Jy sal nie glo wat kos ’n tow bar deesdae op Alpha Centauri nie

WOENSDAG MET WILLEM

Jy sal nie glo wat kos ’n tow bar deesdae op Alpha Centauri nie

WILLEM KEMPEN oorweeg ’n ambassadeurspos in die buitenste ruimte.

EK oorweeg dit sterk om ’n ambassadeur te word.

Nie een van daai ambassadeurs wat hulle tyd deurbring deur elke aand van die week effens te min te drink saam met die ambassadeurs van ander lande wat ook effens te min drink nie, maar wel ’n ambassadeur vir ons aardlinge se eerste formele kontak met intelligente wesens van elders in die veelal.

Ek het die noodsaak van so ’n posisie besef nadat ek Maandag ’n taamlik dramatiese aanbieding deur Steven Greer van die Center for the Study of Extraterrestrial Intelligence (CSETI) vanuit die Amerikaanse nasionale persklub in Washington DC op YouTube gevolg het. Greer se aanbieding was die hoogtepunt van wat geadverteer is as “An Intensive 2-Day Conference and DC Screening of The Lost Century, Followed By The Disclosure 2.0 National Press Club Event”.

Ek moet bieg ek weet nie wanneer Disclosure 1.0 was en of dit ewe dramaties was nie, maar al die onthullings die laaste jare van die Amerikaanse en ander weermagte se geheime dokumente oor buiteruimtelike besoekers was genoeg om my nuuskierig te maak oor die tweede poging.

In elk geval, Greer se Disclosure 2.0 volg ’n week nadat ene David Grusch, na wie sommige Amerikaanse media as ’n “UFO whistleblower” verwys, glo met nuwe getuienis vorendag gekom het wat bewys dat die Amerikaanse regering al dekades lank weet dat “we are not alone”, en selfs al kontak met intelligente wesens van elders gehad het. Grusch het nou ’n formele fluitjieblaser-klag ingedien omdat hy die slagoffer is van “vergelding” oor inligting wat hy glo aan die inspekteur-generaal van die Amerikaanse inligtingsgemeenskap bekend gemaak het.

Soos Grusch is Greer se eintlike groot missie nie om te onthul dat sulke wesens inderdaad ons planeet besoek nie, maar dat ’n geheimsinnige “black state” (met ’n enorme begroting) binne die Amerikaanse regering bestaan wat alles wat hulle van die onderwerp weet van die Kongres wegsteek (wat onwettig sou wees) en basies maak en breek en steel en lieg en moor soos hulle lus kry om alles dig te hou. Selfs opeenvolgende Amerikaanse presidente sedert Eisenhower het nie geweet van dié superkomplot onder hulle neuse nie.

(Wat ook dalk verklaar waarom geen UFO files in Trump se stort in Mar-a-Lago gevind is nie.)

Maar niks hiervan is so souserig soos al die stories oor die besoekers self nie. Almal van Mussolini tot by die Vatikaan (wat rakke en rakke vol lêers oor die besoekers in die pous se kluis of iewers bewaar) duik iewers op. Ook Suid-Afrika, wat die ET’s se aandag in 1979 getrek het met daai vreemde dubbele ligflits naby die Prins Edward-eilande: Dis nie net die Amerikaners wat vermoed dit was ’n geheime kernbomtoets saam met Israel nie ...

En wat gaan regtig alles aan by die Sanae-basis in Antarktika?

Sommige van die besoekers is glo so bedrewe met die manipulasie van tyd en ruimte dat hulle vaartuie groter aan die binnekant as aan die buitekant is, wat dalk ook verklaar waarom niemand nog ooit ’n UFO met ’n Ventertjie agteraan gerapporteer het nie – te veel bagasie is selfs op intergalaktiese reise nie ’n probleem nie.

(Terloops, baie van ons verkies deesdae die meer inklusiewe term UAP, oftewel Unexplained Anomalous Phenomenon.)

Dis sulke moontlikhede wat my laat dink ek moet ook van Greer se aarde-ambassadeurs word: “To support the work of disclosure and peaceful contact.”

Ek was vir ’n paar oomblikke hoopvol dat dié ambassadeurskap dalk met ’n bo-aardse salaris gepaard gaan, maar helaas moet ’n mens betaal vir die voorreg: Dit kos $5 per maand om ’n Star System-ambassadeur te word, $19 per maand vir Galactic, en $49 per maand vir Cosmic.

Hopelik is daar darem iewers ’n planeet waar ek dié soort uitgawes van inkomstebelasting kan terugeis.


Wenfoto

In die wieg van die aalwynboom
rus die sekelmaan
met gestadigde sluiterspoed
gevries op die einder
mik 'n kaktus sy vredesteken
na die môrester

– Celesté Fritze
(Uit Verdeelde stand | Divided Stance)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.