Waar is die onvoorwaardelike liefde?

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Waar is die onvoorwaardelike liefde?

MERCY KANNEMEYER skryf oor mense wat in die bek geruk moet word.

DIT is hoog tyd dat iemand vir Gretha Wiid goed in die bek ruk. Hoe op dees aarde, in die jaar van ons Heer 2023, kom mense nog met hulle homo- en transfobiese gedrag weg?! Onder watter holier-than-thou klip leef mense soos Gretha dat hulle dink hulle is geregtig op hulle ongrondwetlike opinies?

As jy sosiale media oor die afgelope twee weke dopgehou het, sou jy sien dat daar weer heelwat teen die LGBTQIA+-gemeenskap uitgevaar is. Woolworths se Pride-reeks. Die reënboog-sebra-oorgang in Kaapstad. Die EFF wat die homofobiese prof. Patrick Loch Otieno Lumumba as spreker na een van die party se tienjaar-herdenkingsfeesvieringe genooi het.

Aanvanklik het ek net my oë gerol, want die heen-en-weer-gebakleiery op sosiale media is geweldig vervelig. Hiermee sê ek nie ons moet die homo- en transfobe net los nie; ek sê net ek is nie so seker of ons hulle nog enige lugtyd en breintyd moet gee nie. Natuurlik wil ’n mens die goeie stryd stry en die anti-LGBTQIA+-spanne op hulle plek sit, maar ek’s bevrees ons gaan onsself moeg maak. Wat nuuts kan ’n mens nog oor die hele situasie sê? Hoeveel mense moet nog doodgaan voor ons ophou diskrimineer?

Wat my verstand totaal en al te bowe gaan, is hoedat die sogenaamde Christene wat van onvoorwaardelike liefde preek, nie daai einste onvoorwaardelike liefde vir hulle medemens kan wys nie. Hulle is ook die tipe wat die Bybel selektief lees. En hier gee ek nie voor dat ek my Bybel van hoek tot kant, Genesis tot Openbaring, ken nie, maar ek weet darem dat God gesê het jy moet jou medemens liefhê soos jouself. Deur te diskrimineer en vinger te wys na ander se sogenaamde “sonde” is jy nie besig om jou medemens lief te hê soos jouself nie; jy verontagsaam die grootste gebod! Wat my verstand verder te bowe gaan, is hoe sommige Christene maak asof sommige “sonde” groter as ander is. Daai einste mense wat maak asof hulle daar was die dag toe Jesus gekruisig is, kyk verby dinge soos gesinsgeweld, rassisme en ongelykheid. Hulle staar vir hulle blind vas teen gay-wees. Julle is boring. En boonop verkeerd.

Katedraal van St John the Divine in Manhattan vier Pride Month.
Katedraal van St John the Divine in Manhattan vier Pride Month.

Nee o donner. Só sal ons nie kan aangaan nie. Mense soos Gretha Wiid en prof. Lumumba hoort agter tralies. Het iemand hulle al by die Menseregtekommissie gaan aankla? In ’n progressiewe land soos Suid-Afrika moet ons geen, maar géén, verdraagsaamheid aan homo- en transfobe meer wys nie. Ja, ons land het sy kak, maar die Grondwet is daar om die gemarginaliseerdes en kwesbares te beskerm. Ons gaan nie in ’n debat oor die Grondwet en die regstelsel klim nie. Die punt is, daar moet opgetree word teen enigiemand wat in 2023 nog dink hulle gaan wegkom met hulle ongrondwetlike uitsprake omdat hulle vir hulle kwansuis met die volle wapenrusting beklee. Nee. One misstep, and you’re out.


The Weather-Cock Points South

I put your leaves aside,
One by one:
The stiff, broad outer leaves;
The smaller ones,
Pleasant to touch, veined with purple;
The glazed inner leaves.
One by one
I parted you from your leaves,
Until you stood up like a white flower
Swaying slightly in the evening wind.

White flower,
Flower of wax, of jade, of unstreaked agate;
Flower with surfaces of ice,
With shadows faintly crimson.
Where in all the garden is there such a flower?
The stars crowd through the lilac leaves
To look at you.
The low moon brightens you with silver.

The bud is more than the calyx.
There is nothing to equal a white bud,
Of no colour, and of all,
Burnished by moonlight,
Thrust upon by a softly-swinging wind.

– Amy Lowell

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.