde brein: middernag tot 07:00.

Die ideaal is dat jou brein en jou liggaam gesinkroniseerd ouer moet word. Ek wil nie eendag op 90 nog om die blok kan stap, maar ek vergeet my vrou se naam nie, en ek wil nie helder van verstand wees maar ek is ’n invalide nie.

My inspirasie is die 94-jarige Amerikaanse filosoof en intellektueel Noam Chomsky. Ek weet nie of ek ooit so oud gaan word nie, maar as dit wel gebeur, sou ek wat wou gee om nog so ’n skerp brein te hê soos hy ’n paar weke gelede in ’n onderhoud met ’n arrogante jong upstart geopenbaar het:

Maar jy sien, daar dwaal my gedagtegang klaar af. Bandwydte. Ek wil eintlik skryf oor prioriteite.

Vir my beteken dit om nie maar net toe te laat dat goed met jou gebeur nie, om nie maar net met so min drama as moontlik deur die dag en deur die lewe te gaan nie. Ons moet nooit die “road of least resistance” volg nie.

Ons moenie net “cope” nie, ons moet ons bes doen om ons energie positief te kanaliseer, doelmatig en gefokus op ons omgewing te reageer en ons lewenspad sover ons kan optimaal te beïnvloed.

(Hier is sommer gratis raad oor verhoudings: As daar iets aan jou lewensmaat, kind of vriend is wat jou irriteer, tel tot 10 en vra jouself af of dit regtig belangrik is om daarop te reageer. Die irritasie – ’n gewoonte, ’n manier van praat, ’n maniërisme – gaan tog nie weggaan nie; dus sal ’n negatiewe reaksie net teenproduktief wees en jou energie mors. Rol jou oë in jou verbeelding en glimlag. Nou gaan pas dit self toe, Du Preez.)

Dit gaan nie help om net hieroor na te dink nie. ’n Doelbewuste aksie, ’n intervensie, is nodig. As jy ’n lysmaker is, skryf dit neer. In die een kolom: Wat is regtig belangrik, wat wil jy regtig bereik, watter probleme wil jy oplos? In die ander kolom: Wat is bysake, wat is nie die moeite werd om jou regtig mee te bemoei nie, wat verhoed jou om vordering te maak en jou ideale te verwesenlik?

Dis weer tyd dat ek my inboks gaan skoonmaak.

Mooi bly
Max


Suid-Afrika

Suid-Afrika – ek het hoog bo vlaktes oor jou gesweef
Oor berge en riviere en oseane
Stede vol rook en roet
Berge met pieke vol sneeu
Landerye, skilferdroog
Boere wat huil langs bankbestuurders
Hawens met groot skepe en dik toeriste
Ek het die plekke gesien waar mans doelloos sit en wag vir werk
Maer kinders by verkeersligte
Meswonde, geweerskote, hospitale, ambulanse, motorongelukke
Kinderlyke en vroue wat soos lappoppe verkrag word
Sopkombuise met lang rye
Strate en stegies vol kots en urine
Skole onder bome en dooies in oorvol long drops
Ek het die vetblink pense en blinkswart motors van leiers gesien
Hul minagtende blik op ’n vernietigde land
Waar hulle agter hoë mure sit met KFC en Nando’s
Die reuk van olierige vleis druppend met drillerige welvaart
Riviere vol bloed stroom deur die strate
Ek het die reuk van die krematorium gekry
Jy is ’n ou man in ’n donker kamer
Waarvan die organe een ná die ander ingee
Die ontlasting stroom by jou uit en vlek die lakens
Jy stink en groen brommers sit reeds en zoem om jou oop mond
Land van armoede en dood
Ek draai my rug op jou soos iemand wat weet
Jy is vol aansteeklike siektes
Jou doodsroggel is vir my leersaam, selfs mooi, soos
Swane wat vir die laaste keer sing

- Herman Lategan

(Bron: LitNet)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.