’n Kat van saffraan

DONDERDAG MET DEBORAH

’n Kat van saffraan

DEBORAH STEINMAIR skryf oor katte wat soos die gees wandel.

Daar is al veel geskryf oor die liefde van honde. Ek is dit eens dat hondeliefde seker die naaste kom aan die liefde van I Korinthiërs 13, wat geduldig en vriendelik is, nie verwaand nie, wat nie sy eie belang soek en nie boekhou van die kwaad of hom verbly oor onreg nie. Wat alles bedek, glo, hoop en verdra. Jeanne Goosen het altyd gesê die enigste Christene wat sy ken is haar honde.

Maar ek is ook ’n katmens. Jy sien: Soms voel honde se liefde vir my te onvoorwaardelik, te outomaties; dis asof hulle só geprogrammeer is. Altyd vrolik en bly om jou te sien, altyd uitgelate oor aandag. Al wat jy hoef te doen, is om op te daag.

’n Kat laat jou werk. Katte is anders, of miskien gee hulle voor dat hulle anders is. ’n Kat is daardie mens wat net so onseker soos almal van ons is, net so graag bemin wil word, maar te trots is om dit te laat blyk. Wat oorkompenseer vir haar gewaande swakheid met ’n “gaan blaas doppies”-houding. Sien, ek probeer om nie te vloek in ’n dierestorie nie. ’n Kat is trots. As sy berekening verkeerd is en sy sprong misluk, gaan sit hy op die plek rustig en was sy snorbaarde deeglik en ingedagte, asof dit van die begin af sy plan was. Wie wou nou op die tafel land?

Ek het katte lief omdat hulle geensins sfinkse is nie. Katgesigte huisves ’n eindelose spektrum van uitdrukkings: uitpeuloog van verbasing, diep bekommerd, lekker moerig, psigopaties hatig. Jy kan ’n kat verbaas. My gunstelingkatuitdrukking is skreefoog; blykbaar ’n teken van toegeneentheid. As jy jou oë op skrefies trek, gaan die kat wat jou liefhet dieselfde doen.

Ek het êrens gelees dat katte in die wildernis glad nie kommunikeer deur te miaau nie. Dis iets wat hulle in huishoudings aangeleer het en dis glo ’n nabootsing van ’n baba se geluidjies – ’n taal wat hulle ontwikkel het om met mense te kommunikeer. In die wildernis sou dit bloot gevaarlik wees vir katte om te miaau – dit sou die aandag van groter roofdiere trek.

Huiskatte het my simpatie omdat hulle geneig is tot vetsug. Ek ken die pyn. Ek was eenmaal, op ’n plaas, die eienaar of deeltydse versorger van ’n ongekastreerde mannetjieskat, Jim. Hy was groot en gemmerkleurig, vol houding en testosteroon, maer soos ’n windhond. Rondloper met ou letsels en ’n afgeskeurde oor. Wydsbeen soos ’n cowboy. Hy het (soos ongekastreerde mannetjieskatte oral) geleef vir kattermaai. Nagte lank het hy weggebly en soos die gees wat wandel uitgehonger en vol nuwe wonde opgedaag om vir ’n dag lank te slaap. Dit was soos ’n disfunksionele verhouding. Ons het geweet daar is nie salf aan mekaar te smeer nie.

Die huidige kat van my lewe is reggemaak en neig na volrond. Hy is skynbaar gekant teen bloedvergieting. Sy gunstelingposisie is op sy rug, met pootjies in die lug. En op my bors, terwyl hy spin soos ’n trekkertjie. Daardie geluid of vibrasie kan glo bene laat aangroei. Dit sus my soos niks anders nie, behalwe miskien die geruis van die see.  


Die huiskat

Die kat strek hoog op vier strak bene, buig
behaaglik om haar luiperdlies te lek,
rol om en lê fluwelig oopgevlek
dat keel en bors en buik die son kan suig.
Ons noem haar “kat" want sy is sonder siel
en anoniem. Smal skerwe van agaat
staar koud uit die driehoekige gelaat.
Arglistig, vloeibaar, soos 'n blink reptiel
van los en lenig wees versadig: sy
sal nooit - die veearts het haar “reggemaak" -
ekstase en angs van lewe voortbring smaak,
sal, steeds eenselwig, alle teerheid stuit.
Ek hol my hand behoedsaam, smalend sluit
sy haar oë, kronkel by my greep verby.

Elisabeth Eybers, uit Die helder halfjaar

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.