Te hel met die onverdraagsames

MAANDAG MET MAX

Te hel met die onverdraagsames

MAX DU PREEZ sê ons moet baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames wees.

EK is in Kroonstad gebore en het daar grootgeword. Ek kom uit ’n sosiaal-konserwatiewe, Christelike huis. My ouers was pilare van hulle gemeenskap en kerk.

My sewe broers en susters (darem van twee ma’s) was/is almal suksesvol in hulle beroepslewe. Hulle en hulle kinders is deernisvolle en gebalanseerde mense en nuttige landsburgers. Twee van my broers het dominees geword en my suster het met ’n teoloog getrou en hulle was jare lank sendelinge.

Van ons broers en susters hou van tyd tot tyd saam vakansie en ons is deurentyd op WhatsApp met mekaar in verbinding.

Ek wil nie hiermee met my familie spog nie; ons is eintlik net ’n doodgewone, ordentlike Afrikaanse familie, soos vele ander. Ek sê dit alles bloot ter agtergrond.

In my familie is daar drie gay mense, een wat as nie-binêr identifiseer en een wat transgender is.

Hulle het met “gender-ideologie” of “gender-politiek” hoegenaamd niks te make nie. Dié vyf lede van my familie het nie gekies om só te wees nie en volg geen mode of gier nie; hulle is só gebore. Hulle lewens sou aansienlik minder kompleks gewees het as hulle heteroseksueel of cis was. Hulle is lieflike, dierbare mense wat deur almal in die familie omhels word.

Die verskanste Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet verbied die staat of enigiemand anders om teen enigiemand te diskrimineer op grond van “ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte”.

Dit is betekenisvol dat “geslagtelikheid” (Engels: gender), “geslag” (sex) en “seksuele oriëntasie” afsonderlik genoem word. Ek weet nie of die grondwetskrywers tussen 1994 en 1996 al spesifiek sensitief was vir transgender nie, maar dit word duidelik ook gedek.

Ons Suid-Afrikaners het in my leeftyd ver gevorder om homoseksualiteit as doodgewoon en “normaal” te aanvaar.

Maar nie ver genoeg nie, het ek begin agterkom, veral nou dat ons in Pride Month is.

Ek dink ons behoort baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames te wees.

Ons sal nie duld dat openbare figure, politieke partye of enigiemand anders beledigende of negatiewe opmerkings maak oor mense op grond van hulle ras, kleur, taal, sosiale herkoms of gestremdheid nie.

Maar ons grootste stad, Johannesburg, het ’n burgemeester wat tot ’n party behoort wat openlik en aktivisties homofobies is, Al Jamah-ah.

Die African Christian Democratic Party (ACDP) is meer versigtig in hulle uitsprake, maar bly steeds homofobies.

Toe die kettingwinkel Woolworths onlangs hulle solidariteit met die LGBTQ-gemeenskap uitgespreek het, is veldtogte op tou gesit om hulle te boikot, veral deur wit Afrikaanse groepe.

Ek dink ons behoort baie meer onverdraagsaam met die onverdraagsames te wees.

Toe Kaapstad verlede week ’n voetoorgang in die reënboogkleure verf, was daar ’n veldtog om dit te gaan doodverf.

En nou het die Universiteit van Kaapstad ingestem om ’n lokaal op die kampus beskikbaar te stel vir ’n lesing wat deur prof. Patrick Lumumba van Kenia gelewer gaan word om die EFF se tiende verjaarsdag te vier. Lumumba is ’n uitgesproke homofoob en ondersteuner van Uganda se wet teen homoseksualiteit, wat swaar tronkstrawwe en selfs die doodstraf insluit. Hy verkondig dat homoseksualiteit “onnatuurlik” en “un-African” is.

Die universiteit sê bloot dit is nie by die EFF se program vir die geleentheid betrokke nie.

Julius Malema, wat nie lank gelede nie teen Uganda se wetgewing gaan betoog het, sê dit is sensuur om iemand met ’n ander mening as joune stil te maak. Ja-nee, Julius.

’n Petisie teen Lumumba se optrede wat deur ’n groot getal akademici en studente onderteken is, lui dat die universiteit se toestemming Lumumba se haatspraak kondoneer.

Ek dink dit sal skandalig wees as iemand soos Lumumba die voorreg en erkenning gegun word om op ’n Suid-Afrikaanse kampus ’n lesing te hou. Daar sou ’n helse storm gewees het as iemand wat diskriminasie op van die ander gronde wat in ons handves van regte genoem word, goedpraat, ’n platform gegun word.

Sou UCT iemand soos AfriForum se Ernst Roets of die aartsrassis Dan Roodt daar laat optree?

Lumumba en mense soos hy ignoreer die deeglike navorsing dat homoseksualiteit oor millennia heen in Afrika voorgekom het en aanvaar is. Dit was eers nadat Westerse sendelinge in Afrika daarteen begin preek het dat dit as on-Afrika en onnatuurlik gesien is. Dit gebeur nou weer, veral met transgender.

Daar is oorvloedige navorsing wat wys dat daar oor die eeue heen transgender mense in tradisionele gemeenskappe in Asië, Afrika en Europa was wat as deel van die samelewing aanvaar is.

Die huidige transfobie is hoofsaaklik ’n Amerikaanse uitvoerproduk, waar die kwessie, en dié van LBGTQ in die algemeen, deel van die regses se “kultuuroorlog” en veldtogte teen “wokeness” is. Dit loop hand aan hand met die gewaande stryd teen “critical race theory”, iets wat deur die regse aktivis Christopher Rufo gepopulariseer is en nou deur onder meer die presidensiële kandidaat Ron DeSantis aangehang word.

Ongelukkig het dié Amerikaanse twak nou ook na Suid-Afrika oorgewaai en selfs senior DA-leiers sing in dié koor.

Die transfobe fokus graag op transgender vroue in sport wat ’n fisieke voordeel bo ander vroue het, al is daar net ’n dosyn of wat sulke gevalle wêreldwyd, met ’n wêreldbevolking van 8 biljoen mense. Dit het geen relevansie vir die miljoene transgender mense wat daagliks teen vooroordeel moet veg nie.

Dit is lankal nie meer ’n geldige debat of mense se velkleur hulle gedrag of intelligensie bepaal en of die aarde plat is nie. Ons hoef nie meer “die ander kant van die saak” te hoor nie; ons het dit die laaste eeu genoeg gehoor.

Dieselfde geld LGBTQ+: lesbies, gay, biseksueel, transgender en queer.

Te hel met die onverdraagsames.

Groetnis
Max


versoek

hou net verby
laat die woestyn golwend onder jou gly
laat jou skadu by die eerste oog vashaak
trek romploos saam met my

ignoreer die aanwysers
vergeet die bakens
strek jou arms wyd
trek jou tong terug
sluk jou woorde in ...

laat my toe om jou te bemin

ek wil jou my kloutjiespore wys
waar ek die eerste keer vervel het
waar ek my oudste stert afgeskud het
toe ek nog ’n grondgeitjie was

laat my toe om jou te bemin

kom ruik versigtig aan my nek
kyk hoe die lyne in my palm verskuif
ek hys my vaandel aan die buiteposte
gereed vir jou heuglike aankoms

laat my toe om jou te bemin

– Melt Myburgh

(Bron: oulitnet.co.za)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.