Wat was eerste: die hoender, die eier of die eierstok?

WOENSDAG MET WILLEM

Wat was eerste: die hoender, die eier of die eierstok?

WILLEM KEMPEN is bang vir evangeliese motiveringsbroodjies.

SOMMIGE mense kan jou dinge vertel soos wie hulle kaas geskuif het, watter kleur hulle valskerm moet wees, hoekom die monnik 'n Ferrari gehad het wat hy toe weer verkoop het, wat The Secret van alles is, of watter sewe of nege of 12 eenvoudige reëls of gewoontes die sleutel is tot die bereiking van die beste moontlike weergawe van jouself en die optimale benutting van elke oomblik van jou dag.

Hierdie mense is slank en fiks en gesond en vol geld, en hulle werk en lewe is in onwankelbare harmonie. Hulle is nooit laat vir iets nie, beplan altyd vooruit, stel niemand ooit teleur nie, en word nooit kwaad of geïrriteerd nie. Hulle is altyd doodseker van hulle saak en twyfel oor niks nie.

Ek is nie een van daardie mense nie.

Ek wil onder geen omstandighede behoort aan 'n klub van mense wat elke oggend vyfuur opstaan nie.

Ek sukkel nou al jare om 'n dag of wat af te staan om 'n boek oor tydbestuur te lees.

Ek gaan waarskynlik nooit 10 000 ure haal met die slyp van enige nuttige vaardigheid nie.

Ek sien nie die punt daarvan om selfs net die eerste van 'n duisend happies te vat om 'n olifant te eet nie.

En my instinktiewe reaksie op die tipiese “motiveringspreker" is om te wonder hoe lank dit nog gaan wees voor ons gaan uitvind van die donker geheim wat hy al jare lank wegsteek.

Image: ANGELA TUCK

Hier by ons is die ergste van dié tipes die ouens wat hulle boodskap verpak in 'n soort evangeliese toebroodjie: 'n snytjie rugby bo, 'n snytjie Bybel onder, en 'n lekker dik laag testosteroon in die middel gesmeer.

Soos die knaap wat nou die dag by 'n hoërskool voor die groot derby-dag vir die kinders en hulle ouers vertel het van die twee faktore wat noodsaaklik is vir sukses op die sportveld: Liewe Jesus en knaters.

Ja, in soveel woorde, en kompleet met 'n foto van homself op die skerm wat wys hoe hy 'n lewende leeumannetjie se kroonjuwele in sy hand laat hang. Om te wys watter hoogtes jy kan bereik as al daai dinge bymekaarkom, sien?

(Ek verstaan heeltemal dat mense soms onnosel goed aanvang, maar dan moet daar mos ook 'n beloning wees wat die risiko die moeite werd maak. Ek sien nie enige upside in hierdie geval nie.)

Die knaap se bedenklike oordeel het skynbaar nie die meeste ouers gepla nie, en ook nie sy skaamtelose prediking van 'n tuisvervaardigde Christelik-testikulêre teologie in 'n staatskool in weerwil van die Grondwet nie.

Minstens een estrogeen-ontneemde ouer was trouens later so besiel met die knaap se filosofiese Vyf-Eenheid dat hy sommer opgespring het om mee te doen.

En, die vreemdste ding van alles, die skool se meisiespanne – wat op die beste moes klaarkom met net een van die knaap se voorvereistes vir triomf – het die volgende dag niks beter of swakker gevaar as die spanne wat swaarder in die broek was nie.

Kan dit wees omdat iemand stilletjies vir hulle vertel het van die kritieke rol wat eierstokke in 'n leeuwyfie se meerdere sukses op die jagveld speel?


agte-os

wanne djy sien ek haloep
issie ve exercise offie tryn
is virre hondt of my liewwe
of altwīe
óf
is nag

- Loit Sols, uit Moerstaal

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.