Katjies van die baan

DONDERDAG MET DEBORAH

Katjies van die baan

DEBORAH STEINMAIR skryf oor die katjies van die tennisbaan.

Image: ANGELA TUCK

EK kyk graag sport en soos wanneer ek lees, is ek ingestel op karakters. Ek moet vierkant aan iemand se kant wees. Tennis is by uitstek ’n sportsoort waar jy mense kan dophou; en nie net die spelers nie. Die fanatiese ma in die pawiljoen, met te veel oogpotlood. Die senuwrak van ’n afrigter wat boonop nou en dan vanaf die baan uitgeskel word. Die popperige kinderbruid wat verveeld lyk. Die arme skeidsregter, wat ook soms uitgevloek word.

En dan die spelers. Met die kamera wat inzoem kan jy tot die mikro-uitdrukkings waarneem. Almal wil deur die skare bemin word, wil as ’n goeie ou beskou word. Behalwe miskien Nick Kyrgios – dit lyk asof hy ’n veer voel. En onder soveel druk kan niemand voorgee nie.

Djokovic, wat onder sekere van my vriende geliefd is, stoot my af. Sy toewyding en dissipline is sekerlik bewonderenswaardig, maar hy kan sy reptielaard nie wegsteek nie. Sy oë flits soos ’n roofdier of likkewaan s’n. Soos die grys hond van die djin. Soms uiter hy ’n rou kreet waartydens hy vir my na ’n eeue oue heks lyk. Selfs sy klein, dunlippige, triomfantelike glimlaggies gril my.

My liefling van alle tye is Rafael Nadal. Hy straal suiwerheid en edelheid uit. Hy word net ooit vir homself kwaad nie, en ook nie spektakelagtig nie. As hy fokus en gevaarlik probeer lyk, lyk hy soos ’n hasie wat konsentreer.

Nou is daar, soos dit maar gaan, ’n spul jongetjies. Een wat vir my na die Klein Prinsie lyk, het opgeskiet tot boontjierank. Hy dra baie goue bling en het al so kwaad geword dat hy die skeidsregter se stellasie met sy raket bygedam het. Geen liefling van my nie.

Die jong Spanjaard wat aandag trek, lyk vir my soos ’n seun wat gesukkel het om houtwerk (die teorie) deur te kom. Sy mond kan maar nie toe bly nie, sy voorkop is laag en sy haarlyn agter in die nek gaan tot by die blaaie. Maar hy lyk na ’n aangename seun en speel opwindende tennis.

Ek is ambivalent oor Stefanos Tsitsipas. Hy het hom al swak gedra, maar hy lyk soos liewe Jesus of soos die lang dogter met haakneus wat op skool gedigte geskryf het omdat sy nooit dates gekry het nie. Sy pa is ’n silwer Griekse vos met veel te sê. Sy ma, vind ek nou die dag uit, is Russies. Sy was ook op die pawiljoen, blond en bleek met ’n rosigheid, rosacea, vermoed ek, op die wange. Sy het die pawiljoen verlaat nadat Tsitsipas op haar geskel het om nie vir hom aanwysings in Russies te gee nie – sy opponent was die Rus Medvedev.

Oor Medvedev is ek ook ambivalent. Hy is ’n geraamte met ’n baardjie wat ’n bietjie na ’n vrou se uitwendige geslagsorgaan lyk, so ’n graspol. Hy het ’n groot voorkop en kieriebene. Hy het, veral vroeër, sy oë gerol soos ’n drama queen en sy span ten hemele gevloek as iets skeefloop. Dit lyk soms asof hy homself in woede middeldeur wil skeur soos Repelsteeltjie. Hy kan hase uit die hoed pluk, maar ek is nie aan sy kant nie.

Nou is daar ’n sakgrootte- Matt Damon met ’n agterstevoor keps waar ’n weerbarstige spriet kuif uitpeul, ’n regte klein testosteroonbom wat die bal baie hard en baie sekuur moker. Hy lyk vir my hiperaktief en saggeaard. Miskien word hy my nuwe speler.

Om aanskoulike tennis te speel, is nie genoeg nie – almal op daardie vlak kan toor met ’n raket. Jy moet my verbeelding aangryp en my laat glo jy het diepte en edelheid. Pot, stel en wedstryd.

Moenie my vra oor vrouetennis nie. Ek kan die gille nie hanteer nie.


o lyf. o liggaam

daar is geen eggo van lied
geen soom van lig
geen nabyste klank of sleutelbeen van sterre
wat jy nie oor die jare na my toe bymekaargemaak het nie

nou, hier in my sewentigste jaar
draai my ore na binne en vind tekens
dat jy besig is om ons te verlaat

in die paar jare wat oor is
moet ons ons vestig in vrede
ons vreugdevol plooi en krimp terwyl ons kyk
lank en eerbiedig soos ’n oudagmens moet kyk
na die brandend ondergaande son

– Antjie Krog

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.