Die klokke lui, maar die lanings is leeg vanoggend

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die klokke lui, maar die lanings is leeg vanoggend

As die lewe hou, is daar maniere om vertroue te bou en dinge weer te laat werk, skryf PIET CROUCAMP.

Image: ANGELA TUCK

GOEIEMÔRE

Dit is Piet Croucamp hier. Ek staan vandag in vir Anneliese wat die naweek na familiesake moes omsien.

Die NG Kruisgemeente in Melville se kerktoring beier deesdae net kortstondig; met begrafnisse, of sporadies op Saterdae met 'n troue en dan die effe treurige eerste gelui op Sondae. Om die waarheid te sê, eintlik het ek lanklaas God se stem hoor roep na die ylbevolkte Christendom wat nog oor is in die metropolitaanse Melville. 

Sondae in hierdie deel van Johannesburg is byna sonder uitsondering salig, veral in die herfsmaande wanneer die rye plataanbome hulle blare afgooi en alles wat groen was grys-geel word. Alles verlangsaam, selfs die horlosies draal. 

Ek stap in die skemeraand in my woonbuurt toe die boodskap op my foon verskyn, “Marlene het kanker”. Ek stap afgetrokke en lam geskok tot by my huis en gaan lê op my bed in die donker. 'n Boodskap kom deur, saaklik; “Ja, ek het borskanker, hier is die proses en prosedure wat die diagnose sal bestuur”. Ek wonder of sy ooit deur enige iets onkant gevang word. 

Ek het Marlene van Staden, die DA se burgemeester van Modimolle, byna 'n dekade gelede die eerste keer ontmoet. Ons hou kontak, maar praat selde politiek. Sy is 'n plattelander in 'n boeregemeenskap, maar haar visie vir die lewe strek so wyd soos die Heer se genade. “Om die wêreld te verander, is dit die beste as jy by jou huis begin”, sê sy vir my toe ons vir koffie ontmoet in Groenkloof se Café 41. Haar idees is prakties, werkbaar, bestuurbaar en uitvoerbaar. Stop die korrupsie en spandeer die geld waar die behoefte die grootste is. 

In April vanjaar, tydens die DA se nasionale kongres in Johannesburg, stuur sy vir my 'n boodskap; “Is jy hier, kom groet”. Met haar ewige glimlag vertel sy dat sy skoon is van die verderflike kanker en wil meeding om die provinsiale leierskap in haar geliefde Limpopo. Die enigste opsigtelike teenwoordigheid van 'n uitmergelende jaar met opeenvolgende chemo is haar pruik. Nou met terugblik is ek pynlik bewus daarvan dat ons salig onbewus was dat die kanker eintlik alreeds op pad was na die sagte weefsel van haar lewe. 

Ek wil 'n onderhoud met haar doen vir Vrye Weekblad, maar die kongres hou haar besig, ons sal later meer spesifiek moet gesels. In 'n boek wat ek die vorige dag gekoop het, vertel Lawrence Krauss: “Every atom in your body comes from a star that exploded. Stars died so that you could live”. Ek gebruik die skoon agterblad van die boek om notas te maak van Marlene se gedagtes. Sy stuur nie iemand na Phagameng, die township van Modimolle, om die teerstraat se aanduidings te gaan verf sonder om self te gaan kyk dat dit behoorlik gedoen word nie. Saam met gemeenskapsaktviste spandeer sy energie en geld om die sosiale kapitaal van vertroue te wen. 

Hoe kry jy dit reg om in 'n bestendige koalisie met die VF+ en die EFF die ANC uit te hou? “Dit gaan oor vertroue. En, vertroue word in stand gehou met goeie verhoudings. Maar, goeie verhoudings is net standhoudend as jy met integriteit omgaan met mense wat 'n leefwêreld sonder voorregte vererf het”. Jy is die enigste DA-burgemeester wat 'n koalisie met die EFF staande kan hou? “Ek is die burgemeester, maar my verpligting is die leefwêreld van alle gemeenskappe, ook hulle wat nie noodwendig vir my sou stem nie. Hoewel, as jy jou werk doen, raak die party waaraan jy behoort mettertyd onbelangrik”. 

Die EFF kan enige dag op jou uitstap en die ANC toelaat om die munisipaliteit oor te neem? “Die leierskap van die DA se koalisievennote het, soos ek, 'n verantwoordelikheid in die gemeenskappe wat vir hulle gestem het. Die bestendigheid is net standhoudend as ek ook verantwoordelikheid neem vir die verhouding tussen die ander partye se leierskap en die mense wat hulle vertroue in daardie leiers geplaas het. Ek maak 'n punt daarvan om seker te maak die EFF-leier kan op sy eie meriete die voordele van die koalisie wys aan die mense wat vir hom of haar gestem het”. 

En, daardie leiers konformeer tot jou gesag? “Nee, ons werk saam, ek lei net, ek dikteer nie”.

Almal maak aanspraak op haar aandag en sonder 'n groet verdwyn sy tussen die malende menigte. Ek probeer haar sien om vir laas te groet, maar sy is weg. 

Hierdie week laat weet Marlene se vriend en voormalige kollega Johan Abrie, “Die kanker is terug en het versprei na haar brein, Marlene is terminaal”. Ek weet nie hoe om my hartseer te verwoord nie. 'n Familielid van haar laat weet, “Sy sê; ek het gedog ek is gesond en nou sterf ek”. 'n Paar dae later toe die foon lui en ek sien dis Johan, weet ek wat hy wil sê. In sy verskriklike hartseer en trane kry hy met groot moeite die woorde uit, “Piet, sy is dood”. 

Marlene was 'n gelowige en uit eerbied vir haar bid ek dat sy veilig reis en dat die hartseer van haar klein kindertjies en haar man iewers gods genade vind. 

Salige Sondag.

Piet

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.