Ek is nie die moer in nie, maar ook nie heeltemal daaruit nie

WOENSDAG MET PWILLEM

Ek is nie die moer in nie, maar ook nie heeltemal daaruit nie

WILLEM KEMPEN vind vreugde in 'n bietjie tinkerty tonk.

EK wonder wat sou Pelham Grenville Wodehouse (1881-1975) gemaak het van die onlangse aankondiging dat nuwe uitgawes van sekere van sy boeke geredigeer is om sensitiewe moderne siele nie te ontstig nie:

“Please be aware that this book was [originally] published in the 1930s, and contains language, themes and characterisations which you may find outdated ... In the present edition, we have sought to edit, minimally, words that we regard as unacceptable to present-day readers.”

My raai is dat Wodehouse se reaksie 'n variasie sou gewees het op wat hy lank gelede oor apologieë te sê gehad het:

“It is a good rule in life never to apologize. The right sort of people do not want apologies, and the wrong sort take a mean advantage of them."

Wodehouse was g'n pleger van groot letterkunde nie. Jy moet hard soek na een of ander groot tema in sy werk, en sy karakters leef in 'n idilliese Victoriaanse rykmanswêreld waar hulle selde te staan kom voor 'n groter uitdaging as om te besluit watter das om na die Drones Club te dra. Tog tel van die beroemdste skrywers van sy eie tyd en vandag nog onder sy bewonderaars, insluitend Evelyn en Auberon Waugh. Laasgenoemde het oor hom gesê: “Wodehouse has been more read than any other English novelist by his fellow novelists."

Die Britse joernalis Nicholas Barber het in 2020 na Wodehouse verwys as “The man who wrote the most perfect sentences ever written". Een van Barber se eie gunsteling-paragrawe is Bertie Wooster aan die woord in Right Ho, Jeeves:

“‘Very good,” I said coldly. ‘In that case, tinkerty tonk.’ And I meant it to sting.”

En dan is daar die wonderlike karakter Psmith, die man wat 'n onuitgespreekte “P" vooraan sy naam gesit het om hom te onderskei van al die ander Smiths (“The ‘P' in his surname is silent, as in pshrimp").

Ons sal dalk nooit weet hoekom Rupert Psmith (wat in latere boeke Ronald Eustace Psmith geword het) uit Eton geskors is nie, maar ons sal Leave It to Psmith onthou vir aanhalings soos dié: 

“Love, Miss Halliday, is a delicate plant. It needs tending, nurturing, assiduous fostering. This cannot be done by throwing the breakfast bacon at a husband's head.”

As die Amerikaanse humoristiese tradisie geword het om 'n grap twee of drie keer te maak om seker te maak almal vang dit, dan was dit Wodehouse se styl om 'n grap net 'n halwe keer te maak. Dan kan jy jouself verbeel dis nét jy wat dit vang, soos in The Code of the Woosters (1938):

“He spoke with a certain what-is-it in his voice, and I could see that, if not actually disgruntled, he was far from being gruntled."

Wodehouse se werk het ook die geniale talente van die Britse akteurs Stephen Fry en Hugh Laurie bymekaargebring vir die TV-reeks Jeeves and Wooster. Een van Laurie se eie gunstelinge kom uit Mr Mulliner Speaking van 1929: “The drowsy stillness of the afternoon was shattered by what sounded to his strained senses like GK Chesterton falling on a sheet of tin.”

In ons eie tyd sou iemand dalk wou beweer dat Wodehouse hier aan body-shaming van die enigsins plomperige Chesterton skuldig sou wees, maar tot dusver lyk dit darem nog of die sensors daai een gaan laat staan.

Chesterton sou in elk geval van beter geweet het as om op 'n apologie aan te dring.


VETMENSIE-VABOND

kyk vir Dik-dou-duine
wat sit tussen dors en klip
op sy doedel diedel dye
is strepies ingestik
dit maak dat hy nou
met nors doedel swye
heeldag op sy dikbek-lip bly sit

Antjie Krog, uit Vetplantfeetjies

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.