‘Ek moet weg uit hierdie land’ – maar waarheen?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

‘Ek moet weg uit hierdie land’ – maar waarheen?

Waarom is Nederland so 'n gewilde bestemming vir Suid-Afrikaners wat emigreer, vra ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

GOEIEDAG,

Vorige week kry ek 'n byna desperate teks van ’n neef met wie ek jare nie gepraat het nie. Of ek inligting kan deurstuur oor arbeidsmoontlikhede in Nederland.

“Ek moet weg uit hierdie land,” voeg hy nog laastens toe.

Volgens Statistiek Nederland (CBS) woon daar nou byna 32 000 Suid-Afrikaners in Nederland. Die laaste opname was in 2022. Vyf jaar tevore was dit nog sowat 21 000. Dit maak van Suid-Afrikaners in hierdie periode een van die snelgroeiendste bevolkingsgroepe in Nederland.

Uit Afrika is net Somaliërs meer in absolute getalle as Suid-Afrikaners, maar húlle groei het die afgelope vyf jaar so te sê gestagneer.

Image: ANGELA TUCK

Ek wonder hoe dit vergelyk met die sogenaamde “chicken run” van die vroeë 1990’s – veral 1993 – toe vele wit Afrikaners die land kort voor die eerste demokratiese verkiesing verlaat het. Die CBS se syfers wat ek kon vind begin eers in 2016.

Dit kos waarskynlik nie veel giswerk oor hierdie groep se motivering nie. Dit was nog altyd merendeels wit Suid-Afrikaners wat die land verlaat, maar hulle is beslis nie die enigstes nie. Ek is byvoorbeeld deel van 'n Facebook-groep wat bestaan uit meer as 12 000 Suid-Afrikaners wat reeds in Nederland woon of sterk op pad is hierheen.

In die groep vind jy mense van alle rasse, maar toenemend jong mense of jong gesinne. Misdaad speel 'n groot rol in hul besluit om Suid-Afrika te verlaat, maar ook kommer oor die toekoms en waarheen die land op pad is, sowel as werksgeleenthede.

Ek het 'n hekel aan mense wat Suid-Afrika verlaat en dan alleen maar sleg praat oor die land. Gelukkig is daar vir dié soort praatjies nie veel geduld in die groep nie. Miskien veral omdat baie mense nog familie en vriende daar het.

Image: ANGELA TUCK

Die afgelope twee jaar wat ek hierdie nuusbrief as Suid-Afrikaner in die buiteland vir Vrye Weekblad skryf, het ek probeer om sover moontlik 'n realistiese prentjie te skets van die lewe in Nederland en nie te verval in soetsappige ophemeling van my aangenome land nie.

So ek was bly om te sien dat Suid-Afrikaners in die groep begin om ook ál hoe meer eerlik te wees oor hul lewe in Nederland: dat dit soos ander lande sy eie uitdagings het, byvoorbeeld die swak diens wat jy van huisartse kry (waarskynlik die grootste klagte onder expats in die algemeen en nie net Suid-Afrikaners nie), en hoe moeilik dit is om vriende te maak met Nederlanders self, die gebrek aan ruimte en wonings, die iedere-een-vir-homself-mentaliteit.

En dat dit oukei is om soms hardop te sê hoeveel jy Suid-Afrika en sy mense mis.

Groete tot volgende week
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.