Ons het almal daai mense in ons families

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Ons het almal daai mense in ons families

MERCY KANNEMEYER dink niemand is verhewe bo trashy reality TV nie.

Image: ANGELA TUCK

AS ’n mensdom het ons bang geword om vir onsself in die spieël te kyk. Vandaar ons afsku in realiteitsprogramme soos Die Real Housewives van die Wynlande, komedies soos Poena, en Huisgenoot-artikels wat ons ooglede laat spasmas kry van die cringe.

Jy weet waarvan ek praat, man! Mense of karakters wat too close to home is, maak ons bang. Daai een housewife wat so vloek en suggestiewe opmerkings maak, Poena se gly-op-’n-piesangskil-tipe-humor, tannies wat in die koerante oor hulle lewe huil en celebrities wat hopeloos te veel inligting deel. Oor Poena en Huisgenoot wil ek my nie veel uitlaat nie, maar as ’n groot aanhanger van die Housewives-franchises moet ek bieg: Dis vermaaklike televisie.

Wanneer ek my nie in my een guilty pleasure (die lees van Romanzas, [redaksie, herinner my tog dat ek eendag hieroor moet skryf!]) verlekker nie, kyk ek Housewives. En ek het nou al amper almal gekyk! Beverly Hills, Atlanta, New York, Dubai, Durban, Johannesburg, Pretoria en die jongste natuurlik die Wynlande. Die Housewives-franchises is so ver verwyderd van my lewe, en wanneer ek nie lus is om te dink of te voel nie, verkyk ek my aan die duur klere, die juwele, die skoene, die motors, en luister ek al te lekker na die twak wat ’n mens kan praat wanneer jy te veel geld het! Dis lekker om te sien hoe mense met weelde hulle lewe leef. Dis nog lekkerder om die krake in daai weelde te sien en die mure van Jerigo te sien intuimel wanneer die vroue se ware kleure onthul word.

Nou ja toe, dis nie almal se koppie tee nie. Al wat ek net nie kan verstaan nie, is waarom die geween en gekners van tande wanneer sulke shows op die TV kom? Sit jou TV af, of kyk iets anders. Dis so eenvoudig. Sommige kykNET-tannies skop teen die karre oor programme soos die Housewives. En ek weet hoekom. Mense like nie die Wynlande nie, want daai vroue herinner hulle dalk aan hulleself, of ’n familielid wat hulle ken. Ons het almal daai mense in ons families! Die een met die vuil bek, die drama queen wat ’n vloermoer gooi as daar nie wi-fi is nie, die een wat onvanpaste vrae aan die etenstafel vra. En dis oukei! Hulle hou die lewe interessant.

Laat gaan van julle pseudo-intellektualisme wat vir julle laat glo dat julle verhewe bo trashy reality TV is. As ’n kameraspan jóú moet rondvolg en jou lewe dokumenteer, dink daaroor of mense vasgenael gaan sit, en of hulle eerder hulle oë vir jou gaan rol. Dis al van my kant af vir die week.


Noon

The noon, a mystic dog with paws of fire,
Runs through the sky in ecstasy of drouth,
Licking the earth with tongue of golden flame
Set in a burning mouth.

It floods the forest with loud barks of light,
And chases its own shadow on the plains ...
Its Master silently hath set it free
Awhile from silver chains.

At last, towards the cinctured end of day,
It drinks cool draughts from sunset-mellowed rills ...
Then, chained to twilight by the Master’s hand,
It sleeps among the hills.

– Harindranath Chattopadhyaya

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.