Ek? Kan ek maar sê ek kom van oralste?

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Ek? Kan ek maar sê ek kom van oralste?

MERCY KANNEMEYER kom nie net van een plek nie.

LESER. Ek beleef tans ’n totale identiteitskrisis. Verlede Vrydagaand by ’n braai vra ’n ou my waar ek vandaan kom, want my Afrikaans is uitstekend. Vir sommige mense is dit ’n kompliment as jy vir hulle sê hulle praat “mooi Afrikaans”. Nie vir my nie, want wat is “mooi Afrikaans” en “lelike Afrikaans”? Ieder geval. Die ou by die braai het nie soos die tipe gelyk wat belang sou stel in my eksistensiële semi-aktivistiese uitgangspunte oor my uitstekende Afrikaans nie. Hy wou weet waar ek vandaan kom.

Nou waar loop haal ’n mens jou komvandaan? Dit was nog altyd ietwat van ’n ongemaklike vraag wanneer mense wil weet waar ek vandaan kom. As predikantskind het ons baie getrek. Ek was in vyf verskillende laerskole. Ons het al in elf verskillende huise gebly. Ek het al meer taalvariante opgetel as wat daar Covid-variante is, en soms voel ek soos ’n verkleurmannetjie wat ’n reënboog ingesluk het.

Die maklike antwoord op die vraag is Mosselbaai. Dis waar ek gebore is, maar dis nie waar ek grootgeword het nie. My grootword lê versprei tussen Mosselbaai, Maphumulo in KwaZulu-Natal, Bloemfontein, Grassy Park, die sendingdorpie Amalienstein in Kannaland, Port Elizabeth en Stellenbosch.

So, waar kom ek vandaan? Ek wil nou die filosofiese roete volg en vra waar kom enige van ons anyway vandaan? Maar ongelukkig skiet my filosofiekennis tekort om vrae van sulke omvang te beantwoord.

Is dit airy fairy om te sê ek kom van oralste? Oral waar ek al gewoon het, maak deel uit van my vorming. Op Mosselbaai het ek geleer dat ek van die strand hou, en strande bo berge verkies. Ek was te jonk om Maphumulo te onthou. Bloemfontein het my kom wys dat ek regtig nie van die winter hou nie. Amalienstein se sout-van-die-aarde-mense het my van goedhartigheid geleer. Port Elizabeth het my street smart gemaak. Ek moes byvoorbeeld met die skoolbussie by die skool kom, en as ek dié bus gemis het, was dit drie taxis van waar ek gebly het tot by die skool. En Stellenbosch. Ai Stellenbosch. My amper-alma mater.

Stellenbosch het my geleer dat ek ’n stem het, en ja dis 'n cliché, maar daai ding wat mense sê universiteit gee jou meer as net ’n graad – ’n ruggraat ook – is blerrie waar.

Nou is ek in Johannesburg. Ek sal maar sien wat hierdie stad vir my in stoor het.

My naam is Mercy Kannemeyer en ek kom van oral af. Die identiteitskrisis is vir eers verby. Hopelik. 


Die eerste afvallige

op die eerste vrydagaand
was daar ’n moerse office
party in die hemel. niemand
kan meer veel daarvan onthou
nie maar almal weet dat daar tequila
was en dat iemand met iemand
seks gehad het in ’n besemkas

daar is baie kak gepraat
om bakke vol kaaskrulle, die raad-
saal was ’n dansvloer en die CFO
het ’n rep gemoer. die sekretaresse
het doosdronk op ’n tafel uitgepass
en die bure het die cops gebel
om te kla oor die geraas

tot vandag toe wil niemand erken
dat dit hy was wat die knoppie gedruk het
toe god kaalgat en vrot van die drank
op die fotostaatmasjien gaan sit het nie

Lucifer is egter sonder uitbetaling
afgedank

– Bibi Slippers

(Uit: “Fotostaatmasjien"

♦  VWB  ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.