Kopskoonmaak op Corfu

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Kopskoonmaak op Corfu

ANESCA SMITH besoek die groenste van die Griekse eilande om ‘uit te waaien’.

Image: ANGELA TUCK

ONS is op die Griekse eiland Corfu om te rus en bietjie kop skoon te maak. Of “uit te waaien”, soos die Nederlanders sê.

Waarom “uitwaaien” sou ek nie weet nie. As ek met vakansie is, is winderige weer beslis nie my idee van ontspan en my hoof skoon te kry nie. Eerder hoofpyn, ja.

Nietemin, op ons eerste dag reën dit katte en honde – juis die soort weer waaraan ons in Nederland wou ontsnap. Daarna maak die weer gelukkig ’n ommeswaai en kon ek doen waarvoor ek na Griekeland gekom het: om lekker te eet en lang bergwandelings te maak.

Image: ANESCA SMITH

Corfu staan bekend as die groenste van die Griekse eilande. Dit is ongeveer 64 km in lengte en maar 32 km breed met veel berge.

Op ons tweede dag kies ons willekeurig ’n plek op die kaart om te besoek. Dit is ’n klein vissersdorpie op die eiland se noordoostelike kus waar ons dadelik wegspring met ’n lang wandeling in die heuwels wat die strand omsoom.

As jy ’n natuurliefhebber is, sal ek jou aanraai om Griekeland in die lente te besoek – die wilde blomme is dan in bloei en ’n ware lus vir die oog. Sommige toring selfs bo jou hoof uit. Daar loop jy dan, heuwel op en heuwel af, tussen die blomme, skoenlappers en ander insekte. So nou en dan stop ons by ’n verlate strandjie om te swem.

Image: ANESCA SMITH

Ná ’n paar uur keer ons terug na die dorpie om by een van die plaaslike restaurante te eet. Ek bestel murgpampoentjie-blomme gevul met gebakte feta en kruie – een van die restaurant se spesialiteite – en my man geroosterde calamari, eenvoudig in olyfolie en suurlemoen voorgesit.

Om te drink kies ek ’n gemmer-en-koemkwat-drankie wat onmiddellik heimwee gee na my ouers se tuin – in my kinderjare het ons ’n koemkwatboom in ons agtertuin gehad. Ek probeer ook ’n suikervrye pomelo-en-bergamot-bruisdrankie – byna so goed soos die eerste een. ’n Plaaslik gemaakte bier vir my man.

Hierna is dit tyd om huiswaarts te keer. Ek gaan nie doekies omdraai nie: Die slingerende Corfu-bergpaaie is hel. So smal (en by tye vol slaggate) dat dit lyk of hulle vir eenrigtingverkeer gemaak is. Gevolglik hou jy jou hart vas elke keer as daar ’n voertuig van voor kom en julle net-net by mekaar verbyskuur.

Gelukkig maak die asemrowende uitsigte en lowergroen grasvelde langs die weg die senutergende rit die moeite werd.

Image: ANESCA SMITH

Oral word daar ook gebou en getimmer in die afgeleë bergdorpies. Ek het iewers gelees dat talle mense wat in die 1970’s en ’80’s die klein dorpies op Corfu vir die groot Griekse stede verlaat het, nou terugkeer na hulle geboorteplekke om hulle toeristevriendelik te maak.

Jy sou dink met al daardie geld wat die Grieke uit toerisme verdien, sou hulle ten minste die slaggate laat opvul, maar nee meneer.

Groete tot volgende week
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.