Praat is nie kuur vir honger en vernedering

MAANDAG MET MAX

Praat is nie kuur vir honger en vernedering

Ons kan net ’n kerngesonde samelewing bou waar ons almal in vrede en sonder skuldgevoel kan woon as daar niemand oor is wat nie ’n menswaardige bestaan kan voer nie, sê MAX DU PREEZ.

Image: ANGELA TUCK

EK sit verlede week saam met ’n buitelandse besoeker in die uitsoekrestaurant in Kalkbaai se hawe, reg op die see met ’n blik oor Valsbaai en die berge. Ons eet van die beste viskos wat jy enige plek op aarde kan kry, en ons drink Bolandse wyn wat internasionale fynproewers gaande het. Reg onder ons baljaar twee robbe in die branders; in die verte sien ons ’n walvisstert die water slaan.

“What failed state?” vra my tafelgenoot retories. Hy kan nie glo hy is in Afrika nie.

Gisteroggend bel ’n afgetrede Ierse joernalis my. Ons het mekaar in 1983 in Belfast ontmoet toe ek kortstondig daar gewerk het. Hy het Kaapstad toe gereis om die Verenigde Rugbykampioenskap se eindstryd tussen Munster en die Stormers by te woon, sy eerste besoek aan Afrika.

Munster, sy ou klub, het gewen, maar hy wil nie rugby met my praat nie. Hy is liries oor Kaapstad, “surely the most beautiful city in the world”. Hy kan nie ophou praat oor hoe lekker hy die laaste paar dae hier gekuier het nie. Hy huiwer ’n oomblik, en sê toe: “It’s so First World.”

Ja, plek-plek is Suid-Afrika nie net “First World” nie, maar “upper-class First World”. Groenpunt, Kampsbaai, Stellenbosch en omgewing, Umhlanga, Sandhurst, Sandton, Waterkloof kan meeding met die beste in Europa en Amerika.

Maar cholera.

Daar sal seker in alle gemeenskappe altyd ryker en armer mense wees. Ek is stewig in die middelklas, maar ek het verskeie vriende met baie duur vakansiehuise langs die kus, selfs ’n paar met huise of plase in Frankryk, Portugal en Italië. Waar ek ’n langnaweek in Hermanus as ’n lekker bonus sien, gaan dié ouens en hulle gesinne sommer ’n paar keer per jaar in die Alpe ski, in Florence kuns koop of na die aurora borealis in Ysland kyk.

Dit is meestal erfgeld, trust fund kids, tweede- of derdegeslag-rykdom. Iets wat in swart en bruin Suid-Afrika nie juis bestaan nie. Dis nou #whiteprivilege op sy suiwerste.

Swart en bruin mense wat so nou en dan by my kom werk, bou of iets regmaak, kyk na my soos ek na dié rykgatte kyk, al leef ek vergelykenderwys veel nederiger.

Armoede, werkloosheid en ongelykheid word tereg as Suid-Afrika se grootste uitdagings en gevaarligte gesien.

Ek sou wou sê ons moet eerder van ekstreme armoede praat, waar mense in haglike toestande leef en nie hulle kinders behoorlik kan voed nie. Om alle Suid-Afrikaners in my of jou leeftyd in die middelklas in te bring, is ’n onhaalbare droom, hoewel tog ’n droom wat ons moet nastreef.

Werkloosheid is verskriklik. Dit beteken nie net armoede nie, dit beteken mense se menswaardigheid en selfrespek word ondermyn. Genadiglik het ons sosiale toelaes wat die ergste impak hiervan teëwerk.

Ongelykheid is die moeilikste een om uit te skakel. Dit kan net in een generasie ongedaan gemaak word as jy van dié wat het, vat en dit vir dié wat nie het nie, gee. Ek bedoel iets meer ingrypends as die bestaande progressiewe belastingstelsel waar rykes tot amper die helfte van hulle inkomste aan belasting betaal en die armes niks.

Image: ANGELA TUCK

Ek praat van die konfiskering van eiendom, of ingrypend hoër belastingkoerse vir welvarendes. In elke land waar dit probeer is, het dit katastrofiese gevolge gehad, vir armes en rykes. Álmal buiten die klein politieke elite word dan arm.

Ek wonder of ons nie minder moet kyk na inkomsteverskille en die waarde van eiendom nie, en meer moet fokus op menswaardige lewensomstandighede vir almal.

Ons kan die Umhlangas, Constantias en Sandhursts maar laat begaan, maar ons sal ingrypend iets moet doen sodat alle Suid-Afrikaners in gesonder en veiliger omgewings kan leef en hulle kinders grootmaak.

’n Behoorlike dak oor die kop weg van die vloedvlaktes, elk met minstens ’n ekstra kamer waar ouers, seuns en meisies privaatheid kan hê.

Met skoon, lopende water, spoeltoilette, parke en oop ruimtes, begaanbare paaie sonder strome rioolvuil. En straatligte. En ’n goeie skool en kliniek in die omgewing. Geen vrees vir cholera of disenterie nie.

Gift of the Givers het verlede week ’n seminaar gehou om inligting oor rampbestuur en noodleniging met ander te deel. Imtiaz Sooliman het agterna iets gesê wat my geprikkel het: Hulle wil duisende klone van Gift of the Givers landwyd laat ontstaan.

Daar is baie goeie mense in vele verskillende organisasies wat wonderlike werk in gemeenskappe doen. Daar was die laaste tyd heelwat publisiteit oor verwaarloosde dorpe wat reggeruk word. Lofwaardige werk.

Maar dalk moet dié groepe ’n stappie verder gaan. Pleks van net geboue te verf, strate skoon te maak en parke op te ruim, moet ons meer ambisieus begin raak en help huise en klinieke bou, strate en straatligte in stand hou, oop ruimtes in natuurparke omskep.

As ons hoor van ’n skool wat nog puttoilette het, of van ’n bruggie oor ’n rivier wat weggespoel het, of van ’n kliniek of hospitaal met ’n lekkende dak en sonder ’n kragopwekker, of ’n klomp plakkershuise wat afgebrand het, behoort ’n noodspan helpers binne 24 daar op te daag.

Ja, dit is die staat se taak. Ja, ons betaal klaar oorgenoeg belasting.

Maar ons kan net ’n kerngesonde samelewing bou waar ons almal in vrede en sonder skuldgevoel kan woon as daar niemand oor is wat nie ’n menswaardige bestaan kan voer nie.

Ons moet die regerende party aanhou skaam maak omdat hulle die mense verraai en druk op die regering op al drie vlakke toepas om meer te doen, maar Suid-Afrikaners kan nie meer op die staat staatmaak nie, ten minste nie onder die huidige bewind nie.

Ek ken ’n dosyn of so mense, van hulle nogal prominent, wat tans besig is om versoeningsgesprekke te reël, dialoog te bevorder, gemeenskapsorganisasies onder een sambreel te laat opereer en om ’n anti-ANC-koalisie vir 2024 te bou.

My raad aan hulle is dat die tyd vir praat verby is. Praat vat nie mense se honger en vernedering weg nie.

Ons moet minder praat en meer doen.

Groetnis
Max


Op Paternoster

Die strandloper is baailangs
verstrik deur oewersinne
lê 'n seekastaiing uitgespoel
in 'n nabyskoot krassend
die swart note
van die oestervanger.

– Celesté Fritze

(Uit: Verdeelde stand | Divided Stance)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.