Piet Retief en die slim bruin ou

MAANDAG MET MAX

Piet Retief en die slim bruin ou

MAX DU PREEZ vertel die verhaal van Jan Bantjes.

TOE ek vir ons jongste uitgawe my mening oor wit en swart leierskap gegee het, het my gedagtes gedwaal na die uitsonderlike verhaal van Jan Bantjes.

Vir baie Afrikaners wat in die eerste helfte van die 19de eeu uit die Kaapkolonie na die onbekende binneland getrek het, was onderwys iets skaars. Enigiemand met goeie geleerdheid was gerespekteer.

Jan Gerritze Bantjes was een van diesulkes. Hy was nie net 'n volbloed-Voortrekker nie, hy was ook een van die Groot Trek se mees prominente intellektuele.

Méér as dit: Bantjes was die outeur van een van tradisionele Afrikanerdom se heiligste dokumente: die verdrag tussen die Zoeloe-koning Dingaan en die Voortrekkerleier Piet Retief. Bantjes was een van die Trekkers wat by Bloedrivier geveg het en hy het later die klerk van die Natalse Volksraad geword.

Daar is selfs Groot Trek-historici wat glo dit was Bantjes wat Paul Kruger, later die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek en een van Afrikanerdom se grootste ikone, geleer lees en skryf het. Kruger was toe 'n jong seun wat saam met sy ouers op trek was.

Maar Jan Bantjes was nie 'n wit man nie. Hy was 'n bruin man, 'n afstammeling van slawe aan die Kaap.

Kroonstad, 1975. Die Sarel Cilliers-monument met die Nederduitse Gereformeerde kerk in die agtergrond.
Kroonstad, 1975. Die Sarel Cilliers-monument met die Nederduitse Gereformeerde kerk in die agtergrond.
Image: SAR

Bantjes is op 8 Julie 1817 in die distrik Graaff-Reinet gebore, die derde kind van Bernhard Louis Bantjes en Isabella Johanna Swanepoel. Bernhard se ouma was Hilletje Agnita Jacobs, dogter van twee slawe, Jan Jacobs van de Kaap en Agnietie Pieters van de Kaap.

Bantjes het in 1838 by die Trek aangesluit. Die Voortrekkerdominee Erasmus Smit het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het 'n jong Kleurlingman saam met hom gebring, en omdat laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om 'n passasie te lees en te sing. Hy het my veel genot verskaf: sy naam is Jan Bantjes.”

In latere dokumente en boeke is daar nie weer na Bantjes as 'n “Kleurling” verwys nie, hy word bloot die “sekretaris”, die “skriba” of die “amanuensis” van Trekkerleiers soos Andries Pretorius, Piet Retief, Gerrit Maritz en Piet Uys genoem.

Alf Wannenburgh skryf in sy boek Forgotten Frontiersmen dat Bantjes se skryftalent “sodanig was dat hy in 'n kort tydjie in staat was om homself in hulle [die Trekkers] se oë blank te skryf.” Johannes Meintjies skryf in The Voortrekkers dat Bantjes 'n “belangrike rol as skoolmeester en algemene optekenaar van die toneel sou speel”.

Bantjes het die traktaat tussen Retief en Dingaan opgestel ingevolge waarvan die Zoeloekoning die gebied tussen die Umzimvubu- en Tugelariviere aan Retief oorgedra het. Die dokument, in Engels en in Bantjes se sierlike handskrif, is op 4 Februarie 1838 onderteken.

Twee dae later is Retief en van sy manne na uMgungundlovu om die koning vaarwel te gaan sê. Dingaan het hulle almal laat vermoor. Bantjes, toe sekretaris van Andries Pretorius, het die nuus aan die ander Trekkers oorgedra.

'n Litografie van 'n toneel wat die Slag van Bloedrivier uitbeeld.
'n Litografie van 'n toneel wat die Slag van Bloedrivier uitbeeld.
Image: NLSA

Die heiligste gebeurtenisse in die geskiedenis van Afrikaner-nasionalisme was die gelofte wat op 9 Desember 1838 afgelê is, en die Slag van Bloedrivier (Ncomerivier) ‘n week later waarin sowat 3 000 Zoeloes gesterf het.

Bantjes het 'n belangrike rol in albei dié gebeure gespeel en sy weergawe, wat in die Kaapse joernaal De Zuid-Afrikaan gepubliseer is, is die dokument waarop historici die swaarste steun.

In die jare daarna was Bantjes onder meer klerk van die Volksraad van die Republiek van Natal, 'n prokureur in Pietermaritzburg, 'n skoolhoof in Humansdorp en 'n winkeleienaar in Prins Albert. In 1855 het hy Pretoria toe getrek en is as posmeester van die Transvaalse Republiek aangestel. Daarna was hy onder meer 'n staatsaanklaer en skoolhoof op Lichtenburg en Ventersdorp.

Hy is in 1887 in Potchefstroom oorlede.

Diep spore getrap, dié bruin Voortrekker.

Groetnis

Max


Rhinocerus 1515

In tekstuur dié van ’n skilpad se karapaks, die vel
pantserdik geskub, op die skof die ekstra narwaltand,
’n spits horing op die neus waarmee hy straks alles 
– volgens Plinius ook die grote olifant – van kant

kan maak. Toe die karveel by Porto Venere sink
met sy antieke vrag vasgeboei op die dek, bedoel
vir Rome, was al wat oorleef het Dürer se indruk
van dié dier – veel meer as sien, ’n geval van voel.

- Johan Myburg, uit Narreskip

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.